Huis Davidtsz: ‘Bejaardes bly die eerste prioriteit’

huis-davidtsz-2018-03

‘n Personeelstaking het dienste aan bejaardes en verswakte volwassenes by Huis Davidtsz in Augustus verlede jaar ook lamgelê. Foto: Verskaf.

Die inwoners van Huis Davidtsz is tans versorg, kry genoegsame kos en die tehuis is skoon.

Só sê Cas Weber, ʼn direksielid van die Deo Gloria-maatskappy, waaraan die tehuis vir bejaardes en verswakte volwassenes in Pretoria behoort.

Dit volg na dié tehuis verlede week onder die soveelste personeelstaking gebuk gegaan het. Independent Online het verlede Woensdag berig dat verswakte en bejaarde inwoners self die rol van verpleegkundiges oorgeneem het terwyl ander skottelgoed en vloere gewas het.

“Dit gaan nou weer goed en die plek is in ʼn goeie toestand. Al ons werkers is nog nie terug nie, maar hier is tans genoeg vrywilligers wat verseker dat daar na die inwoners omgesien word. Die inwoners is en bly ons eerste prioriteit,” het Weber gesê.

Hy het aan Maroela Media bevestig dat die tehuis se raad en bestuur Dinsdagmiddag in ʼn vyf uur lange vergadering met verteenwoordigers van die Gautengse departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling was. Die vergadering was glo om ʼn pad vorentoe vir Huis Davidtsz te beplan.

Weber wou egter nie uitbrei op die uitkoms van die vergadering nie.

“Ons en die twee departemente sal Vrydag ʼn amptelike mediaverklaring hieroor uitreik. Ek kan wel bevestig dat al die partye tans alles in hulle vermoë doen om die gesondheid van elke inwoner te verseker. Verder het ons leraars gevra om by elke inwoner besoek af te lê en hulle geestelike gesondheid na te gaan.”

Hy het gesê die inwoners se veiligheid en gesondheid is die belangrikste terwyl die belange van die tehuis se werknemers tweede op die raad se prioriteitslys is.

Weber het bevestig dat die werknemers se klagtes oor hulle bydraes tot die werkloosheidsversekering- en pensioenfondse, asook dienskontrakte gehanteer is.

Hy sê die tehuis se werkers is deur die EFF vir eie politieke gewin geïnfiltreer en dit is onder dié party se leiding dat die werkers telkens staak en ander werkers en personeel toegang tot die perseel weier deur die hekke te sluit.

Vrywilligers van Helpende Hand ondersteun die inwoners van Huis Davidtsz tydens ‘n staking verlede jaar by die tehuis. (Foto: Helpende Hand)

Helpende Hand help weer by Huis Davidtsz

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het gesê die organisasie het die week ʼn agentskap gehuur om sekere dienste by die tehuis te lewer.

Skoonmakers, versorgers en kombuispersoneel van ProCare help sedert Maandag by Huis Davidtsz uit om te verseker dat noodsaaklike dienste aan die inwoners gelewer word.

Dit volg nadat Helpende Hand hom aanvanklik aan Huis Davidtsz onttrek het omdat die organisasie gevoel het die raad van die Deo Gloria-maatskappy moet daadwerklik iets begin doen om hulle eie huis in orde te kry.

“Ons het gevoel ons kan nie elke keer inkom om die kastaiings uit die vuur te krap nie. Ná verlede week se staking het ons wel die raad gevra om Helpende Hand ʼn brief te gee wat vrywilligers toestemming gee om die perseel te betree. Dié brief het ons tot vandag toe nie ontvang nie, maar ons het besluit om ʼn agentskap te betrek aangesien die bejaardes se versorging al hoe dringender geraak het. Die bestuur het ons wel toestemming gegee om uit te help.”

