Huis Marais op Stellenbosch bly manskoshuis

Huis Marais. Foto: Facebook

Die Universiteit Stellenbosch het sy besluit om van aanstaande jaar af mans én vroue as inwoners van die manskoshuis Huis Marais te aanvaar, hersien en dit sal nou ʼn manskoshuis bly.

Dit volg ná samesprekings tussen die universiteitsbestuur, studenteleiers en oudinwoners van Huis Marais, het die universiteit se viserektor, prof. Arnold Schoonwinkel, Dinsdag aangekondig.

“ʼn Ooreenkoms is bereik dat die koshuis in 2021 die tuiste van slegs manstudente sal bly. Die partye het samesprekings gevoer met die doel om ʼn beter verstandhouding tussen die onderskeie partye te bevorder en tot ʼn vergelyk te kom,” het Schoonwinkel in ʼn verklaring gesê.

Die afgelope paar weke was daar toenemend ongelukkigheid by huidige en oudinwoners van Huis Marais oor die universiteit se besluit, wat gevolg het op wat die universiteit bestempel het as ʼn onwilligheid van Huis Marais om by die etiek en waardes in te skakel. Daar was selfs sprake van ʼn hofsaak.

Die nuwe ooreenkoms bepaal dat Huis Marais ʼn manskoshuis sal bly; dat dit sowat 90 eerstejaar- en 60 nuwe senior studente in 2021 sal ontvang; en dat ʼn proses in werking gestel sal word om ʼn verenigde en geïntegreerde gemeenskap te skep.

“Lede van die Huis Marais-gemeenskap het hulle verbind tot ʼn etos wat met die US se waardes versoenbaar is en het ooreengekom om met die hulp van die US maatreëls in te stel om as gemeenskap te groei,” het Schoonwinkel gesê.

“Om hierdie doelwit te bereik, maak die ooreenkoms voorsiening vir onder meer ʼn huiskomitee (HK) van 14 lede, saamgestel uit die bestaande verkose HK-lede van Huis Marais en bykomende lede wat uit die geledere van die huidige Huis Marais-gemeenskap en senior nuwelinge aangestel sal word.

“Voorsiening word ook gemaak vir die opstel van ʼn nuwe of aangepaste grondwet en ʼn gedragskode in ʼn gesamentlike poging tussen Huis Marais, die universiteit se sentrum vir studentegemeenskappe en ʼn komitee van Huis Marais-alumni,” aldus Schoonwinkel.

Die Sentrum vir Studentegemeenskappe sal sekere duidelike riglyne verskaf, asook met die aanstelling van ʼn fasiliteerder help om ondersteuning te verskaf.

Schoonwinkel het gesê die universiteit en Huis Marais sal saamwerk om, gegrond op institusionele waardes, ʼn florerende toekoms vir die koshuis te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Die mans is seker verlig dat hulle nog kaalbas van die badkamer kamer toe sal kan hardloop…..of noem ons dit “blowing in the wind?”

Johan ·

Die Ruperts was seker oud-inwoners die rede vir die besluit . Geld praat.

Casper ·

Jy kan nie mans en vrouens in een koshuis huisves nie.Dit is ‘n resep vir verkragtings en dalk ander geslagsbaseerde misdrywe.Geen vroue student sal veilig wees nie.Sal die mans veilig wees ha ha ha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.