Huisbrand: Kinders vasgemaak; monde toegestop

Argieffoto

Argieffoto

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ʼn saak van moord en brandstigting nadat ʼn pa en een van sy dogters beseer en sy twee ander dogters dood is in ʼn huisbrand.

Sers. Sellwane Mapamela, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is Maandag ontbied na ʼn huisbrand in Zamdela buite Sasolburg. Die 37-jarige pa het buite op die gras gelê. Hy het ernstige brandwonde opgedoen en is na die Metsimaholo-distrikshospitaal geneem en later na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Volgens Mapamela het brandbestryders die brand onder beheer gebring waarna polisiebeamptes die huis binnegegaan het en die liggaam van ʼn vierjarige dogtertjie in die eetkamer gevind het. Die liggaam van ʼn 15-jarige meisie is in ʼn kas in een van die slaapkamers gevind.

ʼn Negejarige meisie is ook in die huis gevind. Sy het oorleef, maar het ernstige brandwonde aan haar lyf opgedoen. Sy is ook saam met haar pa na die Metsimaholo-distrikshospitaal geneem en later na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas.

Volgens Mapamela was die drie dogters vasgebind en hul monde toegestop. “Dit het die polisie genoop om ʼn saak van moord en brandstigting aanhangig te maak. Niemand is nog aangekla in verband met die voorval nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janine N ·

Hoe absoluut sielsiek moet iemand wees om so iets te doen?

Maronel ·

Dit is siek verby. Meer barbaars as enige iets anders. Ons mooi land gaan net elke dag meer en meer agteruit. Sulke mense se ma’s moes hul eerder doodgelê het toe hul gebore is. Hulle is ‘n skande vir die samelewing!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.