Huishulp het Baba L se ma gewaarsku

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

Baba L se ma verlaat die hof tydens ‘n vorige verskyning. Foto: @MiaWil1, Twitter

ʼn Huishulp het Baba L se ma glo gewaarsku dat sy haar gaan aangee indien sy sien dat die ma haar tweejarige dogtertjie slaan, het die Pretoriase hooggeregshof Maandag gehoor.

Beatrice McKenzie het getuig sy het dié uitlating gemaak nadat sy blou kneusmerke aan die dogtertjie se arm en bobeen opgemerk het. McKenzie het soms na Baba L omgesien.

Die 20-jarige ma het vir haar gesê sy het die merke opgedoen terwyl hulle gespeel het en dat dit sal weggaan.

“Ek wou nie hê enigiemand moet ʼn kind seermaak nie. Ek weet ma’s word soms kwaad en slaan hulle kinders, maar sy het mooi na die kind omgesien. Sy het ook gesê indien die kind die volgende dag siek sou wees, sal sy haar na die kliniek toe neem,” het sy getuig.

Baba L se ma en haar kêrel ontken dat hulle haar probeer vermoor het, haar mishandel of versuim het om seker te maak dat sy mediese behandeling ontvang.

Pieter Coetzee, die ma se advokaat, het dit aan McKenzie gestel dat die gesprek nooit plaasgevind het nie. Hy het ook die vrou se bewering, dat die ma versuim het om die dogtertjie dokter toe te neem toe sy masels gehad het, ontken.

McKenzie het toegegee dat sy gehoor het die kind het van ʼn stel trappe afgeval, maar sy was in daardie stadium met verlof en het nie die merke gesien nie. Alhoewel sy die ma daarvan beskuldig het dat sy te lui was om vir Baba L kos te maak, het sy erken dit was haar eie werk om kos te maak. Sy beweer die ma wou eerder slaap as om met die kind te speel. Sy het getuig sy het nooit gesien dat die ma die kind aanrand of op haar skree nie.

McKenzie het vir die vrou se 36-jarige kêrel gewerk toe hy nog met sy vrou getroud was. Sy het gesê hy het nooit Baba L anders hanteer as sy eie twee kinders nie. “Hy was nooit rof met haar nie, en hy het altyd mooi met haar gepraat. Elke keer wat sy iets verkeerd gedoen het en haar ma haar kamer toe gestuur het, het hy haar weer gaan haal.”

Die hof het ook gehoor Baba L was blou en het nie reageer of asemgehaal nie en het ook nie enige pols gehad toe dr. Michelle Martins haar op 30 Desember by die ongevalle van Akasia-hospitaal ondersoek het nie. Martins en nog ʼn dokter het 15 minute lank gespook om die kind by te bring.

ʼn Skandering het bloeding op die brein gewys en X-strale het ʼn fraktuur van die pelvis getoon,” het Martins getuig. “My aanvanklike prognose was baie swak. Ek het nie gedink sy gaan dit oorleef nie.” Martins het verskeie kneusplekke wat in verskillende grade in die helingsproses oral oor die kind se lyf opgemerk.

Toe sy met die ma probeer praat, het die kêrel gesê sy het twee dae vantevore van ʼn wasmasjien afgeval en sy is na die Steve Biko-hospitaal geneem, maar ná ʼn breinskandering ontslaan.

Baba L het, 15 minute voordat sy na die Akasia-hospitaal geneem is, ineengestort.

Martins het bevind dat Baba L se veelvuldige kneusplekke en beserings opgedoen is deur aanranding.

Die saak hervat Dinsdag wanneer die staat sy laaste getuie sal roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sollie ·

Nou-ja waar is die “Ma” se vriendin nou wat by ‘n vorige berig vertel het hoe die “ma” die beste mamma ooit is? So kom die waarheid nou uit ne!

Elizabeth ·

Kinders word gewoonlik in elk geval nie voor getuies mishandel nie! Die feit dat die vrou kneusplekke en bloumerke gesien en die vrou gemaan het om die kind dr toe te vat wys alles is nie reg nie. Sy het dus ook meer raakgesien as die vriendin wat beweer die ma is die beste ooit. Die feit dat hul die kind nie vir brienskanderings gevat het maar “verdwyn” het van die hospitaal ‘n vorige keer spreek ook boekdele! Ek is jammer GEEN kind kan die beserings opdoen wat hierdie arme kind opgedoen het deur “van ‘n wasmasjien af te val” nie! Nog minder van trappe …

Nicola ·

Dis so verskriklik verskriklik hartseer! Die arme dogtertjie se hele lewe en toekoms is van haar af weg gerokkel deur 2 mense wat hulle lewe gehad het.Sy sal nooit weer ‘n normale kinder lewe of volwasse lewe hê nie.
Hoekom doen mense dit aan kinders HOEKOM??
Daar is welsyne vat eerder jou kind soontoe voor jy sulke aaklige goed doen met jou kind, altans DIE KIND want geen ouer kan dit hulle kind noem as die kind so behandel word nie.

Erika ·

Vra julle Maroela Media om tot die laaste toe te bly in die hof en nie vroeër te verdaag nie dan sal julle die regte inligting kry en nie halwe stories nie. Sy is ‘n baie goeie mamma en sal nooit so iets aan haar kind doen nie……vra mense wat haar persoonlik ken, dan sal julle die waarheid hoor. Die HERE is al een wat kan judge.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.