Huisbrand op Limpopo-plaas glo opsetlik

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Limpopo-polisie ondersoek twee sake van moord nadat ʼn ma en haar kind Donderdag in die vroeë oggendure in ʼn huisbrand op ʼn plaas in Limpopo dood is.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê daar word vermoed dat ʼn 55-jarige man glo opsetlik die huis naby Letsitele aan die brand gesteek het waarin die slagoffers, Lucy Mabunda (37) en haar seun, Wisdom (2), dood is.

“Die man het glo net ná middernag die huis aan die brand gesteek. Hy is ook tydens die voorval beseer en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Ngoepe gesê.

Die verdagte sal in die Tzaneen-landdroshof verskyn sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Maroela Media het vroeër berig drie mense was in die huis toe die brand ontstaan het.

“ʼn Omstander het die brand gesien en in die huis gegaan om te help,” het Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, vroeër gesê. “Die ma en haar kind het weens die brand omgekom. Die man wat in die huis was, asook die man wat probeer help het, het onderskeidelik ernstige tot matige beserings opgedoen.”

Rossouw het aan Maroela Media verduidelik die brand het op ʼn gedeelte van die plaas uitgebreek waar plaaswerkers in ʼn klein gemeenskap bly. Die brand het nie na ander huise versprei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.