Houtbaai: Meer as net ʼn ‘ongerieflike reuk’

Een van die foto's van die Oceana-vismeelfabriek wat op sosiale media gedeel is deur inwoners van Houtbaai (Foto via Fresh Air for Hout Bay)

Een van die foto’s van die Oceana-vismeelfabriek wat op sosiale media gedeel is deur inwoners van Houtbaai (Foto via Fresh Air for Hout Bay)

Inwoners van Houtbaai in Kaapstad het hulself die afgelope twee weke tot sosiale media gewend oor ʼn baie skerp en onwelriekende reuk in die buurt.

Die reuk word toegeskryf aan die waterstofsulfied (H2S) wat deur Oceana se Lucky Star-vismeelfabriek in dié vissersdorpie vrygestel word.

Vanessa Haywood-Sandes, aktrise en inwoner van Houtbaai, het aan Maroela Media gesê die reuk is soms met tye ondraaglik en veroorsaak selfs gesondheidsprobleme.

Haywood-Sandes is swanger met haar en haar man, die bekende ultramarathon-veldloper Ryan Sandes, se eersteling. Sy is in ʼn stadium vir twee dae lank in die hospitaal opgeneem weens dehidrasie as gevolg van die reuk van die vismeelfabriek wat haar swangerskapnaarheid vererger. “Daar is tye wat ek nie eers die huis se vensters of deure kan oopmaak nie,” het sy gesê. “Dit het een aand soos ʼn duisend lyke geruik.” Volgens haar beleef hul bure dieselfde.

Haywood-Sandes is veral bekommerd oor die gesondheid van haar baba. “Die gevolge van waterstofsulfied-vergiftiging tydens swangerskap is ysingwekkend,” het sy gesê.

Houtbaai, Kaapstad (Foto: Falco, Pixabay)

Houtbaai, Kaapstad (Foto: Falco, Pixabay)

Inwoners van Houtbaai is ontstoke oor mediaberigte en ander persone wat hulle daarvan beskuldig dat hulle bloot “gewoond moet raak aan die reuk” of “nie in ʼn vissersdorp moet bly as jy nie van die reuk van vis hou nie”.

“Dis lankal nie net meer ʼn ‘ongerieflike reuk’ nie,” het Haywood-Sandes bygevoeg. “Dis ook nie die reuk van die see of vis nie.”

Meeste inwoners, wat selfs al tot 20 jaar lank in Houtbaai woon, het bevestig dat die reuk nog nooit só erg was soos sedert Januarie vanjaar nie. Verlede week was egter die ergste nog. Inwoners het die Sondagaand, 10 April, selfs wakker geword van die stank.

Maroela Media was self in Houtbaai en kan bevestig dat die reuk met tye ondraaglik is.

Bestuurders van die gewilde Bay Harbour Market moet soms met wierookstokkies deur die gebou loop in ʼn poging om die reuk te verdryf. Van die stalletjie-eienaars het aan Maroela gesê hul motors, wat buite geparkeer staan, ruik ook soos die vismeelfabriek aan die einde van die dag.

Reaksie van die gemeenskap

Intussen het ʼn groep besorgde inwoners ʼn petisie op die been gebring in ʼn poging om die plaaslike regering en Oceana oor te haal om die kwessie aan te roer.

Kiara Worth, ʼn volhoubare ontwikkelingskonsultant en inwoner, is een van die stigters van die webwerf, Fresh Air for Hout Bay. Inwoners en ander belangstellendes word versoek om die petisie te onderteken en beëdigde verklarings af te lê indien inwoners gesondheidsprobleme ontwikkel het weens waterstofsulfiedvergiftiging.

Dit is egter nie net meer Houtbaai se inwoners wat deur die reuk van die Lucky Star-vismeelfabriek geraak word nie. Inwoners van omliggende buurte soos Llandudno, Constantia Nek en selfs Noordhoek het ook hul klagtes op sosiale media gedeel.

Maroela Media kon nie bevestiging van mediese dokters in die gebied bekom dat gesondheidsklagtes wat verband hou met waterstofsulfiedvergiftiging, die afgelope ruk toegeneem het nie. Simptome van waterstofsulfiedvergiftiging sluit in lugwegirritasie, naarheid, hoofpyn, ylhoofdigheid, bewerigheid, konvulsies en vel- en oogirritasie. Blootstelling aan waterstofsulfied oor ʼn lang tydperk kan lei tot longedeem. Honderde Houtbaai-inwoners het die afgelope week op Facebook bevestig dat hulle hierdie simptome onder lede het.

