Huis Davidtsz: Situasie benard, vrywilligers benodig

huis-davidtsz-2018-03

Helpende Hand kon teen Vrydagoggend (3 Augustus 2018) steeds nie toegang tot Huis Davidtsz verkry om bejaardes en verswakte volwassenes in die tehuis te help nie. Foto: Verskaf.

Die vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand kon teen 11:50 Vrydagoggend steeds nie daarin slaag om toegang tot Huis Davidtsz te kry om bejaardes en verswakte volwassenes in dié tehuis te help nie.

Dit volg nadat Helpende Hand laat Donderdagmiddag ʼn dringende hofbevel gekry het wat hulle toestemming gee om die tehuis binne te gaan en hulp aan die sowat 150 inwoners, wat in die agtverdieping-tehuis in die middestad van Pretoria woon, te help.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het vlugtig met Maroela Media gesels en bevestig dat hulle nou vir die polisie wag om genoeg lede bymekaar te kry sodat vrywilligers Huis Davidtsz onder begeleiding kan betree.

“Die departement maatskaplike ontwikkeling en die EFF is nou ook op die toneel en ten spyte van ons hofbevel wat vanoggend spesifiek op die stakende werkers beteken is, kon ons nog nie toegang kry tot die tehuis om die inwoners te help nie.

Sakkie du Plooy, die Tshwane-metro se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, was vroeër Vrydagoggend by van die inwoners in hul kamers. Hy het aan ons bevestig dat die situasie uiters benard is,” het Noëth gesê.

Volgens hom betwyfel die stakende werkers die werklikheid van die hofbevel en weier steeds dat enige vrywilligers of bykomende personeel die perseel betree.

“Ons gee erkenning aan die enkele susters wat probeer om die inwoners ten spyte van alles te versorg, maar Helpende Hand weet die sorg is te min en daar is talle bejaardes en verswakte volwassenes, wit en swart, waarby daar glad nie uitgekom kan word nie.”

Stakende werkers het Woensdagmiddag die tehuis beset en van die ander personeel belet om die perseel te betree. Dit volg glo nadat daar ʼn skorsingskennisgewing aan drie van die tehuis se personeel uitgereik is.

Huis Davidtsz was ook in Maart vanjaar in die nuus nadat betogers van die EFF amok by die tehuis gemaak het.

Amanda Louw se ma, Cora du Plessis (71), is ʼn inwoner van Huis Davidtsz. “My ma is in ʼn rolstoel en woon op die vierde verdieping van die tehuis. Sy kan haarself nog ʼn bietjie help, maar ek is bekommerd sy kry nie haar medikasie nie.

“Sover ek van haar kan verstaan, is daar tans net een suster wat na al die inwoners moet omsien en die meeste van hulle is afhanklik van een of ander medikasie.”

Louw het gesê dit is egter haar tannie, Ansie Stevens (62) wat bedlêend op die sesde verdieping van die tehuis bly, waaroor sy tans die bekommerdste is. “Sy is heeltemal van die personeel se hulp afhanklik en haar volwassedoeke is glad nie in die laaste 36 uur geruil nie.”

Volgens haar laat die stakende werkers familielede van inwoners ook nie toe om hul geliefdes nou uit die tehuis verwyder nie.

“Ons hoor hulle kry darem nog kos, maar die gehalte is ongelukkig baie sleg – wat anders kan jy verwag as daar tans net drie personeellede is wat mag kosmaak?”

Louw het gesê die situasie by die tehuis het sedert die staking in Maart drasties verswak.

“Ek kon met niemand van die bestuur in die laaste vier maande kontak maak nie. Sommige van die werkers is baie lojaal teenoor die inwoners en versorg hulle baie goed, maar ander het dikwels geweier om die inwoners met iets eenvoudig soos om ʼn waterbotteltjie oop te maak, te help.”

Sy het aan Maroela Media bevestig dat sy graag haar familie in die toekoms uit Huis Davidtsz wil oorplaas.

“Baie mense vra my hoekom skuif ek nie my ma uit die tehuis nie, maar dit is ongelukkig nie so eenvoudig of maklik soos wat dit klink nie.

“Meeste tehuise is duur en bekostigbare tehuise met goeie versorging het lang waglyste. Verder moet ek ook seker maak my ma se Sassa-oorbetalings en volledige mediese lêer skuif saam na ʼn nuwe tehuis, maar ek kon glad nie in die laaste vier of vyf maande met die bestuur by dié tehuis in kontak kom om dit te doen nie.”

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordevoerder, het bevestig dat die polisie op die toneel is en die situasie monitor. Hy het gesê die stakende werkers, hul vakbond, Helpende Hand en die bestuur van Huis Davidtsz was om 11:00 nog in vergadering om die situasie te ontlont.

