Houwhoek-ongeluk: ‘Hy sou nie sonder haar kon agterbly’

Ben en Riana Wiid. (Foto: Facebook)

Ben en Riana Wiid, die egpaar wat die afgelope naweek ná ʼn ongeluk in die Houwhoekpas in die Wes-Kaap dood is, is as “ongelooflike goeie mense met goeie waardes” beskryf.

Die 61-jarige Ben, ʼn afgetrede apteker, is Saterdag dood nadat hy en die 58-jarige Riana, ʼn  onderwyseres, teen ʼn petroltenkwa op die N2 naby Grabouw gebots het. Riana het in die ongeluk omgekom. Ben het die ongeluk oorleef maar ná die botsing ten aanskoue van die vragmotorbestuurder en omstanders uit die motorwrak geklim en glo vermoedelik uit skok in die vragmotor se vlamme gaan lê.

Hy het daar gesterf.

ʼn Verbyganger wat besig was om ʼn video van die brandende tenkwa te maak, het die gebeure toevallig afgeneem.

Die brandstoftenkwa het na die botsing aan die brand geslaan. (Foto: EMR Private Ambulance)

Ben het oënskynlik reg in die aankomende verkeer se baan ingery en met die vragmotor gebots. Die vragmotorbestuurder het glo vergeefs probeer rem om ʼn botsing te vermy. Die Wiid-egpaar se voertuig het die pad verlaat en teen ʼn steilte afgery waar dit tot stilstand gekom het. Die vragmotor, wat nie in daardie stadium brandstof vervoer het nie, het intussen uitgebrand. Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

ʼn Vriendin van die egpaar wat hulle al jare lank ken, het gesê Ben en Riana het alles saam gedoen.

Die Wiid-egpaar se motor het teen ‘n helling afgery. (Foto: EMR Private Ambulance)

“Hulle was ontsettend naby aan mekaar en ek glo dat Ben nie haar dood sou kon verwerk het as hy alleen moes agterbly nie. Hulle was baie private mense en het alles saam gedoen,” het die vriendin gesê.

“Dit is ʼn tragedie en ons vriende is erg geskok en bitter jammer vir hulle twee dogters en kleinkinders wat hierdie pad moet stap.”

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek en saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.

“Die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek,” het Rwexana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

E het die video snit gesien en is dit skokkend. Almal het probeer keer dat hy in die vlamme inhardloop, maar die hitte was te erg. Innige meegevoel met hul naasbestaandes.

Carina ·

Dit is verskriklik tragies. Ekt die video gekyk en dit het my vreeslik ontstel.

JohanR ·

Al wat ons kan se is dat DIT was ‘n ware groot liefde een mens vir ‘n ander.

Henk ·

Dis tragies ! Maar wat het die man besiel om in die aankomende verkeer se baan te ry ! !

Jaco ·

n Band kan bars, n mens kan aan die slaap raak, mense het selfs al hartaavalle agter die stuurwiel gehad.

Onnie ·

Dit is voorwaar skokkend. Ek wil nie onsensitief wees nie, maar ek het op ‘n ander platform gelees dat die man aspris die kop-aan-kopbotsing veroorsaak het deur oor en weer oor die pad te swenk. Die bestuurder vd trok het probeer om die ongeluk te vermy, maar die man het reguit in hom ingery.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.