Huis brand, maar geen brandweer op Delareyville in sig

Ernstige brandskade is Sondag aan Sanet Venter se huis in Delareyville aangerig. (Foto: Verskaf)

Toe Sanet Venter (49), ’n inwoner van Delareyville in Noordwes, se huis Sondag aan die brand slaan, moes die gemeenskap noodgedwonge self inspring om te help aangesien daar al jare geen brandweerdiens op dié dorp is nie.

Die brand, wat weens ’n kragstuwing ontstaan het, word verder toegeskryf aan voortslepende kragtoevoerprobleme op die dorp en swak munisipale instandhouding en -bestuur deur die Tswaing-munisipaliteit.

“Dis nag by ons. Munisipale dienslewering en -bestuur is uiters swak en as dit nie vir die gemeenskap was nie, weet ek nie wat ek sou doen nie,” sê Venter.

Venter sê sy was op hul plaas sowat 20 km buite Delareyville toe sy ʼn oproep ontvang dat haar huis, waarin sy al 18 jaar woon, in vlamme gehul is.

Met haar haar aankoms daar het inwoners van die dorp reeds ingegryp en was hulle besig om die vlamme met alle toerusting tot hul eie beskikking in bedwang te bring.

“Inwoners en boere van die omgewing het met brandblussers en brandkarre gespook om die brand geblus te kry.

“Daar was ook mense wat meubels en elektriese toestelle soos die yskas en wasmasjien na buite gedra het om te red wat hulle kon,” sê Venter.

Die huis se sit- en eetkamer het heeltemal afgebrand en verskeie antieke erfstukke is heeltemal vernietig.

Die kragboks in Sanet Venter se huis. (Foto: Verskaf)

“Die brand het weens ’n kragstuwing by die kragboks ontstaan. Die krag gaan gedurig af en aan en daar is verskeie ander plekke op die dorp wat ook al op dié manier brande ervaar het.”

Volgens Venter het kragpale naby haar huis, die gebou langs die Midas-onderneming, én ’n plaaslike abattoir ook die afgelope week in ligte laaie opgegaan.

Rita van Den Berg (78), wat al 25 jaar op Delareyville woon, sê haar wasmasjien het Saterdag aan die brand geslaan ná nog ’n skielike kragonderbreking.

“Dit was kort nadat ek die wasgoed gewas het. Skielik het ek glas hoor breek en my hond het aan die blaf gegaan.

“Toe sien ek my wasmasjien brand. Ek het ’n brandblusser, maar dis te swaar om op te tel. Ek kon die krag by die muur afsit en toe die vlamme met die tuinslang geblus,” sê Van den Berg.

Dit blyk dat die brand by die motor van haar wasmasjien ontstaan het. Sy sê sy het groot geskrik en dat sy steeds aan skok ly.

Die sit- en eetkamer is in die brand vernietig. (Foto: Verskaf)

“Ons sukkel geweldig met kragtoevoerprobleme. My televisie het ook al gebreek as gevolg daarvan en ek weet van ander inwoners wat gereeld skade opdoen.”

In reaksie hierop het die DA Maandag aangedui dat hy Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA), skriftelik gaan versoek om dringend aandag aan die swak instandhouding van elektrisiteitsinfrastruktuur in die Tswaing-munisipaliteit te gee.

Die DA is ook van mening dat dié munisipaliteit al jare lank rampbestuursregulasies oortree.

“Die DA het die owerhede in die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit lank reeds gewaarsku dat dringende stappe gedoen moet word om te verseker dat alle munisipaliteite onder sy kuratorskap toegang tot ʼn brandweerstasie het, maar dit was vergeefs,” sê Carin Visser, ʼn DA-LP van die Nasionale Raad van Provinsies.

“Die feit dat die provinsiale departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) ingevolge artikel 100(1)(b) onder administrasie is, het geen positiewe uitwerking gehad op dienste wat deur munisipaliteite soos Tswaing, wat swak presteer, gelewer word nie.”

Volgens Visser het die Tswaing-munisipaliteit sedert die aanvang van dié ingryping in 2018 geen pogings aangewend om die elektriese infrastruktuur te herstel en in stand te hou nie, wat gelei het tot die onbetroubare kragtoevoer wat inwoners daagliks moet verduur.

“Die konstante oneweredige kragstuwings beskadig verbruikers se elektriese toestelle en het uiteindelik tot die brand gelei wat Venter se huis vernietig het.