Terugvoer van Oceana

Pamela Manda, woordvoerder van die Oceana-groep, het Maroela Media verwys na ʼn webwerf waar die situasie bespreek word en ʼn lys van veelvoorkomende vrae. “Oceana Group sal nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie,” het sy gesê. “Ons het ʼn webwerf opgestel om die gemeenskap en media by te staan met inligting en vrae oor die onderwerp.”

Dit is egter nie aan Maroela Media duidelik wanneer die lys van veelvoorkomende vrae en antwoorde opgestel is nie.

Terugvoer van stad Kaapstad

Siyabulela Mamkeli, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid van die stad Kaapstad, het aan Maroela Media gesê die stad is bewus van die klagtes wat deur die gemeenskap van Houtbaai geopper is. “Die stad doen alles in ons vermoë, binne die bestaande regulasies,” het Mamkeli gesê. Mamkeli het dit benadruk dat die stad die bekommernis van die inwoners in ʼn baie ernstige lig beskou.

Geen voorgeskrewe beperkings op uitlaatgasse

Volgens Mamkeli voldoen bedrywighede by Oceana aan die bestaande nasionale wetgewing. “Kragtens die Wet op Luggehalte: Nasionale Omgewingsbestuur, moet die minister van omgewingsake die voorskriftelike beperkings op uitlaatgasse bepaal vir die betrokke bedrywighede. Wat betref kategorie 10 wat handel oor verwerkingsfasiliteite van dierlike materiaal, het die minister nie enige beperkings op uitlaatgasse voorgeskryf nie.”

Mamkeli het gesê die stad sal met die Nasionale Luggehaltebeampte in verbinding tree om ʼn wysiging aan te bring dat beperkings voorgeskryf moet word.

Vrystelling van waterstofsulfied

Mamkeli het bevestig vrylating van waterstofsulfied is ʼn algemene byproduk van die vismeelvervaardigingsproses. “Lucky Star het ʼn onafhanklike spesialis aangestel om jaarliks toetse te doen van die waterstofsulfiedvlakke wat deur die aanleg vrygestel word. Die jongste toetse is verlede week gedoen. Die monsters is na ʼn Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (Sanas)-geakkrediteerde laboratorium gestuur vir analise. Ons verwag om binne drie tot vier weke die verslag te ontvang van Lucky Star se bestuur.

Mamkeli het verduidelik die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se luggehalteriglyn vir waterstofsulfied is 150 µg/m3 vir ʼn gemiddelde konsentrasie oor ʼn 24 uur-periode. “Die vlak het ʼn veiligheidsfaktor wat 100 keer laer is as die laagste vlak waar waterstofsulfied ʼn nadelige effek het, naamlik 15 milligram/m3 (i.e. 15 000 mikrogram/m3), wanneer mens se oë geïrriteerd raak.

“Die 24 uur gemiddelde luggehaltekonsentrasies wat op Sondag, 11 April 2016, deur die Wes-Kaapse regering geneem is by die metingstasie wat by Sentinel-skool in Hangberg geleë is, was 15,3 mikrogram, wat laer is as die WGO-gesondheidsriglyn,” het Mamkeli gesê.

Maroela Media het die skool geskakel, maar die skool kon nie bevestig dat enigiemand van die regering daardie Sondag ʼn lesing kom neem het nie. Volgens die skool kontak beamptes hulle gewoonlik en word die lesings tydens skoolure gedoen. Die skool het egter nie self toegang tot die metingsinstrument nie en kan nie bevestig wanneer metings gedoen is nie.

Volgens Haywood-Sandes is die metingstasie by die skool nie ideaal geleë om akkurate lesings te neem nie en voeg by daar moet minstens drie of vier ander metingstasies beskikbaar wees vanwaar lesings geneem kan word om seker te maak dit is akkuraat en volledig. “Daar is ʼn verskeidenheid omgewingsfaktore wat in ag geneem moet word wat die verspreiding van waterstofsulfied bepaal,” het sy verduidelik.

Oceana bevestig op sy webwerf die onaangename reuk is ʼn direkte gevolg van trimethylamien (N(CH₃)₃ en waterstofsulfied. “Dié gasse en ander uitlaatgasse word versamel en in die aanleg se reukonderdrukkingsaanleg behandel. Die gevolglike uitlatings is weglaatbaar klein in konsentrasie en hou nie ʼn gevaar in vir die gesondheid van die gemeenskap nie,” aldus die maatskappy se webwerf. “Interne analise en ʼn onafhanklike analise deur die departement van omgewingsake en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) is die uitlatings nie skadelik vir die omliggende gemeenskap nie, aangesien dit binne die Wêreldgesondheidsorganisasie se voorgestelde vlakke val. Daar is nie voorgestelde regulerende beperkings vir reuke nie, en ongelukkig is mense se reuksintuig hoogs ontwikkeld en uiters sensitief vir onaangename reuke.”

