Huis wat afbrand ‘nie ʼn plaasaanval’

Die plaashuis wat in die brand beskadig is. Foto: Verskaf

Die polisie en TLU SA het gerugte ontken dat ʼn Vrystaatse boer, wie se huis die afgelope naweek in die vroeë oggendure in ʼn brand vernietig is, met ʼn plaasaanval verbind word.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA en voorsitter van die organisasie se nasionale veiligheidskomitee, het aan Maroela Media gesê daar was aanvanklik verwarring nadat die boer se huis Saterdagoggend in die Bultfontein-omgewing afgebrand het.

ʼn Boodskap is op sosiale media versprei dat ʼn groep mense die huis aan die brand gesteek het terwyl die gesin steeds binne was. Die boodskap dui verder aan dat die huis se deure met kettings toegesluit was sodat die gesin nie kon uitkom nie, maar dat die gesin gelukkig deur ʼn deur in die motorhuis kon vlug.

Geldenhuys het kommer uitgepreek dat dit dalk die vooraand van ʼn nuwe modus operandi vir plaasaanvallers kon wees.

“Ons het egter met nadere ondersoek vasgestel dat die huisbrand glad nie met ʼn plaasaanval verbind word nie,” het Geldenhuys gesê.

“Die brand is vermoedelik deur ʼn kortsluiting in die lapa veroorsaak waarna die grasdak vlam gevat het en die brand na die huis versprei het. Daar was glad nie kettings aan enige deure nie.”

Konst. Kethabile Mofokeng, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media bevestig die polisie vermoed nie gemene spel nie.

“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand omstreeks 03:30 deur ʼn elektriese fout ontstaan het. Niemand is tydens die voorval beseer nie en die ergste skade aan die huis is die dak wat heeltemal afgebrand het,” het sy gesê.

Geldenhuys het plaas- en kleinhoewebewoners egter gemaan om in elk geval altyd paraat te wees vir allerlei maniere wat aanvallers gebruik om inwoners uit hul huise te lok.

“Sodra enigiemand enigsins onraad vermoed, stel dadelik die plaaslike buurtwag of veiligheidstrukture in kennis eerder as om net uit te gaan om self ondersoek in te stel,” het hy gewaarsku.

Die lapa wat afgebrand het. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jane ·

Dan is ons baie bly .. ongelukkig met deesdae se misdaad en brandstigting dink ons almal onmiddellik die ergste maar dit is te verstane. Vreemd dat daar bewerings was van kettings wat aan die deure aan die buitekant vasgemaak was, maar dit is goed as dit nie so was nie. Ek is bly die familie is ongedeerd maar nogtans hartseer oor hulle groot verlies. Sterkte met die opbouproses.

Wanda ·

Daar is altyd mense wat hulle verlustig daarin om stertjies en onsin aan te kas en te praat. As jy nie dood seker is van iets hou jou mond dig toe. So saai mense haat en propeganda en dis onnodig. Ons het genoeg bekommernisse vir nog enige nonsens.

Anoniem ·

Stem saam met Jane – Sterkte vir die dae, weke en maande se opbou wat voorlê ! Wees nogtans altyd paraat !

Alida ·

Ja en soos gewoonlik het sosiale media gebruikers weer op hol gegaan sonder om die feite na te gaan. Dit is ‘n groot verlies en kan met enigiemand gebeur.

LouE ·

Die mense wat valse inligting opmaak en versprei rig baie skade aan. Hulle is wolf skreeuers. Mens wonder altyd wat hulle agenda is. Ons behoort moeite te doen om diesulkes op te spoor en aan die kaak te stel.

$ ·

Ek hoop nie plaasaanvallers kry nou nuwe idees uit die aanvanklike vals berigte nie…

Karolis ·

Dit is wat ek ook aan gedink het toe ek die berig begin lees het.

Nettie ·

@$, Karolis en Speedguard – dit is presies wat ek ook gedink het. Die hemel weet, moenie gedagtes in sekere ‘mense’ se koppe plant nie. Hulle is geweldig beïnvloedbaar as hulle alles wat die ANC en EFF aan hulle kwytraak, vir soetkoek opeet.

Dié mense wat op sosiale media die valse boodskap – dat die huis aan die brand gesteek was en die deure toe-geketting was sodat die mense nie kon ontsnap nie – moet eintlik van iets aangekla word; iets soos opstoking …. of watookal. Kyk was het een sosiale media boodskap nou tot gevolg gehad!

Steyn ·

Gelukkig kon hulle by die garage deur uitkom.
Dis verskriklik wat in die land gebeur nou!!

Ella ·

Ons kan maar wag vir die waarheid.
Dit is verskriklik om alles te verloor. Waar kan ons help?

Leeu ·

Hoe kan julle dit nie verbind met n plaasaanval nie? Plaasaanvalle bestaan dan nie? So deur om dit te sê, erken julle plaasaanvalle, nie waar nie?

Stella ·

Ek wens mense wil bietjie feite check voor hul, hul “whatsapp voicenotes en whatsapps” links en regs share.

Dis mos lekker.... ·

….om juicy stories op te maak en versprei.
Dit verkoop koerante! En dit hou die gemeenskap aan die lewe… n lekker skinder storie / opsweep stories
Ons landsburgers is klaar so vol haat….kom ons gooi NOG BIETJIE olie op die vuur….

Paul ·

Deesdae is so-iets nuus omdat dit nie met misdaad gepaard gegaan het nie. Ek kan net my kop in ongeloof skud soos die land en die waardestelsel verval het.

Lid van familie ·

Mense mense gaan lees gerus die berig op Netwerk 24 dis die naaste aan die waarheid.
Dit was nie n plaasaanval nie, die voorlopige ondersoek dui op n kortsluiting.

En net n regstelling hoe de hel kan net die dak brand!?!?! DIE HELE HUIS IS VERWOES

GROTMAN77 ·

Nou het plaasaanvallers nog ‘n goeie idee gekry …hul hoef niemand dood te skiet gebruik net tegniek in die berig om hele gesin uit te wis

Peer ·

Brandstigting is al n ou trick van plaasaanvallers, paar jaar terug het hulle om ons huis gebrand, as die brand jou nie vang nie, gaan jy uit om te blus en so het hul toegang ook tot die huis.

LB S ·

Dit is a.g.v. hierdie oordrewe fopnuus dat mense dink al wat ‘n anders-kleurige is, het hul mes in vir die blankes en anders om, om rassehaat aan te hits. Kyk maar na jou normale verloop van omgang met alle mense elke dag. Hulle is net so ordentlik soos jy. Die slegtes is in die verre minderheid. Dit lyk net vir ons of dit almal is omdat daar so baie meer swartes as blankes is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.