Huise in Distrik Ses steeds nie oorhandig

Die Distrik Ses-museum in Kaapstad. (Foto: Distrik Ses-museum/Facebook)

Die oorhandiging van huise in die voormalige Distrik Ses aan begunstigdes is weer uitgestel.

Matlhodi Maseko, die Wes-Kaapse DA se komiteewoordvoerder oor menslike nedersettings, sê dit is die derde uitstel sedert April vanjaar.

“Die jongste die-hond-het-my-huiswerk-geëet-verskoning is gure weer in Kaapstad,” sê Maseko.

Sy sê ten spyte van die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, se aankondiging verlede maand dat begunstigdes nog in Junie in die huise sal kan intrek, is daar steeds onduidelikheid oor wanneer hulle nou eindelik die sleutels na hul huise gaan ontvang.

Die minister se woordvoerder het daarna gesê die oorhandiging sal om en by 16 Julie gedoen word as alles volgens plan verloop.

“Die datum het gekom en gegaan, met geen sleutels of ʼn plan wat aan die begunstigdes gegee is nie,” sê Maseko.

Sy gaan nou aan Didiza skryf om antwoorde te probeer kry oor wanneer die oorhandiging gedoen gaan word.

“Terwyl haar departement die kans verby laat gaan het om die Wes-Kaapse wetgewer by verskeie geleenthede op die hoogte te bring, vertrou ons die minister sal die saak ernstig opneem, veral gegewe die erns van die situasie en die dringende behoefte aan restitusie en behuising.”

Maseko sê die skynheiligheid op nasionale vlak het nou nuwe hoogtes bereik nadat die ANC en sy alliansievennoot GOOD die kansellasie van ʼn veiling om eiendom in Kaapstad op te veil geloof het, maar niks doen met die bestaande grond en huise waarvoor hul departemente aanspreeklik is nie.

Sy sê Didiza en Patricia de Lille, leier van GOOD en ook die minister van openbare werke en infrastruktuur, sit op grond en projekte wat vir behuising versnel moet word.

“Dit is meer as 30 jaar sedert die oorspronklike Distrik Ses-inwoners moes terugkeer huis toe, maar min. Didiza bied niks meer as verskonings aan nie. Net so moet min. De Lille nog die Wes-Kaap antwoord oor wanneer haar departement geskikte grond vir behuisings gaan beskikbaar stel. Dit sluit Youngsfield, Wingfield en Denel in,” sê Maseko.

Sy sê die provinsie gaan aanhou om druk op die nasionale regering te plaas om sy grondwetlike plig na te kom.

“Wes-Kaapse inwoners verdien beter antwoorde as dat ‘die son nie geskyn het nie’.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Wat verwag ons anders van die vervalle ANC swape? Say no more…

Ansie

Die 16de Julie was lieflike sonskynweer in die Kaap.

Tiptol

Die anc sit op vreeslik baie grond wat in hulle besit is. Hoekom gebeur daar nie iets met daai grond vir die people nie? Hoekom moet grond afgevat word sonder vergoeding as daar reeds so baie grond beskikbaar is?!