HSBC probeer publisering van SA-name keer

HSBC-bank in Maudestraat, Sandton Foto: johannesburgdailyphoto.blogspot.com

HSBC-bank in Maudestraat, Sandton Foto: johannesburgdailyphoto.blogspot.com

Die bankreus HSBC het die Sunday Times glo gedreig en geëis dat inligting oor ryk Suid-Afrikaners wat R23 miljard in geheime bankrekeninge in Switserland het, vernietig moet word.

In ʼn brief wat aan die Sunday Times gestuur is, beweer Cliffe Dekker Hofmeyr, HSBC se regsverteenwoordigers, dat die lys van Suid-Afrikaanse kliënte van “HSBC gesteel is”. Cliffe Dekker Hofmeyr voer aan dit sal ‘n “skending van vertroulikheid” wees om die name te publiseer en het daarop aangedring dat geen besonderhede ooit aan enigiemand bekend gemaak word nie.

Die Sunday Times berig uitvoerende hoofde, sportsterre en sleutelfigure in die wapentransaksie is van die Suid-Afrikaanse kliënte wat rekeninge by die bank in Switserland het.

Die koerant berig dit is nie ʼn misdaad vir Suid-Afrikaners om ʼn Switserse bankrekening te hê nie en dat talle van die individue wat op die lys is en deur die koerant genader is, beweer dat hulle die volle besonderhede van die rekeninge geopenbaar en al die nodige belasting betaal het. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het gesê hy ontleed die inligting.

Die lêers is in 2007 deur Herve Faciani, HSBC se voormalige rekenaarspesialis, gesteel. Faciani het gesê hy is bekommerd oor hoe “banke soos HSBC ‘n stelsel ontwikkel het om hulself ryk te maak ten koste van die samelewing, deur te help met belastingontduiking en geldwassery”. Hy het na Frankryk gevlug en die lêers aan die Franse polisie oorhandig. Die lêers is aan die Franse koerant Le Monde uitgelek en ook aan die Internasionale Konsortium van Ondersoekende Joernaliste wat hierdie week die name bekend gemaak het.

Die Sunday Times het wel Sondag van die Suid-Afrikaners wat geheime bankrekeninge in Switserland het, se name bekend gemaak. Volgens berigte word meer as $100 miljard in HSBC-rekeninge gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.