Noëth het gesê hulle is bekommerd omdat dit lyk of die raad nie die nodige erns het met die situasie by Huis Davidtsz nie. Hy meen hulle is die enigste mense wat werklik mag het om die personeelsituasie op te los, maar neem net nie die mag op nie.

“Helpende Hand het druk van die publiek ontvang om die Deo Gloria-raad se hantering van die voorvalle en die stakende werknemers van Huis Davidtsz te ondersoek. Ons het regsadvies ontvang wat ons aanmoedig om op te tree teen die SAPD se versuim om die hofinterdik uit te voer wat verlede jaar teen die stakende werknemers gekry is,” het hy bygevoeg.

Op ʼn vraag oor bewerings van politieke inmengery by Huis Davidtsz en talle ander tehuise het Noëth gesê dit is iets waaroor Helpende Hand bekommerd is.

“Ons maatskaplike werkers ondersoek tans ʼn tendens waar politieke partye werknemers van ouetehuise beïnvloed. Onder hierdie inmenging dring werkers aan om in die raad van die tehuis te dien. As hulle in die onderskeie rade opgeneem word, vra hulle vir die finansiële state van die tehuis en dan word dit ʼn geldspeletjie. Die rade en bestuur moet eenvoudig geen politieke inmenging duld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wiehan ·

Een ding wat ek nie kan verstaan nie, Heplende Hand het elke keer geld om uit te help maar hoekom skuif hul Nie die tehuis na Orania toe nie. Daar is ‘n suster + kliniek asook ‘n dokter en apteker. Te minste sal die verpleërs en skoonmakers daar nie staak en afbreek Nie.

Hannes noeth ·

Hallo Wiehan, goeie punt, ons kan dit weier vat en sê ons moet almal spoedig besef privatisering van oue te huise raak n noodsaaklikheid, sluit kinderhuise en gestremde huise in. Ons moet roer daarmee tyd is min.

Elsa ·

Kry blankes om die werk te kom doen. Daar is baie wat graag sal werk vir n geldjie.

Fire hulle ·

Fire hulle wat so alewig staak en gee die werk vir mense wat dit nodig het.

Ben ·

Dit is wat Ek ook se…..solank hulle toegelaat word om te staak, sal die stakings nooit end kry nie. Fire hulle almal en gee die werk vir die wat rerig wil werk. Veral in ons ouetehuise. Dit is net daar en in ons hospitale waar alles seepglad behoort te loop!

Natascha ·

Raak ontslae van die wat staak, hul sal dit net weer en weer doen. Nee magtig man, wees dankbaar jy het n werk, ons kry al die afgelope 5 jaar geen verhoging. maar ons is dankbaar ons het darem n inkomste. Werk is skaars.
Hou wat jy het, pas dit op en wees dankbaar jy kan nog kos op die tafel sit, al moet jy van sommige goed afsien.

Nelia van Zyl ·

Ek ken baie pensioenarisse, fiks en gesond, wat so ‘n werk met beide hande sal aangryp. Spreek die woord!

Mariana ·

En oral waar mens jou draai is die verdomde EFF ook. Neem niks en niemand in ag nie. Soveel mense sonder week en steeds kry die stakendes die voordeel. Staak en jy kry wat jy wil he, intussen hoef jy nie om te gee vir daardie mense wat versorging nodig het nie. Ander sal en kan jou werk verniet doen. Geen trots meer nie.

Pensioenaris ·

Raak ontslae van die EFF dan sal dit n bietjie beter gaan in ons land. hulle stook almal op.
AS jy lees daar is iewers probleme duik hulle naam altyd op.

Barend ·

Die regering sal die optrede van die EFF onder die loep moet neem en waar nodig optree voordat dit te laat is!

Ronel ·

Ek wonder nou wil die Regering nie die gebou as goedkoop behuising gebruik nie daarom is daar die baie stakings om die oumensies daar weg te kry en dan kan dit soos die res van Sunnyide in verval oorgaan en dan kan die mense sommer net daar in trek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.