Huis Davidtsz: Só kan jy help

huis-davidtsz-2018-03

Helpende Hand kon teen Vrydagoggend (3 Augustus 2018) steeds nie toegang tot Huis Davidtsz verkry om bejaardes en verswakte volwassenes in die tehuis te help nie. Foto: Verskaf.

Twintig vrywilligers van Solidariteit Helpende Hand is Vrydagmiddag uiteindelik toegelaat om Huis Davidtsz in Pretoria se middestad te betree om hulp te verleen aan die sowat 150 inwoners, wat in die agtverdieping-tehuis woon.

Stakende werkers het Woensdagmiddag die tehuis beset en van die ander personeel belet om die perseel te betree. Dit volg nadat daar ʼn skorsingskennisgewing aan drie van die tehuis se personeel uitgereik is.

Die gemeenskapsorganisasie is Woensdagaand omstreeks 19:00 deur inwoners na die bejaarde woning ontbied om te help om die bejaardes dringend met versorging by te staan tydens ’n onwettige staking van EFF-lede onder die personeel. Helpende Hand is reeds sedert Desember 2017 betrokke by die tehuis en word gereeld uitgeroep vir hulp wanneer arbeidskwessies diens by die tehuis verhinder.

Voortdurende loongeskille en ander arbeidskwessies het oor die afgelope maande ’n reeks van stakingsaksies veroorsaak. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het bevestig dat Helpende Hand ’n hofbevel kon verkry om die perseel te betree. Die personeel van die tehuis het egter eers die hekke en later die deure van die tehuis gesluit en Helpende Hand se vrywilligers fisies verhinder om die perseel te betree. Helpende Hand het die polisie ontbied maar selfs te midde van versterkings het die personeel van die tehuis steeds geweier om Helpende Hand se vrywilligers tot die perseel toe te laat. Helpende Hand het toe verskeie staatsdepartemente genader om tot die gesprek toe te tree en om met die partye te onderhandel.

Vrywilligers van Helpende Hand ondersteun die inwoners van Huis Davidtsz (Foto: Helpende Hand)

Marlien van der Westhuizen, woordvoerder van Helpende Hand, het aan Maroela Media gesê vrywilligers is Vrydagmiddag omstreeks 12:30 uiteindelik toegelaat om die gebou te betree.

Maroela Media het vroeër berig Sakkie du Plooy, die Tshwane-metro se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, was vroeër Vrydagoggend by van die inwoners in hul kamers. Hy het bevestig dat die situasie uiters benard is.

Noëth het vroeër gesê die stakende werkers betwyfel die werklikheid van die hofbevel en het geweier dat enige vrywilligers of bykomende personeel die perseel betree. Hy het erkenning gegee aan die enkele susters wat probeer het om die inwoners ten spyte van alles te versorg. “Helpende Hand weet die sorg is te min en daar is talle bejaardes en verswakte volwassenes, wit en swart, waarby daar glad nie uitgekom kan word nie.”

Van der Westhuizen bedank die families van die inwoners en lede van die publiek wat die artikel op Maroela Media gesien het en dadelik kos en liters bleikmiddel by die tehuis gaan aflaai het. “Mense van so ver as Klerksdorp het hulle hulp aangebied,” het sy gesê.

Volgens Noëth is dit uiters onaanvaarbaar dat arbeidskwessies soos loongeskille en personeelsake noodsaaklike dienste soos bejaardeversorging verhinder. “Ons wou onder geen omstandighede by die loongeskille betrokke raak nie en het die nodige hulp van betrokke partye ingeroep om dit te hanteer. Ons groot bekommernis is die lot van die bejaardes wat noodsaaklike versorging vir ure op ’n slag nie ontvang het nie. Hier is mense wat omgedraai moet word om bedsere te verhoed, mense wie se doeke geruil moet word, medisyne moet ontvang en moet eet. Hulle mag nie gyselaar gehou word vir loongeskille nie. Dit is bitter onregverdig. Van die bejaardes het vir dae in baie ongemaklike en onaanvaarbare omstandighede geleef.”

Vrywilligers van Helpende Hand ondersteun die inwoners van Huis Davidtsz (Foto: Helpende Hand)

Helpende Hand en die verskeie partye kon tot ’n vergelyk kom deur die middag dat die organisasie 20 vrywilligers in die gebou kon instuur om basiese dienste te help herstel, terwyl die werkers en die bestuur van die tehuis ooreengekom het om dienste voort te sit.

Van der Westhuizen het bevestig aandete is omstreeks 16:20 Vrydagmiddag vir inwoners aangebied. “Een van die tannies het gesê dis vreeslik ongemaklik as die personeel so staak.”

