Huffington Post moet jammer sê ná Tumi-rubriek

HuffPost SA

Huffington Post SA (Foto: Facebook/HuffPost SA)

Die persombudsman het bevind Huffington Post SA moet AfriForum om verskoning vra oor ʼn hoofartikel waarin die feite verwring is.

Huffington Post het op 30 Julie vanjaar ʼn berig getiteld “Tumi Morake: A victim of South Africa’s ‘Bell Pottinger’ – Solidarity and AfriForum thrive on ethnic mobilisation and false narratives. Now they have a popular radio presenter in their sights” op Huffington Post SA gepubliseer. Dit is geskryf deur Pieter du Toit, redakteur van Huffington Post SA.

In dié berig het Du Toit onder meer aangevoer dat AfriForum “subtiele en gepoleerde, maar rassistiese, taktieke gebruik het om hul boodskap oor te dra; AfriForum ʼn boikotaksie teen die restaurantgroep Spur gedryf het en dat AfriForum ʼn veldtog teen die nuwe direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) gedryf het.

Johan Retief, die persombudsman, het bevind die feite is verdraai, aangesien aksies wat glo deur die vakbond Solidariteit uitgevoer is outomaties aan AfriForum toegedig is. “Ek betwis nie dat hierdie instellings saamstem oor baie en waarskynlik die meeste kwessies, dat hulle dieselfde ideologieë het, dat hul lidmaatskap oorvleuel, ensovoorts nie. Hoewel hulle ʼn tweeling, selfs identies of Siamees, mag wees, beteken dit nie hulle is klone van mekaar nie. Wat die een doen of sê, beteken nie noodwendig dat dit namens die ander optree of praat nie.”

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het Du Toit se uitlatings as fopnuus afgemaak. “Die persombudsman het bevind dat Du Toit wél die reg het om sy opinies uit te spreek, maar dat daar nie gronde was om bepaalde feitebewerings aan AfriForum toe te dig nie. Huffington Post SA moet ʼn verskoning aan AfriForum op hulle webwerf publiseer. Die opskrif van die verskoning moet die woorde “apology” of “apologies” en “AfriForum” bevat. AfriForum moet ook die reg gegee word om op Huffington Post SA se bewerings te reageer,” het Roets gesê.

Roets het gesê dat die bevordering van spraakvryheid en persvryheid ʼn kernprioriteit vir AfriForum is. “Dit wil egter voorkom of Du Toit sy rol as joernalis verruil het vir die rol van anti-AfriForum-aktivis. Du Toit het die reg tot sy eie opinies, maar as hy fopnuus publiseer om sy agenda te bevorder is dit ʼn oortreding van die perskode en iets wat met die nodige erns aangepak moet word. Daarom beskou ons die persombudsman se uitspraak as ʼn oorwinning vir mediavryheid.”

Du Toit het in sy verweer aangevoer AfriForum se klag is ʼn misbruik van die proses en ʼn poging om kritiek te onderdruk. Hy het aangevoer Solidariteit en AfriForum is historiese vennote en dat die Solidariteit Beweging ʼn sambreelorganisasie is. Du Toit het aangevoer sy kommentaar was billik, regverdig en op feite gegrond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Loeis ·

Pieter du Toit is nie soseer ‘n anti-Afriforum aktivis nie. Hy is ‘n anti-Afrikaner aktivis, nes sy genoot, Max du Preez, en ‘n paar ander wie saam met hulle werk.

Rooi Jan ·

Miskien is dit te ver gegaan om te sê mense soos Pieter en Max ens het n anti Afrikaner agenda. Maar hulle het beslis n probleem met Afrikaners wat nie wil stilbly en in die hoekie gaan sit nie. Hulle opinie is ons moet bly wees die ANC, EFF, BFLF ens gooi nie al wat n witman is uit die land uit nie. Die boere moet hul grond nou asb stilletjies weg gee (wonder wat hulle sal se as die regering of EFF besluit wit mense moet hul huise en pensioene ook afstaan) Want nie een van die wat so agiteer vir ons moet toegee dink op hierdie stadium hulle sal dalk ook iets moet verniet weggee nie.

Antionette Malan ·

Pieter Du Toit dink hy is oulik. Gelukkig dink ander nie so nie. Baie bly hy is in d bek geruk.

Leon ·

Wat is hulle email adres. Wil hulle so elke 2 de dag herinner om die verskoning te plaas en dat ek graag wil lees hoe se hy “sorry”

Annamarie Olivier ·

Pieter du Toit …….. Hoekom nog die naam gebruik verander dit, hy wil nie ‘n afrikaner wees.
Nogal Pieter shame !

Theresa ·

Ag nee man, mister Peter Dutwaa, los vir Afriforum uit. Duisende mense het na die vrou se ongepoetsde uitlating besluit hul hou nie meer van haar nie. Dis hoe dit is. Sy het haar eie naam met ‘n groot, plat plank geslaan en dit sal nie verander nie. Gelukkig vir haar is daar duisende ander mense wat wel nou aan haar aandag skenk – dis seker maar die behoefte gewees.

Oom Klasie ·

Die libs is n bietjie stadig van begrip.Hulle het nog nie agtergekom dat die wereld besig is om anti lib te draai nie.Hulle gaan nog eendag wil vlug maar hulle gaan nie weet waarheen nie en ons gaan hulle nie ontvang nie.Ons deure gaan vir hulle gesluit wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.