Huis Davidtsz: ‘Dit mag nie weer gebeur’

huis-davidtsz-lur-besoek-2018-08-06-01

Die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nandi Mayathula-Khoza, het die tehuis self besoek en onderneem om te verseker werksaamhede word nie weer deur arbeidsgeskille ontwrig nie. Foto: Verskaf.

Nadat Huis Davidtsz, ʼn sorgsentrum vir bejaardes en verswakte volwassenes in die Pretoriase middestad, die afgelope week in die soeklig was weens ʼn ontwrigtende staking, het sake daar nou grootliks teruggekeer na normaal.

Maar dit eers ná ʼn dringende hofbevel deur Solidariteit Helpende Hand én persoonlike ingryping deur Gauteng se LUR vir maatskaplike ontwikkeling.

Werkers by Huis Davidtsz het verlede week vir die tweede keer vanjaar begin staak en alles behalwe die mees basiese versorging is van inwoners weerhou. Slegs ʼn handvol susters en verpleegsters is toegelaat om die nagenoeg 150 inwoners te probeer versorg. ʼn Herrie het losgebars nadat inwoners grootliks aan hul eie genade oorgelaat is.

Ontstelde familielede van inwoners daar het die situasie aan die groot klok gehang, nadat stakende werkers sommige van hulle verhinder het om hul geliefdes in die sentrum te besoek of hulle daaruit te neem.

Helpende Hand het verlede week ʼn dringende hooggeregshofbevel verkry wat hom toestemming gegee het om die gebou binne te gaan, maar het selfs met ʼn polisieteenwoordigheid by die tehuis gesukkel om die bevel te laat afdwing.

Ten spyte van sommige werkers se teenstand en dreigemente deur lede van die EFF, is maatskaplike werkers en vrywilligers Vrydag uiteindelik toegelaat om met die versorging van bejaardes te begin help.

Nie weer nie

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê hoewel die situasie by Huis Davidtsz nou weer rustig is, dit hom steeds bekommer dat die werkers dit nietemin reggekry het om bykans drie dae lank die meerderheid werksaamhede by die tehuis tot stilstand te dwing.

“Ek het ʼn geweldige gewetenstryd met die werkers wat gesê het ‘Jammer, ons kan nie nou help nie, ons staak’. Ek het ʼn gewetenswroeging. Jy kan mos staak en jou punt maak en nie die oumense die wapen maak van jou slag nie. Dit mag nie weer gebeur nie,” het Noëth gesê.

Hy sê die groot probleme wat verlede week se krisis veroorsaak het – gesindheid en inmenging – is tot dusver nie behoorlik vasgevat nie.

Noëth sê die meeste ander ouetehuise het minstens ʼn Plan B vir wanneer ʼn krisis soos dié tref, maar Huis Davidtsz se ligging beteken daar is nie juis meer ʼn gemeenskap oor om hulle te ondersteun nie. Hy sê dit maak inwoners geografies baie geïsoleerd en dat hulle daarom makliker politieke slagoffers kan word.

Sentrumbestuur het bewyse van voldoening

Werkers het begin staak weens verskeie arbeidskwessies, waaronder ontevredenheid met salarisse, beweerde probleme met hul registrasie by die departement van arbeid en die hantering van hul pensioengeld.

Maar in ʼn brief aan Maroela Media sê Leonora Strydom, bestuurder van Huis Davidtsz, sogenaamde arbeidsgeskille word gebruik as ʼn dekmantel vir politieke gewin en publisiteit vir die EFF. Strydom sê ten spyte van bewyse tot die teendeel, hou sommige werkers en EFF-verteenwoordigers vol met hardnekkige bewerings van wanpraktyke by die sentrum.

Strydom sê sy pleit al sedert April vanjaar op verskeie plekke om hulp om veral die EFF se inmenging en intimidasie by die tehuis stop te sit. Dít ná die eerste staking in Maart vanjaar bedrywighede by Huis Davidtsz ook lamgelê het.

