ʼn Huiseienaar het Woensdag in die vroeë oggendure ʼn aanvaller geskiet en gewond in Kaap St. Francis in die Oos-Kaap.
Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf gewapende rowers het omstreeks 02:45 by die huis ingebreek. Die rowers was met messe en breekysters gewapen en het ʼn sitkamervenster oopgebreek om toegang tot die huis te kry.
Volgens Nkohli het die rowers ʼn egpaar in die huis oorval. “Tydens die gestoeiery kon die huiseienaar daarin slaag om sy vuurwapen te kry. Hy het een van die verdagtes geskiet en gewond.”
Die verdagtes het van die toneel gevlug. Die gewonde verdagte het egter in die oprit na die huis inmekaargesak. Die 26-jarige man is na ʼn hospitaal geneem vir behandeling waar hy onder polisiebewaking is.
Volgens Nkohli het die huiseienaar ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel. Sy vrou is ongedeerd.
Die polisie het op die toneel op ʼn breekyster, kabelbinders en twee gesteelde selfone beslag gelê. Sake van huisroof en poging tot moord word ondersoek.
Volgens Nkohli is die polisie op die spoor van die ander vier verdagtes wat gevlug het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Hulle wil net nie hoor nie, gaan soek Hom by die naaste kliniek of ongevalle !
en nou moet ons belastingbetalers sy mediese onkostes betaal. Siek!
My mening ook Blom. Ek verstaan nooit hoe mense so vas slaap dat daar deure oopgebreek word met breekysters en niemand word wakker nie.
Mooi man, hou so aan!
Is die huiseienaar aangekla / gearresteer vir poging tot moord? Was dit nie n tyd lank SAPS prosedure nie?