Huisarres vir man wat by minnares steel

Die twee het mekaar glo oor die internet ontmoet voordat hy by haar ingetrek het (Argieffoto)

Die twee het mekaar glo oor die internet ontmoet voordat hy by haar ingetrek het (Argieffoto)

Steven Billington (43) van Claremont in Kaapstad wat juwele ter waarde van meer as R85 000 van sy meisie gesteel het, is Dinsdag tot drie jaar huisarres gevonnis.

Billington het skuldig gepleit op aanklag van diefstal van die juwele ter waarde van R85 917 in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof. Hy het ook skuldig gepleit op aanklag van diefstal van goedere ter waarde van R14 000 van sy voormalige werkgewer, Cradle Technologies.

Landdros Sabrina Sonnenberg het hom ook ʼn bykomende opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.

Volgens sy pleitooreenkoms het hy in September verlede jaar ʼn romantiese verhouding met Natasha Wilmot van Houtbaai aangeknoop en dieselfde maand nog by haar ingetrek. Die twee het mekaar glo oor die internet ontmoet en hy het van Johannesburg na Kaapstad verhuis. Hulle het ongeveer ses maande lank saamgebly toe Billington sonder verduideliking verdwyn het. Hy het ook nie sy selfoon aangeskakel nie.

Wilmot se tannnie, Daphne Hildebrant, het ook vlugtig saam met die paartjie gebly en toe sy weg is, het sy ontdek dat twee van haar waardevolle oorbelle en ʼn onbekende hoeveelheid Britse kontant verdwyn het.

Wilmot het kort daarna ontdek dat sy ook juwele en Britse kontant, wat sy in ʼn kluis gehou het, vermis.

Wilmot het die diefstal by die polisie aangemeld nadat Billington ontken het dat hy van enigiets weet of betrokke was by die diefstal.

Sy het met haar eie privaatondersoek voortgegaan en ontdek dat twee goudhandelaars in Claremont, drie Cash Crusaders-winkels en een Cash Converter-winkel onlangs juwele by Billington gekoop het. Een van die pandjieswinkels het ook tuingereedskap by hom gekoop wat Wilmot in haar motorhuis gebêre het.

Staatsaanklaer Thersia du Toit-Smit het in die pleitooreenkoms aangevoer dat Billington al in September verlede jaar van Wilmot begin steel het, “terwyl die verhouding skaars begin het”. Mike Jennings, vir Billington, het daarop gewys dat sy kliënt ʼn motor vir Wilmot as vergoeding gegee het wat sy vir R8 000 verkoop het.

Billington moet in maandelikse paaiemente die waarde van die items wat hy gesteel het aan Wilmot, Hildebrant en Cradle Technologies terugbetaal as deel van sy opgeskorte vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Luke ·

Hy kom weg met diefstal, huisares? Dis so goed soos vakansie by die dam. Hy het getoon hy is n skelm agv dat hy sy vorige werkgewer ook besteel het maar hy kry huiares? Is die tronke dan te vol of is ons land se wette maar net vrot?

Luke ·

Hy kom weg met diefstal, huisares? Dis so goed soos vakansie by die dam. Hy het getoon hy is n skelm agv dat hy sy vorige werkgewer ook besteel het maar hy kry huisares? Is die tronke dan te vol of is ons land se wette maar net vrot?

Nico ·

Om iemand by jou te laat intrek wat jy ‘n maand ken en wat jy oor die internet ontmoet het, is nie baie slim nie.

W ·

Dinge kon soveel anders gewees het, met als wat mens daagliks lees is sy gelukkig dat hy net van haar gesteel het alhoewel dit nie reg is nie. Dit wasie slim om hom te laat intrek nie social media boyfriends no good mens moet op jou hoede wees die die wereld is te boos.

Chanel ·

Ja die wereld is boos en om iemand op sodiale media te ontmoet is gevaarlik, maar nogsteeds loop daardie mense in die regte wereld rond. Hulle kom nie uitsluitlik van die “internet” af wat ‘n ander planeet is nie. Sy kon die persoon net so wel in ‘n winkelsentrum of club ontmoet het of selfs by die kerk.

Hulle kon selfs ‘n jaar “uit gegaan” het en dan saam ingetrek het, en dit kon nogsteeds gebeur het.

Ai ai mense, maak julle oe oop. Dis dalk hoekom dit so sleg gaan in ons land. Want ons wil die kriminele en kansvatters in ‘n boksie plaas.

pop ·

Ek het die wonderlikste man< Wat ek op die internet ontmoet het. Mense moet egter hulle oe oophou en nie val vir die soort skurk net oor hulle eensaam is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.