In ʼn gedetailleerde dokument antwoord Strydom breedvoerig op werkers se bewerings. Sy sê, onder meer, daar is bewyse dat elke werker by die departement van arbeid geregistreer is, en dat die sentrum se klokkaartstelsel bewerings weerlê dat werkers onwettig lang ure werk.

Strydom sê alle werkers word minstens die minimumloon betaal. Sy sê die EFF en sommige werkers se bewerings dat hulle nie werkkontrakte het nie, is louter onsin. Strydom sê ʼn personeellêer word vir elke werker bygehou. In sommige gevalle was die dokumente oud en is daar ooreengekom dat nuwe kontrakte vir werkers opgestel sal word. Strydom sê dis gedoen ingevolge die departement van arbeid se riglyne en is selfs aan die EFF beskikbaar gestel om te bekyk.

In ʼn brief wat Strydom in April vanjaar aan die departement van maatskaplike ontwikkeling gestuur het, spreek sy ook haar kommer uit oor die EFF se beweerde inmenging, intimidasie, aanhitsing en aanranding by Huis Davidtsz. Sy sê tóé al dat dit “onmoontlik is om behoorlike diens en sorg te verskaf en dat ons nie die veiligheid van inwoners kan waarborg nie”.

LUR gryp persoonlik in

Die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nandi Mayathula-Khoza, het die tehuis Maandag self besoek en onderneem om te verseker werksaamhede word nie weer deur arbeidsgeskille ontwrig nie.

Sy het gevra vir ʼn volledige verslag oor alle knelpunte by Huis Davidtsz, sodat ʼn langtermynoplossing gevind kan word. Mayathula-Khoza het werkers se gebruik van geweld en intimidasie ten sterkste veroordeel en sê werkers moet beter maniere vind om hulle geskille te besleg.

“Kom ons veg vir ons regte op ʼn waardige manier, met wedersydse respek en met die minimum ontwrigting van dienste aan diegene wat heeltemal daarop aangewese is. Kom ons praat oor kwessies sonder om mekaar te beskuldig,” het Mayathula-Khoza gesê.

Sy sê die regering sal nie huiwer om wetteloosheid tydens betogings te bekamp nie.

“As die voog van ouer mense, is ons hier om te verseker níks bedreig die gesondheid van senior burgers nie of veroorsaak onnodige trauma wat hul kwesbare gesondheid bedreig of neerkom op mishandeling, of ʼn skending van hul menseregte nie. Dit sal ʼn hartseer dag wees as ʼn ouer persoon sterf weens trauma wat vererger is omdat sorg, steun of medikasie weerhou is,” het sy gesê.

Noëth sê die LUR se ingryping gaan help verseker dat die werkgewer én werknemers se stemme gehoor gaan word en dat moontlike bestuursprobleme aandag gaan kry.

Bewerings van rassisme

Tydens die LUR se besoek Maandag is bewerings van rassisme teen die sorgsentrum se raad weer gemaak, iets wat sy onderneem het om ook te bekyk.

“Ek sal ʼn diepte-ondersoek instel oor alle kwessies wat geopper is, veral die ernstige bewerings van rassisme, nepotisme en onregverdige arbeidspraktyke,” het Mayathula-Khoza gesê.

Noëth sê ook Helpende Hand is daarvan beskuldig dat hy net wit inwoners wou help. Hy sê egter maatskaplike werkers van die organisasie het élke tehuisinwoner in sy of haar kamer besoek om te verseker hulle is goed versorg.

“Daar was geen politieke kleur aan die hulp wat ons gegee het nie. Ek is nie bekommerd dat die arbeidskwessies opgelos gaan word nie, ek is bekommerd dat die fokus verskuif word na allerhande goed, behalwe die bejaardes se versorging,” het Noëth gesê

Situasie dopgehou

Maatskaplike werkers van Helpende Hand besoek in dié stadium die sentrum steeds daagliks, terwyl niebederfbare skenkings wat aan die sentrum gedoen is, oor ʼn langer termyn daar afgelewer gaan word. Noëth sê op dié manier bly die organisasie betrokke, terwyl die LUR kans gegun word om haar ondersoeke af te handel.