Een van die foto's van die Oceana-vismeelfabriek wat op sosiale media gedeel is deur inwoners van Houtbaai (Foto via Fresh Air for Hout Bay)

Een van die foto’s van die Oceana-vismeelfabriek wat op sosiale media gedeel is deur inwoners van Houtbaai (Foto via Fresh Air for Hout Bay)

Skoorstene blyk foutief te wees

Verskeie inwoners van Houtbaai het foto’s van die fabriek op sosiale media gelaai waar dit blyk dat die uitlaatgasse uit die dak en vensters lek, en nie uit skoorstene nie.

“Ons is bewus van die foto’s,” het Mamkeli verduidelik. “Volgens Lucky Star se bestuur is die uitlaatgasse veroorsaak deur ʼn stoomlekkasie van ʼn stoomlynklep. Die saak is reeds afgehandel. Die stoom word nie as lugbesoedeling beskou nie.”

Nuwe filtrasie-eenheid

Mamkeli het gesê die stad Kaapstad is in gesprek met Lucky Star en die Wes-Kaapse departement van omgewingsake. “Lucky Star het homself daartoe verbind om sy reukfiltrasiestelsel (chemiese gaswasser) op te gradeer en die bestaande eenheid te vervang met ʼn meer doeltreffende, hoëkapasiteitseenheid. Die nodige omsigtigheidsondersoek is reeds gedoen en Lucky Star het toestemming ontvang om met die ontwerp, aanskaffing en installasie van die nuwe eenheid voort te gaan. Die proses sal egter ʼn paar maande lank duur,” het hy verduidelik. “Sodra die nuwe eenheid geïnstalleer is, sal die maatskappy vereis word om weer onafhanklike uitlatingstoetse te doen en dit te vergelyk voor en ná die installasie van die eenheid.

Volgens Oceana se webwerf sal die ontwerp, bestelling en installasie van die nuwe filtrasiestelsel tot ses maande duur. “Die eenheid sal in die laaste kwartaal van 2016 geïnstalleer word,” lui ʼn verklaring op die webwerf.

Terugvoer van die plaaslike regering

Rodney Lentit, DA-LP en voorsitter van die staande komitee oor omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het in ʼn verklaring bevestig die Demokratiese Alliansie is besorg oor die uitdagings wat inwoners van Houtbaai beleef. “Ek sal ʼn skrywe rig aan Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van omgewingsake, om ʼn omgewingsklagteregister op te stel. Só kanaal sal ʼn platform vir inwoners bied waar hulle hul besware kan aanteken, en die staande komitee in staat stel om oorsigtelik op te tree en seker te maak dat die klagtes doeltreffend opgelos word.

“Dit is belangrik om te noem dat die vismeelfabriek in Houtbaai ʼn sleutel werkverskaffingsentiteit is, aangesien dit ʼn aantal inwoners van noodsaaklike werk voorsien.

Maroela Media verneem egter dat die vismeelfabriek slegs ongeveer ses maande van die jaar bedrywig is en dat die werknemers dus slegs seisoenale werkers is. Maroela Media het hieroor navraag gedoen, maar Oceana het dit nie aan Maroela bevestig nie.

Volgens Lentit bepaal artikel 28(1) van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Afval No. 59 van 2008, dat “enige persoon wat beduidende besoedeling veroorsaak of mag veroorsaak, redelike maatreëls in plek moet stel om dié besoedeling te voorkom”. “Die Wes-Kaapse regering het in 2010 ʼn luggehaltebestuursplan van stapel gestuur om die gehalte van die lug in die provinsie te beheer. Dit is ʼn prioriteit dat ons die luggehalte in die provinsie beveilig, aangesien dit ʼn direkte impak op ons gesondheid het. Die DA in die Wes-Kaap beskou dit in ʼn baie ernstige lig en sal verseker dat alle munisipaliteite, op ʼn plaaslike vlak, luggehaltebestuursplanne in plek het om seker te maak dat die luggehalte dwarsoor die provinsie gemonitor word.

“Die DA is daartoe verbind om ʼn gunstige omgewing vir werkskepping te verseker terwyl mense ook die vryheid het om in ʼn gesonde omgewing te leef.”

*Maroela Media vra om verskoning indien voldoende krediet nie vir enige van die foto’s gegee is nie. Dit was nie moontlik om te bepaal wie oorspronklik die foto’s geneem het nie. Kontak ons asseblief by [email protected] – ons bring graag die nodige krediet aan – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tiger ·

Ons weet ten minste presies waar om NIE vakansie te gaan hou in die Weskaap nie!