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordevoerder, het bevestig die polisie is op die toneel en monitor die situasie. Die stakende lede en bestuur van Huis Davidtsz sal Maandag weer die loononderhandelings hervat.

Van der Westhuizen het benadruk die situasie is tans stabiel by Huis Davidtsz.

Helpende Hand het mense nodig wat gedurende die naweek in skofte sal kan werk om die bejaardes en verswakte volwassenes te help, asook om hul mediese toestand te bepaal en te verwys vir behandeling in ʼn hospitaal indien nodig.

Volgens Van der Westhuizen word die volgende items benodig:
– volwasse doeke
– toiletpapier
– waslappies
– hoesstroop
– Panado
– enkelbedlakens en komberse
– deodorant
– tandeborsels en pasta
– lyfseep
– groente

Persone is welkom om dit direk by Solidariteit Helpende Hand se kantoor in Pretoria af te laai:
h/v DF Malan en Eendrachtstraat
Kloofsig
Centurion

Persone wat ʼn finansiële bydrae wil maak, kan die volgende bankbesonderhede gebruik (maak seker jy gebruik die verwysing “Huis Davidtsz”):
Solidariteit Helpende Hand
Verwysing: Huis Davidtsz
Bank: FNB
Takkode: 250 655
Rekeningnommer: 623 314 45503

Vir verdere navrae kontak Marlien van der Westhuizen gerus per e-pos by [email protected] of 082 645 2795.

Lees alle vorige berigte oor Huis Davidtsz op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Antoinette ·

Dit is so so unfair dat onskuldige mensies moet lei oor politieke dramas. God slaap nie!

Johnna ·

Die mensdom wat so optree maak ons wereld siek hoe op dees aarde maak n mens so met verswakte bejaardes.

Chris ·

Dankie helpende hand vir julle ingryping, dit word hoog op prys gestel. Hoe onmenslik , ongevoelig, kan die nasie wees om basiese dienste van mense te weerhou as daar n loon geskil is. Die voorbokke moet aangekla word van poging tot moord nie net op die blankes nie maar op hulle eie nasie ook .

Spike ·

As iets vernietig moet word gee dit vir die bevrydings bewegings.

Hartseer ·

Dankie Helpende hand en vrywilligers en sommer almal wat help of hulp aanbied in watter vorm ook. Wanneer mens kyk na doeke kan ek voorstel Dischem het volwasse doeke met die naam Softi – pull-ups of doeke. Volwasse doeke is baie duur en van die doeke lek maklik. Hierdie tipe weet ek werk en hulle is goedkoper as die heel duur tipes. In dieselfde maak het hul adult wipes wat baie handig te pas kom. Tipies benodig mense ook saam met dit handskoene en hand sanitizers. Dis ons plig as gemeenskap om uit te reik en te help… hoe klein ookal. Al kan mens vir uurtjie by hierdie mense gaan kuier. Al kan jy pakkie panados skenk, of ‘n sakkie wortels. Ek weet almal dra swaar in huidige finansiele omstandighede, maar hierdie kan more ons wees. Ons gaan ook oud word.

Erna ·

Wonder net hoe het die mense dan niks nie, nie eers seep nie. Of kom hulle maar gewoonlik sonder dit klaar of het die stakendes dit toegesluit of wat. Skreiende skande as jy my vra.

Lynn ·

Ons moet ‘n databasis van elke ouetehuis, weeshuis, gestremde sorgsentrum in elke area saamstel. Daar sal in elke gebied vrywolligers wees wat sal kyk hoe sake daar lyk. Ek vrees vir die weerloses.

Rita Ferreira ·

Dankie Heer dat U ingegryp het, dat U mense soos Helpende Hand het wat harte het vir oumense. Die werk wat hulle ook hier by ons in Nelspruit doen is gelooflik. Julle kan regtig hulle harte sien. Dankie ook vir die vrywilligers vir julle liefde en omgee. God slaap nie en wat jy saai gaan jy maai. ♡♡♡
Rita Ferreira
Nelspruit

Bekommerd ·

Mense, neem jul ouers uit hierdie plek. Laat daai werkers maar sonder werk sit.

Wilma ·

Geliefdes van inwoners moet kameras versteek want huveel weerloses word mishandel..

Johan ·

Dit is so hartseer dat oumense so behandel word. Dankie vir die vrywilligers. Hierdie stakende werkers is alreeds skuldig aan verskeie misdade en is onwettig op perseel. Dus kan en moet hulle almal ge-arresteer word. Ons regering en polisie is pateties verby.