Die LUR het intussen ook gevra dat betrokkenes by nieregerings- én regeringsinstellings se rolle en verantwoordelikhede behoorlik uitgeklaar word wanneer arbeidsgeskille besleg moet word.

Mayathula-Khoza sê ingevolge wetgewing is die Gautengse wetgewer die enigste instelling in die provinsie met die gesag om oorsigbesoeke te doen. Sy het ook beloof dat die departement die sentrum meer gereeld sal besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Aaaag, al weer die raskaart! Ek wil sommer naar word… Lyk my dis die enigste kaart om te speel as jy absoluut GEEN argument meer het nie. En die LUR byt wragties daaraan.

Willem ·

Waar die EFF betrokke raak, sal soiets weer gebeur. Hulle maak van als ‘n politieke speelbal. Waar niks ‘n raskwessie was nie, eindig dit daar op.

Willem ·

Daar is te veel mense vandag waar aanhitising en kwaadstook ‘n obsessie geraak het, vir te min mense het werk ‘n roeping geraak, ook in gesondheidsorg.

Louis ·

Ek glo die bestuur is in goeie hande. My ondervinding by n tehuis was die opsweping van die personeel deur n paar persone. Vakbonde, betogings en stakings is onnodig. Regstellende aksie is ook n onding.

Dina ·

Die EFF is verantwoordelik vir wat hier gebeur het. Julius Malema is n aanhitser wat oral waar hy gaan chaos veroorsaak. Dit is tyd dat hy verantwoording moet doen vir sy dade.

EFF sit agter die Chaos ·

EFF sit agter alles – Ek is werksaam by n ander Huis vir Bejaardes en die EFF het presies dieselfde gedoen al verskil hier het ons beter sekuriteit. EFF het ook aantygings gemaak dat die werknemers se sake nie voldoende was nie, maar ongelukkig was alles in plek soos volgens wet vereis. Aangesien wetgewing die Dept van Arbeid alleenreg gee om arbeidsgeskille aan te spreek, waarom word daar nie op ‘n wetlike manier met die EFF gedeel nie, waarom spreek Dept van Arbeis nie die EFF aan rondom die saak nie, veral omdat hulle werkers onnodig aanhits sonder voldoende bewyse.

Rymie ·

Dit bewys maar net weer dat verkeerde personeel aangestel word wat nie regtig omgee vir die oumense nie en geen trots op hul werk het nie.

Hedwig ·

Die oudstes is as gyselaars aangehou! Word wakker SA! Geen verskoning regverdig hierdie optrede nie! Ek wonder hoe sou VSA so iets hanteer het?

Estelle Oelofsen ·

Ek is 81 en kry ‘n baie klein pensioen. Ek kan nie bekostig om in, van die meer welaf aftree-oorde, te gaan bly nie. Dws ek sal in ‘n plek vir minder gegoede oumense moet gaan woon. Nou vra mense vir my seun hoekom hy my in ‘n aftree-oord laat woon nie. Na verskeie voorvalle die afgelope tyd, is dit regtig nodig dat hy daarop antwoord?
Die hele debakel bewys maar weer net die gebrek aan beskaafheid van Malema, die EFF en die ANC.

Phillip ·

Haal die mense daar uit en sit hulle in n ander uotehius daar is baie maak daai plek toe en kyk waar kry hulle dan selaaris my oepiene

Ruiklont ·

Die leiers agter die staking moet geolidentifiseer word en ‘n behoorlike vonniss opgelê word om as voorbeeld te dien vir optredings wat weerlose mense se lyding as gevolg het. Daadwerkilke optredings is dringend nodig om soortgelyke optrede te STOP

Lizzy ·

Stel BLANKES aan om na ons mense te kyk!!!! Daar is baie werkloses onder ons!

Niek ·

Hierdie tehuis moet geskuif word en deel word van ‘n gemeenskap.
Tot dit nie gebeur sal dit ‘n teiken bly.
Dit is hoe ons Afrikaners sal moet begin saamstaan.
En ons moet onthou dat ons almal gaan oud word.
Daarom moet ons na die oumense se belange omsien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.