Intussen het Helpende Hand ʼn dringende versoek aan vrywilligers, veral spesialiste soos mediese dokters en wondsorgsusters, gerig om by Huis Davidtsz te kom uithelp.

Helpende Hand het mense nodig wat gedurende die naweek in skofte sal kan werk om die bejaardes en verswakte volwassenes te help, asook om hul mediese toestand te bepaal en te verwys vir behandeling in ʼn hospitaal indien nodig.

Vrywilligers wat wil help kan ʼn e-pos aan Vena Strauss by [email protected] stuur of haar bel by 082 414 8313 of 082 645 2795

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Ramapaddapot ·

Hulle voer ‘n veer en dit is die grootste probleem in SA. Wat sy jy ramaposa oor die situasie of is jy bang vir eff? Hulle regeer jou mos.

Wonder ·

Ek dink nie Ramaphosa weet eens hiervan nie. Dis waarskynlik onbelangrik vir hom.

Elphia ·

Ek hoop van harte dat AL die betogers van poging tot moord aangekla kan word, want dis presies waarmee hulle besig is!

jaco ·

Maar dan staak Solidariteit, Helpende Hande se filiaal, by Eskom en help so die instel van beurtkrag aan. Daaroor word stilgebly.

Nettie ·

@jaco, kry jou feite reg – Solidariteit HET gestaak, maar nou die loonaanbod aanvaar. Terwyl hulle gestaak het, het baie Solidariteitlede binne-in kragstasies, substasies en kragopwekkingseenhede GESLAAP om te verseker dat daardie plekke nie deur die res van die swart stakende massa, soos hul gewoonte is, gesaboteer en afgebrand of beskadig word nie. En Helpende Hand is ‘n filiaal van Solidariteit, nie andersom nie.

Judge Dredd ·

TWAK!! Party Solidariteit lede het bly werk ten speite van dreigemente van ander unies.

Mamma ·

Solidariteit het gister al ‘n ooreenkoms met Eskom bereik en teruggekeer werk toe

Flip Buys ·

Jaco, Solidariteit het beslis nie gestaak nie, maar ons lede het onder moeilike omstandighede die land se ligte laat brand.

Irma ·

Kriminêle wat die mees afhanklike mense uitkies en voel niks vir niemand. Om te dink dat hierdie stakers deel van die personeel is wat na die oues en verswaktes omsien in goeie tye. As hul optrede so lyk hoe lyk hul karakter. Hoort sulke mense in diens van so ‘n plek?

VN en oorsese landde inroep ·

Dit regverdig die roep van spesiale internasionale hulp.

Johan ·

Dit lyk asof die Polisie staan en toekyk hoe ou mense stadig vermoor word. Sou die verontagsaming van n hofbevel elders in die wêreld geduld word? Deur nie op te tree nie, lyk dit asof die Polisie die stakers se optrede goedkeur. Bewys my asseblief verkeerd!

Loraine ·

Hoekom tree die polisie nie op nie. Mense help asseblief die ou mensies. Van hulle het 3 dae laas kos gehad. ASSEBLIEF !!!!!!!

Privaat sekuriteit ·

Privaat sekuriteit sou nou die beste oplossing gewees het.

Oud Rhodie ·

Waarom “monitor” die vervloekte, nikswerd polisie net die heeltyd ? Klim en arresteer – daar is dan `n hofbevel ! Werklik sleg verby.

Tasha ·

Dis ‘n saak van lewe en dood. Dis weerlose bejaardes! Hoe lank gaan hierdie ongeregtighede voortduur? Is daar niemand wat iets daadwerklik kan doen nie?

Cora Simpson ·

As die polisie nie die stakers in hegtenis kan neem nie en van die arme mense sterf kan hulle en die stakers vir moord aandekla word? Of nee bring in die Weermag.

Hanna Hoekom ·

Die EFF en al sy volgelinge WALG my! Ongelukkig is hulle tans in beheer van ons land… CR is nie die naam v president werd nie. Hierdie verpleegsters is die naam v verpleegster nie werd nie. Maar julle dag sal kom: elke knie sal buig!

lolla ·

regstelling….baie versorgers ken geen verpleging nie….gewoonlik baie min gekwalifiseerde verpleegsters in sulke plekke van versoring nie….maar goeie versorgers is baie keer beter en ek werk eerder saam goeie versorgers as swak verpleegsters soos wat in baie hospitale ook is…. maar dis moord wat nou gebeur…

Eish ·

Dit is werklik skokkend dat met sulke lewensbedreigende omstandighede, die po(pu)lise tot niks in staat is nie.

Tracey ·

Regtig, die arme oumense word in hulle benarde posisie gelaat ongeag. Dis sommer nonsens. So die polisie is bang vir ‘n klomp nikswerd goed. Dis totaal onaanvaarbaar waarom. Het ons polisie om al sokker te word en te staan en niks doen

Oorsese vrywilligers ·

Om oorsese vrywilligers te vra sal bewusmaking ook versnel.