Jennifer ·

Weer n geval waar die nodige instandhouding nie gedoen is, ons Nylstroom (Modimolle) munisipaliteit laat toe dat die oorvol stortingsterrein gebrand word, met gevolg dat duisende mense ,die giftige rook, die laaste 3 weke moes inasem.

Ike Moriz ·

Baie dankie for a balanced article. I’m one of the 3 founders of Fresh Air For Hout Bay. We now have over 500 members in Hout Bay and are trying to get all parties involved to find solutions. Hout Bay has grown from a sleepy village in the 50s (when the factory was established) to a full grown town-like suburb in 2016. Census is difficult: informal settlement of ca.50000, the valley with ca. 15000 & Hangberg with ca.15000 inhabitants. The factory with its intrusive odors that wake people up in the middle of the night like myself (I live 2.3km away) with headaches, nausea, itchy eyes & sinuses, would never get permission to be built nowadays being 99% a residential area. No impact assessment of the factory emissions has ever been done: a duty neglected by the city of Cape Town who now points fingers at national government to regulate emissions for ALL factories of this kind nationwide. A foolish idea considering that our factory is in a residential area with the nearest schools, churches, medical centers within 150m of its chimney. National limits would work for industrial areas – not for Hout Bay. So, the city needs to act on its own party slogan and “start working for the people” who’s constitutional rights are being violated. Not because of bad intentions by anyone, simply because things have changed around here…

Rupert Ashford ·

Hoekom raak dit nou erger? Die fabriek is mos al jare daar? Of word dit ook ge-BEE bestuur met geen instandhouding meer nie?

Jean B ·

Ek is seker dat almal soek na ‘n oplossing, alhoewel dit nie sommer oornag sal gebeur nie. As die fabriek sy voorbestaan wil verseker, sal hy tog sekerlik wil voldoen aan die neergelegte standaarde en die reukoorlas wil beeindig. Aan die ander kant dat die owerheid geen gronde het om op tree, indien dit probleem nie wetenskaplik bewys kan word nie. Wat vir een persoon ‘n oorlas is, is nie noodwendig vir ‘n ander persoon ‘n probleem nie. Dus die belangrikheid om die oorlas te kan bewys op grond van neergelegte kriteria en standaarde.

Anti-Haas ·

Hierdie tipe ding gebeur in Velddrif/Laaiplek en St Helenabaai nou ook.
Hierdie dorpe is Vissers dorpe en het basies ontstaan en ontwikkel rondom die Visvabrieke.
Nou kom tree al die ryk ou klagatte hier af, want hulle wil nie meer daar bly waar die geweld en misdaad so hoog is nie. Die Visreuk maak hulle naar, maar dis die mense wat eerste daar gebly het en nog steeds werk by die vabriek, want sy oupa en sy pa het ook daar gewerk, wat nou geraak word. Toe jy huis kom koop het, moes jy daaraan gedink het daar gaan stink visreuk wees sekere tye van die jaar. Trek terug waar jy was……. al wat ek kan toevoeg.
Ek is ook ‘n “inkommer” of “oor die brug kommer” soos die Weskus mense praat, maar ek het vrede gemaak met die reuk. Dis hulle plek waar hulle geld verdien uit vis

Louis ·

Anti-Haas, jy kon dit nie beter gestel het nie !!
Houtbaai …….. “Love it or Leave it “

Lisa McCarthy ·

Nobody is complaining about the fish smell from the harbour… It’s the toxic odor pollution from the factory in the middle of a residential area of plus 60000 people that’s a problem. Things have changed. Hout Bay hasn’t been a fishing village anymore for decades. Now the factory has tripled its production. No surprise the residents are freaking out about being awoken at night with headaches and nausea. That factory is no longer acceptable in a Cape Town suburb.. Get with the times!

Stirton ·

ek voel dat die mense bewus is van die stank as hulle daar eiendomme koop. hulle is so ryk en is nie gepla oor die arme mense wat van werk voorsien word in die fabriek nie. n tyd terug wou hulle ook die arm mense van die beste view in houtbay remove om eiendom daar te bou (weereens vir die rykes). mag ons mense dan niks het nie. Nie n werk nie en ook nie eiendom nie. Moet dan eenvoudig nie daar koop nie. Julle het mos genoeg geld. Gaan koop op n ander plek. Julle sal nie sorg vir die 98 werkers se gesinne as daardie fabriek moet toemaak nie.
As jy eiendom naby n airport koop kan jy geraas verwag. dieselfde met n vissersdorp kan jy n stank verwag. ek voel dat die rykes heeldag op hulle website sit omdat hulle niks beter het om te doen nie. Kom ek gee julle almal wat so kla raad —-begin soek ander eiendom op n ander plek asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.