Huisbraak: Derde van boewe stap by deure in

Nog ʼn kommerwekkende neiging is ʼn 10%-toename in voorvalle tussen 18:00 en 06:00 in Desember. (Argieffoto: pixabay)

Die feestyd is vir die meeste mense dalk ʼn kans om te gee, maar data van Auto & General wys dat dit ook ʼn tydperk is wanneer boewe summier vat wat hulle wil hê.

Statistieke van eise by die versekeraar wys dat huisbrake tussen Kersfees en Nuwejaar met ʼn enorme 33% toeneem – heel waarskynlik omdat mense vriende en familie gaan besoek en hul huise kwesbaar vir misdadigers is. Dit word ook toegeskryf aan items van groot waarde wat oor die Kerstyd in huise is.

Boewe het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie ook van werkswyse verander. Wanneer data van Desembermaande vóór die pandemie vergelyk word, kan gesien word dat inbrekers nou meer gereeld toegang tot ʼn huis deur ʼn voor- of agterdeur – eerder as ʼn venster – kry.

“Dit kan ʼn aanduiding wees dat misdadigers nou, met meer mense wat tuisbly, ʼn oop deur uitbuit of taktieke gebruik soos om hulle as afleweraars of tegnici voor te doen.”

Nog ʼn kommerwekkende neiging is ʼn 10%-toename in voorvalle tussen 18:00 en 06:00 in Desember. Boonop word sowat 10% van voorvalle eers meer as twee dae ná die inbraak aangemeld, wat tekenend kan wees dat veiligheidstelsels nie deeglik ingestel is nie.

“Hoewel ons almal ʼn blaaskans wil neem en vir ʼn wyle net van ons verantwoordelikhede wil vergeet, moet ons onthou dat misdadigers nie met vakansie gaan nie en dat ons nie kan bekostig om ons waaksaamheid te verslap nie,” sê Ricardo Coetzee, hoof van Auto & General.

“Ons moet verseker dat elke voorsorgmaatreël getref word en elke sekerheidsmaatreël ingestel is.”

Coetzee sê proaktiewe beplanning is deurslaggewend om ʼn dramavrye Kerstyd te help verseker.

(Argieffoto: pixabay)

Tref só ekstra voorsorg:

  • Gebruik altyd alle veiligheidsmaatreëls tot jou beskikking. Moenie ʼn heining- of huisalarm afgeskakel los, of deure en vensters onnodig ooplaat nie – selfs al verlaat jy die huis net vir ʼn kort rukkie. Dit skep die perfekte geleentheid vir misdadigers om toe te slaan.
  • Wees op die uitkyk vir verdagte voertuie of mense wanneer jy by die huis kom of die erf verlaat, veral as jy pas van ʼn inkopietog teruggekeer het. Mense wat inkopies gedoen het, word dikwels huis toe gevolg.
  • Raak ontslae van bokse sodat misdadigers nie leidrade kan sien oor wat hulle moontlik kan buit nie. Skeur bokse op en versteek dit in vullisdromme of sakke.
  • Hou hoëwaarde-items buite sig. Trek die gordyne toe.
  • Verander jou daaglikse roetine sodat misdadigers nie weet wanneer jy tuis gaan wees nie.
  • Kry hulp. Stel jou veiligheidsmaatskappy in kennis wanneer jy vir ʼn lang tydperk nie tuis gaan wees nie. Vra iemand wat jy vertrou om ʼn oog oor jou huis te hou, pos te verwyder en verskillende ligte aan en af te skakel.

Beveilig jou huis

  • ʼn Stewige muur of heining bied privaatheid en is die eerste linie van verdediging.
  • Maak seker toegangshekke en motorhuisdeure is sterk. Dit moet verkieslik vinnig en op ʼn afstand beheer kan word. Verseker ook dat misdadigers nie hekke van ʼn spoortjie kan lig nie en dat hekmotors versteek of toegesluit is.
  • ʼn Elektriese heining bied ekstra beskerming en is ʼn afskrikmiddel vir misdadigers. Maak seker daar is nie skuiwergate nie.
  • Veiligheidstrale in en om die huis dien as ʼn vroeë waarskuwingstelsel en gee jou en jou veiligheidsmaatskappy ekstra tyd om te reageer. ʼn Alarmstelsel wat gekoppel is aan ʼn veiligheidsmaatskappy, asook ʼn paniekknoppie, bied ekstra gemoedsrus.
  • Daar behoort diefwering voor alle deure en vensters te wees.
  • Identifiseer moontlike skuilplekke vir boosdoeners en sny takke weg. Verwyder items soos tuingereedskap wat gebruik kan word om by jou huis in te breek.
  • Kringtelevisiekamerastelsels word toenemend meer bekostigbaar en help jou om ʼn oog oor jou eiendom te hou. Dit kan selfs op ʼn slimfoon dopgehou word en waardevolle beeldmateriaal verskaf indien daar wel by jou huis ingebreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.