HS Eldoraigne-herrie: ‘Departement moet verduidelik’

Hoërskool Eldoraigne (Foto: Hoërskool Eldoraigne/Facebook)

“Die onderwyshoof skuld al sy werknemers en die hele skoolgemeenskap ʼn verduideliking.”

Só sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), oor die wyse waarop die departement van onderwys die ondersoek na dr. Anton Prinsloo, hoof van die Hoërskool Eldoraigne, hanteer het.

Meer as die helfte van die leerders aan die skool het intussen in ʼn petisie aangedui dat hulle nie ten gunste van Prinsloo se heraanstelling by die skool is nie. Die petisie is verlede week deur Nina Kriel, ʼn gr. 10-leerder aan die skool, begin en 660 uit die 1 319 leerders aan dié skool het aangedui dat hulle nié Prinsloo se terugkeer na die skool ondersteun nie.

Maroela Media het vroeër berig die beheerliggaam van die skool oorweeg dit om ʼn interdik te bekom sodat Prinsloo uit sy pos verwyder kan word en die besluit deur die departement van onderwys om hom in sy pos terug te plaas, hersien kan word.

Prinsloo het Maandag aan Maroela Media gesê dat hy nie op die afgelope week se gebeure kommentaar gaan lewer nie, aangesien die departement van onderwys die saak hanteer. “Ek volstaan dus by hul bevindinge.”

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het vroeër aan Maroela Media gesê die klagtes van boeliery en viktimisering teen Prinsloo dra nie gewig nie, daarom dat hy by die skool teruggeplaas is. Prinsloo is in Mei vanjaar by die distrikskantoor in Gauteng geplaas, terwyl die klagtes ondersoek word.

Deacon sê egter die beheerliggaam se woede en frustrasie oor die swak kommunikasie en wyse waarop die beheerliggaam die proses hanteer het, is te verstane.

“Die beheerliggaam staan in ʼn vertrouensposisie teenoor die skool en moet dus altyd in die beste belang van die skool optree. Indien die beheerliggaam bewus word van omstandighede wat die gehalte van onderrig kan beïnvloed, soos klagtes van wangedrag, moet lede dit ondersoek en stappe doen.

Dr. Anton Prinsloo, hoof van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion. (Foto: Hoërskool Eldoraigne-webblad)

“Die beheerligaam is egter nie die skoolhoof se werkgewer nie en daarom moet die werkgewer, in dié geval die onderwysdepartement, in kennis gestel word, wat die saak dan behoorlik moet ondersoek en terugvoer aan die beheerliggaam gee.

“Die departement het verder ʼn plig om as werkgewer ʼn veilige werkplek vir sy werknemers te skep. So, indien enige klagtes verband hou met teistering, moet hy dadelik optree.”

Deacon sê die beheerliggaam moes ten minste deurlopend op die hoogte van die proses gehou word en die geleentheid gehad het om insette te lewer voordat besluite geneem is.

“Die Skolewet praat immers van ʼn vennootskap tussen die departement en die beheerliggaam, maar dit lyk egter op sigwaarde of dit net lippediens was,” sê Deacon.

Tydens ʼn dringende algemene ouervergadering wat Donderdagaand plaasgevind het, het die beheerliggaam oorweldigende steun van ouers ontvang om met regstappe teen die departement voort te gaan.

Maroela Media het ook verneem uit ʼn aanlyn opname van 1 003 ouers het slegs drie ouers ten gunste van Prinsloo in die pos gestem.

Dit blyk ook uit ʼn verslag dat 155 onderwysers die afgelope vyf jaar by dié skool bedank het, vergeleke met tussen 35 en 42 onderwysers by die twee naburige Afrikaanse skole.

Mabona het nie Maroela Media se navrae oor die moontlike regstappe deur die beheerliggaam beantwoord nie.

Hy het ook nie aangedui of die departement die besluit sal hersien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anthony

Ek sukkel om te verstaan hoe n mens terug gaan na n werksplek as daar soveel teenstand en negatiwiteid a.g.v jou nie. Dis duidleik niemand soek die ou daar nie, hoe aaklig gaan dit wees vir almal, inlsuitend hom, om weer” saam te werk”?

Cherokee

Om op (of in) te dring waar iemand nie welkom is nie, dui myns insiens op ‘n gebrek aan selfrepek.

Elmarie

As hy volstaan by die Departement se bevindinge, hoekom het hy nie gister opgedaag by die skool nie?

Jackie

Dept volg CR se voorbeeld: met stomheid geslaan.

Tanniepetoors

Die 155 onderwysers wat bedank het behoort ook betrek te word en beëdigde verklarings moet van hulle verkry word wat presiese redes vir hul bedankings en oorsig van hul ervarings by die skool en met die skoolhoof uiteengesit. Dit mag dalk boekdele spreek.