Huis Talje, huis van hoop vir gestremde kinders

Huis Talje Children’s Home. (Foto: Verskaf)

By Huis Talje, ʼn kinderhuis in Bela-Bela, word 47 liggaamlik en verstandelik gestremde kinders daagliks deur ʼn handjievol versorgers gevoer, gebad en aangetrek.

Wat die uitdagings van dié kinderhuis in Bela-Bela egter uniek maak, is dat byna al die kinders wat hier gehuisves word, rolstoelgebonde en bedlêend is en dat hulle doeke dra wat vier keer per dag geruil moet word.

Volgens die bestuur van Huis Talje is doeke een van die tehuis se grootste uitgawes, wat maandeliks by soveel as R30 000 kan draai. Die kinderhuis ontvang ʼn subsidie van 80% van die staat en vir die res moet hulle self sien kom klaar.

Met uitgawes soos kruideniersware, doeke en elektrisiteit, is die tehuis geldelik elke maand ver in die rooi.

Huis Talje Children’s Home in Bela-Bela het geldelike hulp nodig.

Huis Talje, wat op 1 September 1999 sy deure oopgemaak het, huisves kinders met verskeie gestremdhede.

“Die dankbaarheid van die kinders hier is hartroerend. Hulle is dankbaar vir elke bord kos en nuwe paar kouse. Dit laat jou anders kyk na die lewe.”

Meeste van die kinders is rolstoelgebonde en dit is ‘n arbeidsintensiewe taak om na dié kinders om te sien.

Die tehuis benodig tans geldelike hulp vir die aankoop van kruideniersware, doeke en elektrisiteit.

Die tehuis gebruik maandeliks duisende doeke. “Altesaam 31 kinders dra ekstragroot kinderdoeke en ons gebruik sowat 3 845 van dié doeke per maand. Altesaam 16 kinders dra volwasse mediumgrootte doeke en ons gebruik maandeliks sowat 2 015 van dié doeke.”

Bydraes kan deur private persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ʼn 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar.

Om betrokke te raak by Huis Talje Children’s Home, kontak die projekbestuurder, Erika van Zyl, by 082 575 5175.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie J

Baie was vinnig om by te dra tot die olimpiese medalje wenners. Komaan, dra asseblieg mildelik by tot hierdie roepstem uit die woestyn.

Nici

Sal goed wees as maatskappye wat die doeke vervaardig hul teen kosprys of afslag kon voorsien om meer geld beskibaar te stel vir ander behoeftes.

Charl

Dink aan daardie personeel se toewyding en opoffering ! Dis nie klein babatjies wat elke dag versorg en moet skoongemaak word nie, sou jy dit doen Meneer met die vervaardigingsmaatskappy met jou miljoene Rande ? Hierdie mense koop maandeliks julle produkte ten duurste aan, doen vir hulle ook iets, kom hulle tegemoet vir hulle menslikheid sonder grense.