HK ·

EFT gedoen, dalk nie so baie nie, maar ek bid dat dit geseen word vir hierdie weerlose ou mensies. Dit breek my hart, soveel swaarkry! Ag Here, hou hierdie mense styf in die holte van U hand, en so ook almal van ons wat so swaar kry. Maak ons harte oop, maak ons bereidwillig om te dien, en vergewe ons en bring weereens nuwe hoop! Laat ons voete was, op die ou einde, waaroor is ons hier?

Jeffrina ·

Wat n skande! Waar is hierdie oumense se kinders of ander familie? Dit is wat wag vir baie oumense en gestremdes wat nie kan staatmaak op hulle kinders nie. Maak nie saak van ras of kleur nie. Die toekoms vir hierdie mense in die land is gedoem. Dank die Vader dat ek kon padgee na n ander land want hier waar ek is word ek versorg want ek is ook al bejaard.

Anoniem ·

Jy oordeel maklik, ken jy elke bejaarde of hul kinders se omstandighede? Almal is nie in die bevoorregte posisie om ouers te hê wat in behoorlike aftreeoorde te woon nie. Alle staats of dan ACVV ouetehuise is ook nie sleg nie, dít hang van die bestuur en personeel af. Alle kinders is ook nie in die finansiële posisie om hulle ouers se versorging te bekostig nie. Jy vra, waar is die kinders? Besig om te werk Jeffrina, besig om gebukkend onder die Suid-Afrikaanse ekonomie deur elke dag te probeer kom. My ouers is bevoorreg om in ‘n aftreeoord te woon, dit maak my nie minder simpatiek teenoor hierdie ouers en selfs hulle kinders nie. Die lewe het hard en lelik geword, mense is genadeloos met hulle uitlatings. Maak ‘n finansiële bydrae tot die situasie, jý kan só ‘n betekenisvolle rol in hierdie bejaardes se lewe speel! ;-)

jankoos ·

En die anc polisie monitor die situasie wat n grap hulle is net daar om te help sou die kriminele verhoed word om die ingange te blokkeer.

Lalla ·

Ek het nie woorde nie… woede maak dat selfs my gedagtes oormekaar hardloop om te probeer sin maak hiervan!! As enige van hierdie bejaardes se lewenskwaliteit verswak het óf hulle lewe verloor as gevolg hiervan – moet die wat besluit het op die staking en almal wat aktief deelgeneem het vervolg word!! Miskien moet hulle in elkgeval vervolg word!!! Wat my meer nóg pla is dat daar “gereeld” kwessies is??! Wat gaan aan daar??!!! Dankie aan die wat ingespring het en gaan help het…. God seën julle!! Ek bly baie ver weg en sal ‘n finansiële bydrae maak.

Msp ·

Wens ek kon daar wees om te help maar ek het as my bydrae ook ń EFT gedoen. Hoop werklik dat almal finansieel sal bydrae.

Marinda ·

Ek wil net hier noem dit is nie net helpende hand se vrywilligers wat gehelp het nie. Manne en vroue van Boerelegioen het net so hard gewerk en menslike ontlasting van die vloere af opgetel. Ek sien in die berig helpende hand is vanaf Desember 2017 betrokke daar. Maar die plek het dringende aandag nodig – op video’s kan mens duidelik sien hoe stukkend is teëls by storte wat ‘n risiko is dat mense hulself kan sny. Hoe kan enige iemand se hulle is al amper ‘n jaar betrokke daar en dan toelaat dat dinge so ver gaan? Dit is ‘n skreiende skande. Boerelegioen en toekomsvonk gaan hierdie ding nie daar laat nie!

Msp ·

Ai mense, moenie dat die storie uitverband geruk word nie. Solidariteit verteenwoordig almal, selfs die Boerlegioen, baie dankie vir julle en ook almal se hulp in die verband. Dit gee mens hoop om te sien dat al ons groepe ingespring en gehelp het. Hoop die ander sake sal nou hierna uitgesorteer kan word.

Dorothy-Anne Howitson ·

Thank you to all those helping
I am an activist in the Disability Sector. The extent of the employees ‘industrial action’ is unacceptable, offensive, inhuman and criminal. No person has the right to neglect and abuse the most vulnerable elderly in the reported manner.
Yes, employees have the right to strike. But no-one has the right to enforce their conflicts and problems on persons who are not involved in their dispute.
I firmly believe that the Carers have broken their Code of Ethics. Disciplinary procedures should be carried out against each and every striker.
The trauma those residents have been subjected to; will lead to illness and mental health problems.
I know the strikers won’t read this. But I must ask: “If you or your parents were resident at Huis Davidtsz, how would you feel about the strikers who are supposed to care for you or your parents?” To the Union: “Can you with a clear conscience approve of the actions of the strikers?”
May God in His grace and mercy uphold and care for the elderly. May God work in the hearts and minds of the strikers that they may understand that they had broken God’s command “to look after the widows and orphans “.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.