“Die DA beklemtoon weer dat die gebrek aan kwaliteit kragvoorsiening deur munisipaliteite aan betalende verbruikers ʼn skending van hul grondwetlike regte is en dat dit as ʼn misdaad bestempel moet word.”

Die DA sê hy sal verdere verwikkelinge dophou om te verseker dat die munisipaliteit sy pligte teenoor inwoners nakom.

Die munisipaliteit het nog nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kokerboom ·

Politieke partye is net wind en geen of min resultate! Die nasionale sport is praat en nonmaals praat met hul hande in die sakke…soms van die belastingbetaler. Voor die ANC pandemie die land oorgeneem het was dorpe soos Delareyville en meeste ander vooruitstrewende dorpe met gesonde bestuur. Ry jy vandag deur die dorp laat sak ek my kop in skaamte. Dinge gaan NET gebeur as belastingbetalers self beheer neem en ruggraat toon.

Racheltjie Debeer ·

Ag, Asseblief! Wat gaan ou Kopdoek doen? Sy worry net oor eie sak. Sal niks van kom nie.

Nie Verbaas ·

Alles te danke aan onbevoegde en hopelose ANC. Ek laat sak my kop in skaamte. Ek het in my lewe nie gedink dat iemand so skaamteloos onbevoeg kan wees nie.

Misky ·

Nie seker watse terugvoer julle van die owerhede verwag nie, want hulle sal dit net weer “veroordeel” en dit sal die einde daarvan wees

Belinda ·

Sterkte, daar gaan niks daarvan af kom nie… julle bly op plase wat d regering soek, en hulle sal seker alles in hul mag doen om mense van hul plase te jaag/ af te sit sodat hul dit kan KRY – nie koop nie, kry. Hopelik hou die koerant ons op hoogte omtrend die saak vd munisipale dienslewering wat ou Zuma moet uitsort…

Eugene ·

Jammer dat die ly wat nie vir die korrupsie span gedtem het nie

Di ·

Tussen die patetiese Eskom, die korrupte regering en slegte munisipaliteite gaan daar niks oorbly in hierdie land

anniekiewiet ·

Drie weke gelede het n huis op Ventersburg omtrent heeltemal afgebrand. ‘n Paar jaar gelede is daar ‘n nuwe brandweerstasie @ R14miljoen gebou, sonder enige brandweerwa of toerusting. Soveel, nil, zero hulp van munisipaliteit se kant af vir enige brand. Inwoners en Boere is nou self besig om toerusting op te bou vir hul dorp se veiligheid.

Blikkies ·

Jammer om te se maar die DA praat net. Hulle is bewus die rampbestuursregulasies word al vir Jare oortree maar het niks gedoen nie. Die DA het die betrokke Distriks Munisipaliteit al lankal gewaarsku om dringende stappe te doen, maar het niks gedoen nie. Nou, na al die tydsverloop wil die DA slegs vir Dlamini-Zuma skriftelik versoek om aandag te gee?…..Let wel, Versoek, soos in mooi vra in ‘n briefie?……….Almal weet Dlamini-Zuma gaan haar nie steur aan enige versoek nie, maak nie saak hoe jy dit versuiker nie, al stuur hulle haar ‘n dreig brief, sy vee haar af. Kan die DA nou ASB vir ‘n slag ophou praat en iets doen aan die saak! Die DA wil graag he ons moet vir hulle stem? wys ons hoekom?

Eltan ·

Ek kon dit self nie beter gese het nie…dalk moet almal maar net ophou om al hul erf belastings ens te betaal…en dit in n ngo rekening inbetaal wat bestuur word deur die wat daartoe bydrae en maar self aan die werk spring..sny die mislike-paliteite uit…ons sal self rekom…

Johanna ·

Hoekom moet ons hulle onkundigheid langer verduur en boonop daarvoor betaal. Hierdie mense het geen skills om hierdie land te regeer en op te bou nie. Die counselors weet niks van niks af nie. Dis n skande man!!!

Baardman ·

Hoekom doen die DA nie self iets nie. Ook maar net so onbevoeg soos die ANC

Elinette ·

Om skade te verhoed aan jou elektriese toestelle is dit maar beter om die krag af te sit by die “main switch”. Ek doen maar dit tot ek sien die krag is darem so paar minute aan en skakel dan maar weer die krag by die “boks” aan. Maar dan woon ek in die Wes-Kaap en het ons ‘n munisipaliteit wat weet hoe om dinge op die regte manier te doen, bygesê.

Keelvol ·

Al wat die da doen is antwoorde demand en die situasie dophou. Verder doen hulle niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.