Hou op paniek saai oor kinderontvoerings, vra polisie

familie-gesin-broers-susters-hardloop-kinders

Argieffoto. Foto: Priscilla Du Preez/Unsplash.com

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lede van die publiek wat vermoed dat kinders ontvoer is, gevra om dit by die polisie aan te meld voordat hulle ongegronde bewerings op sosiale media deel.

“Hulle het gister ʼn trok met ʼn vraghouer vol kinders op Saldanha gekry,” lui een van die fopberigte op sosiale media oor kinderontvoerings wat gebruikers landwyd op hol jaag. “Die mense het die man (wat die kinders ontvoer het) amper doodgeslaan.”

Die polisie sê vandat soortgelyke inskrywings soos ʼn veldbrand begin versprei het, probeer beamptes vasstel of die voorvalle waarna kwansuis verwys word wel in Suid-Afrika plaasgevind het.

“Tot dusver dui geen bewyse daarop dat dié voorvalle in Suid-Afrika gebeur het nie en ook nie dat dit werklik plaasgevind het nie,” sê brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder. “Teen dié tyd sou ʼn mens verwag het dat ʼn familielid ten minste na vore sou gekom het om dit te bevestig.”

Hy sê die enigste logiese afleiding is dat die bewerings en video’s wat versprei word fopnuus is. “Party van die video’s kan dalk selfs dramatiese voorstellings wees omdat dit só verfilm is dat die plek waar dit gebeur het, nie vasgestel kan word nie.”

Intussen het die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, die departementshoof en die hoofdirekteur van een van die provinsie se onderwysdistrikte Dinsdag beraadslaag met brig. Sonja Harri van die polisiediens se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

Harri het die onderwysdepartement verseker dat die polisie alle ontvoerings en gepoogde ontvoerings as ʼn prioriteit ondersoek. “Ons is nie ingelig oor presies wat die SAPD beplan om die vlaag bewerings oor kinderontvoerings te takel nie,” het Schäfer ná die vergadering gesê.

Sy sê haar departement is daartoe verbind om met die polisiediens saam te werk en hulle te ondersteun deur inligting te deel wat van skole en die direktoraat vir veilige skole ontvang word. “Ons maan gemeenskappe en ouers weer om ekstra waaksaam te wees en die polisie dadelik te nader as hulle enige verdagte optrede gewaar.”

Die polisie vra sosialemediagebruikers moet verantwoordelik optree en inligting nagaan voordat hulle inskrywings, wat tot onnodige paniek kan lei, deel.

Enigeen wat vermoed ʼn kind is ontvoer, kan die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 bel. So nie kan hulle kontak met hul naaste eenheid vir kinderbeskerming en seksuele misdrywe maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

anje ·

Daar mag dalk baie vals nuus daar buite wees maar een ding is waar. Daar IS n groot toename in kinder ontvoering in hierdie land. Ek soek oral in PMB al vir die gespe wat jy vir sekuriteit met n velcro band aan jou en jou kind se arm sit. Orals uitverkoop. Dit wys jou hoe ouers stress.

Vrremde mense ·

Ek stem saam anje, wie gaan ons glo. Die polisie,! nou lag ek te lekker. Pas julle kinders op ,anders kom spyt te laat. Land van haat is waar hulle grootword

Heeltemal gatvol ·

Nou is die vraag, is dit dit fopnuus of is dit weer soos gewoonlik waar die SAPS die laaste is om te weet van die krises en dit probeer toesmeer soos met die plaas aanvalle?

Alta ·

Ja…..en daar word ooknie plaasmoorde gepleeg nie! Iewers slaap iemand lekker vas…

gatiep ·

Wel ek weet elke nuwe jaar in Durban bly klomp kinders agter waarvoor hulle hulle ouers soek.
Al is dit fopnuus verstaan ek nie hoekom die polisie so bekomerd is daaroor nie?
Ek sou dink die moorde in die land sal hulle pla.
Ek vertrou niemand meer nie.

Potlood ·

Miskien met julle ophou vir my se wat ek mag en nie mag oor worry nie. Hoekom doen julle nie eerder julle werk en dit res sal self kom…

GM ·

Kinders word ontvoer, dis realiteite, maar ek raak ook nou al bietjie fed-up vir al die Whatsapp boodskappe waarin almal GISTER met een of ander belangrike persoon gepraat het en almal moet nou spring om foto’s oral af te haal. Wanneer is gister, as daar nie eers ‘n datum by is nie? Dit kan jare terug se boodskappe wees wat nou eers by iemand uitgekom het, en nou weer gesirkuleer word.
Kriminele sal maniere kry om goed te doen, of jy nou ‘n ‘profile’ foto het of nie. Almal loop met selfone rond, meeste RICA hul simkaarte; as daar ‘n lojaliteitsprogram is, dan gee ons inligting uit; as jy aansoek doen vir ‘n bankkaart, dan gee jy inligting uit; as jy jou bankkaart ‘swipe’, gee jy inligting uit; as jy iewers heen ry, met jou selfoon in jou handsak, dan gee jy inligting uit. So elke liewe beweging stel jou en jou kinders bloot. Waar trek mens die lyn?
Ek is nie ‘n voorstander van jou hele lewe deel op sosiale media nie, maar om nou weer van posduiwe gebruik te moet maak in vandag se tyd, gaan nou ook nie werk as jy iewers lê en bloei nie.

Vreemd ·

Vreemd dat SAP skole in Weskus persoonlik gaan waarsku het?

Beth ·

Hulle het gister ‘n kind in Vredenburg probeer ontvoer, gelukkig kon sy los kom en by mense se huis in hardloop.
Polisie het die voorval bevestig.
Pas julle kinders op!

LouE ·

Ek moet die polisie gelyk gee. Ek het persoonlik al ondervind dat mense sulke vals boodskappe uitstuur en dan saai hulle paniek onder die ‘mammas’. As dit jou opinie is dat daar ontvoerings is, moet dan asseblief net nie onbevestigde berigte aanstuur en al die ander mense ontstig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.