Liamari ·

Die EFF verwoes en breek net af. Die personeel is meestal lui en het geen gevoel vir ander nie.

Liamari ·

Die EFF verwoes en breek net af. Die personeel is meestal lui en het geen gevoel vir ander nie. Die mentaliteit is belaglik. As ons nie gelukkig is nie moet alles tot stilstand kom!

Catherine ·

Daar is mos ‘n wet wat ons bejaardes beskerm, dit moet sekerlik in díe situasie intree? Kan nie dink dat dit so lank kan neem voor díe lewensbelangrike versorging kan voort gaan

Wonder ·

Dis seker maklik vir my om te praat, want ek is nie in so ‘n situasie nie, maar ek sal my ma onmiddellik uit hierdie plek verwyder en haar by my laat bly totdat ek vir haar goeie versorging kan kry. Ek besef dis ontwrigtend op ‘n gesin, maar hierdie is uitsonderlike omstandighede.

Rissie ·

Tans is daar baie mense wat probeer om hulle ouers daar te verwyder maar kry nie toegang tot die gebou nie. Dit maak mens mal.

Toelaat ·

Wonder; lees die artikel voor jy “te maklik praat”. Die stakende werkers laat nie familielede van inwoners toe om hul geliefdes nou uit die tehuis te verwyder nie.

Wonder ·

Life Esidemeni, hier gaan ons al weer! Wonder of hierdie fasiliteit deur die staat “bestuur” word.

Martie ·

Dit is wat gebeur wanneer hartelose, gierige en onontwikkelde mense aangestel word in poste wat bedoel is vir lojale mense wat geroepe voel om hul medemens hart en siel te dien.

Gee ·

Daar is ‘n hofbevel. Dit word verontagsaam. Kriminele klagtes. Die stakers weier dat familie die inwoners verwyder. Dis in effek dan ‘n gyselaarssituasie. Kry Taakmag in en neutraliseer die partye wat die perseel beset.

Alida ·

Handig die bevel aan Bheki Cele EN Ramaphosa hulle is 10/1 heeltemal onbewus van die situasie.

Hannatjie ·

Hier by Bethulie se ouetehuis in die Suid-Vrystaat is meer as 24 beddens beskikbaar en dis baie meer bekostigbaar as die meeste plekke in die land.

Janie ·

Dit is beslis poging tot moord op groot skaal. Waarheen gaan ons land!? Dit is skokkend om te dink so iets is moontlik. Een van die dae lyk al die hospitale ook so, dan wat!?

Rentia ·

In Amerika (en enige ander regdenkende land) sou hierdie as ‘n gyselaarsdrama geklassifiseer en hanteer word. Want wat is dit dan anders? Hulle hou mense aan omdat hulle nie kry wat hulle wil hê nie.

Besorgd ·

Weet iemand wat nou tans die situasie daar is? ‘n Hofbevel is tog uitgereik dat die vrywilligers mag ingaan om die bejaardes te versorg? Maar die besetters dink duidelik hul is bo die Reg verhewe? En dit nog ten koste van hierdie ou mense se gesondheid? Kan die polisie nie die deure oopbreek nie? Voor iemand doodgaan of verder getraumatiseer word!!!!

Johanna ·

En so word ou mense ook nou verwaarloos en daar sal seker niks aan die ou eiende gedoen word daaraan nie die mense ruk nou heeltemal hand uit met die gestakery….wanneer gaan dit end kry was dit my ouers wat daar was sou ek van my kop af geraak het ….hulle moet hierdie stakery STOP mense se lewens word nou in gevaar gestel daardeur en net die Regering kan dit STOP maar lyk my nie enige een gee om nie dit gaan maar net aan en aan en aan

Wysneus ·

Die probleem is dat julle nog volgens die reëls wil speel terwyl daar nie meer reëls is nie.

bgj van der westhuizen ·

wat ek graag wil weet gaan die mense vervolg word omdat hulle die wet verbreuk onder die wet op mishandeling van kinders , vroue en ou mense die staat moet aan kla en die niks werd sapd kan maar ook ontbint word wand hulle is nie die naam polizie se gat werd nie staan en toe kyk moet die staker toe gesluit het oor nie die hof bevel na gekom het nie

Johanna Botha ·

Mense wat belasting betaal het en gehelp het om die land vorentoe te neem word nou gyselaar gehou deur die nense wat niks omgee vir niks en niemand nie ….alles word op geeff in die siek land.

Grotman ·

Wat n skande. Die selfde tehuis was jare gelede een van die bestes in pta. Als gaan grond toe. Pateties!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.