HuffPost by persombudsman verkla

Huffington Post SA (Foto: Facebook/HuffPost SA)

The Huffington Post SA is by die persombudsman verkla in verband met ʼn omstrede meningstuk wat die nuuswebwerf gepubliseer het waarin die skrywer voorstel dat wit mans hul stemreg ontsê word.

Die blog, wat onder ene Shelley Garland se naam gepubliseer is, is intussen van The Huffington Post se webwerf verwyder. Garland is as ʼn onafhanklike skrywer en MA-student by die Universiteit van Kaapstad voorgehou.

In die stuk getiteld “Could it be time to deny white men the franchise?” word daar aangevoer dat wit mans hul stemreg vir 20 tot 30 jaar ontneem moet word ten einde wanbalanse reg te stel.

Die artikel bevat verskeie feitefoute, soos dat wit mense 90% van die land se rykdom besit, dat wit mans 97% van die Johannesburgse Aandelebeurs besit en dat 90% van Amerikaanse bates deur 10% van Amerikaners besit word. Daar word ook gesê dat wit mans te blameer is vir Brexit en pres. Donald Trump se oorwinning.

Die artikel het wyd kritiek ontlok en is later gevolg deur ʼn opvolgartikel waarin Verashni Pillay, die redakteur van The Huffington Post SA, die besluit om die stuk te publiseer verdedig het. Weens die opspraak wat die blog gewek het, is ʼn ondersoek na Garland egter van stapel gestuur waarna bevind is dat dié persoon nie werklik bestaan nie. Die blog is toe verwyder.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag bevestig dat hy The Huffington Post SA en Pillay by die persombudsman aangekla het.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die The Huffington Post en verskeie lede van sy redaksie, wat Pillay insluit, gebruik die nuusblad om ’n ideologiese veldtog te voer. “Nie net het Pillay die besluit om die artikel te publiseer verdedig nie, maar ook die inhoud daarvan,” het Roets gesê.

“Pillay het die artikel as ‘pretty standard feminist theory’ beskryf en daarop gesinspeel dat diegene wat beswaar teen die artikel aanteken dit slegs doen omdat hulle self rassisties of seksisties is. Die onderliggende argument van die artikel word deur Pillay as ‘blindingly obvious to us’ beskryf,” het hy gesê.

Volgens Roets het Sipho Hlongwane, redakteur van blogs by The Huffington Post SA, ook op Twitter gespog oor die aantal besoeke wat The Huffington Post as gevolg van hierdie artikel gekry het en die spot gedryf met mense wat daaroor kla.

“Die internasionale veroordeling van hierdie artikel het nie net groot skade aan die geloofwaardigheid van The Huffington Post SA berokken nie, maar ook The Huffington Post as internasionale platform en die Suid-Afrikaanse pers oor die algemeen,” het hy gesê.

“AfriForum het ’n beroep op die persombudsman gedoen om te verklaar dat die artikel, die publikasie daarvan en spesifiek ook die verdediging daarvan deur The Huffington Post SA as ’n oortreding van The Huffington Post se eie regulasies, die perskode en die Grondwet verklaar word. AfriForum het ook versoek dat The Huffington Post en Pillay om verskoning vra aan wit mans en almal wat aanstoot geneem het deur die beledigende aard van die artikel en Pillay se verdediging daarvan.”

Hy het gesê die artikel is van The Huffington Post se webwerf verwyder vir die uitsluitlike rede dat die identiteit van die outeur nie bevestig kon word nie en Pillay se verdediging van die inhoud van die stuk kan dus as die nuusblad se amptelike standpunt oor die kwessie beskou word.

Media24 het Saterdag in ʼn verklaring gesê hy gaan dringend ondersoek instel na die omstrede blog om te probeer uitpluis hoe die voorval kon gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Eben ·

Dieselfde haatspraak klagtes wat teen ander rassiste ingestel is, moet ook in hierdie geval geld. Mense moet hul werk verloor en beboet word. Daar moet geen selektiewe vervolging wees nie en die saak moet as voorbeeld gebruik word.

Ada ·

Reg so.Kom agter die kap van die byl.Laat hulle onvoorwaardelik omverskoning vra en n reuse boete kry.Volgende keer sal hulle dan twee keer dink.

Verwonderd ·

Hoeveel vrae het ek nou… Waarheen word al hierdie uitsprake gedryf…? Dit kan tog nie sonder meer, sonder rede wees dat elke pro-zuma kader dit sonder oorleg of beraadslaging, bedryf nie? Het zuma ‘n aap in die mou…? Uhuru miskien?

Johann ·

Ag asb MEDIA24! Watse.ondersoek? Dis tog maklik: julle weet presies wie wat wanneer gesê het? Wat moet nou ondersoek word? In die regte wêreld sal die redakteur lankal gepos word?

Antjie ·

Media24 het saam Huff Post die Huff Post SA webwerf begin. Dis dus glad nie so onverwags dat Media24 nou eers met sg ondersoeke probeer walgooi nie. U is duidelik reeds by die beter joernaliste! Veral wat beter objektiwiteit aan betref.

Ek stem egter heelhartig saam dat sulke blatante rassisme onmiddelik deur Huff Post intl effektief hanteer behoort te word, veral Pillay se opinie. Sommer ook die samewerking met Media24. G’n mens behoort deur hulle ook bedreig te voel nie!

MH ·

Het groot skade aan die geloofwaardigheid van die Huffington Post aangerig? Die Huffington Post het lankal nie meer enige geloofwaardigheid nie.

Drikus ·

So, Huffington Post was dit net wit vrouens wat in 1982 vir hervorming gestem het? Die mans was volgens julle nie deel van die oplossing nie? Lekker eensydig.

Wiehan ·

Hou op doom, niks sal met hul gebeur nie want dit is nie “rassisties” as anderskleuregis so iets sê nie, dis mos nie wit mense wat rassisties kan wees

Gerrie ·

Ek voel al lankal hulle behoort hul naam na iets meer toepaslik te verander: Longdrop Post.

chris.l ·

n man wat sy MA graad doen en sulke twak kwyt raak ek dink hy besef nie dat hy onder die selfde generasie val en ok gestraf
moet word

Ange ·

Ja, dit is rassisties en seksisties. Gaan iets daarvan kom? Beslis nie.

Wanneer gaan mense besef dat feminisme nie oor gelykheid gaan nie en dat feminisme is seksisties en dus gaan dit eintlik teen wat die wet se.

Westerse Liberalisme het ons land besmet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.