‘Hou op spekuleer’, sê minister ná brug op N3 val

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, en verskeie rolspelers Donderdag op die toneel. Foto: Verskaf

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, en verskeie rolspelers het Donderdag die toneel besoek waar ʼn ongebruikte voetgangerbrug Woensdag in die vroeë oggendure op die N3-snelweg ineengestort het.

Die ineenstorting het tot gevolg gehad dat die Geldenhuys-wisselaar en Van Buurenweg naby Germiston die hele dag in albei rigtings vir verkeer gesluit was. Die struktuur is gesloop, die puin is opgeruim en ʼn aanvanklike ondersoek is gedoen. Die pad is Donderdagoggend vroeg weer vir verkeer oopgestel.

Vyf mense, onder wie ʼn sewejarige meisie, is in die voorval beseer. Een kritiek beseerde vrou is per helikopter na die naaste hospitaal geneem.

Maswanganyi het tydens die besoek gesê die regering is verlig dat niemand in die voorval dood is nie. “Namens die regering wil ons die mense wat beserings opgedoen het ʼn spoedige herstel toewens. Deur ons agentskappe sal ons na hulle uitreik en die nodige bystand bied,” het hy gesê.

Maswanganyi het die vinnige optrede en samewerking van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), die Gautengse departement van paaie en vervoer en die Ekurhuleni-metro geprys vir hul hantering van die voorval en dat die puin so vinnig opgeruim is.

Die oorsaak van die ineenstorting is nog nie bekend nie. Maswanganyi het gesê ʼn volledige forensiese ondersoek is van stapel gestuur. “Ons vra ruimte dat die ondersoek toegelaat word om plaas te vind en versoek mense om nie enige oningeligte spekulasie oor die oorsaak te maak nie.”

Van die gerugte wat moontlik tot die ineenstorting gelei het, is ʼn aardskudding of sluipslapers wat gereeld in die holtes van die brug vure gemaak het om warm te bly terwyl hulle daar skuil.

Die brug is in 1978 opgerig en is al geruime tyd nie meer in gebruik nie.

Lees die vorige berigte oor die ineenstorting op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Stadsingeneurs of inspekteurs behoort tog sulke konstruksies gereeld te inspekteur vir gebreke selfs al word dit nie gebruik nie. Paar jaar gelede het die voetgangergedeelte van die brug oor die Mngeni Rivier by die blue Lagoon in Durban ineengestort as gevolg van vandaliste wat staal gestroop het onder ‘n brug op die M4.

RB ·

Brue en duikers word gereëld geinspekteer. Ek vermoed hierdie struktuur het dalk van die inspeksies se radar afgeval, omdat hy nie binne gebruik is nie.

Boetman ·

Stem saam met wicus – geen brue, geen ineenstorting, geen probleem.
Geen wiele, geen ongelukke, geen probleem.

Alida ·

As dit nie gebruik is nie hoekom is dit nie lankal verwyder nie. Seker die ou bedeling se skuld!!!

Mrs.B ·

Ou brug. Daar is seker ‘n rede hoekom die brug nie meer in gebruik was nie. Soos RB gese het, dit het dalk van die radar verdwyn en was nie gereeld na gegaan nie

Basjan ·

Ek hou van die term “sluipslapers” (die ouens wat onder die brug vuurmaak en slaap). Dis nou mos keurige Afrikaans.

BANG JAN SE VROU ·

Die brug is nie na behore onderhou nie en wat was die rede om dit nie totaal weg te neem nie. Die brug by Hoerskool Waterkloof in Pretoria is vroegtydig verwyder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.