Howick-‘rower’ spoedig vasgetrek

Die Howick-waterval. Argieffoto (via wikipedia.org)

Die Howick-waterval. Argieffoto (via wikipedia.org)

ʼn 29-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die voorval Dinsdagoggend by ʼn gewilde toerisme-aantrekkingspunt naby die Howick-waterval in KwaZulu-Natal waar twee vroueparamedici van ER24 aangehou en beroof is.

Maroela Media het Dinsdag berig die voorval het omstreeks 09:50 plaasgevind toe daar nie besoekers of toeriste daar was nie. Paramedici wag gewoonlik in hul voertuie op noodgevalle by dié aantrekkingspunt. Smouse wat aandenkings by stalletjies verkoop, was nog besig om hul ware uit te pak toe ʼn man die vroue in die ambulans genader en met ʼn groot mes aangehou het.

Die man het die vroue, onderskeidelik 27 en 35 jaar oud, gedwing om af te kyk en hul selfone en geld in hul beursies uit te haal. Hy het hulle gedreig en opdrag gegee om hul simkaarte uit die selfone te haal voordat hulle dit aan hom oorhandig het. Hy het met twee Samsung-selfone en R110 kontant gevlug.

Die vroue is na ʼn nabygeleë Mediclinic geneem vir waarneming en traumaberading.

Chitra Bodasing Harduth, woordvoerder van ER24, het Woensdag gesê die inhegtenisneming is in die vroeë oggendure tydens ʼn klopjag by ʼn huis in die Shiyabazali-informele nedersetting gemaak, naby die plek waar die rooftog plaasgevind het.

“Die polisie het ná die rooftog verskeie leidrade opgevolg as deel van hul ondersoek, waarna die klopjag by die verdagte se huis uitgevoer is,” het Bodasing Harduth gesê.

“Die selfone van die slagoffers is in sy besit gevind en hy is in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op die mes waarmee hy die vroue glo gedreig het. Die vroue het hom reeds positief uitgeken.”

Volgens sers. Kunene, woordvoerder van die Howick-polisie, sal verdere ondersoek gedoen word om vas te stel of die verdagte met ander rooftogte in die omgewing verbind kan word.

Die verdagte moet binnekort in die Howick-landdroshof verskyn op aanklag van roof.

ER24 het die polisie bedank vir hul spoedige optrede en die “ekstra myl” wat hulle gestap het om die verdagte aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.