Huishulp op ventilator ná honde haar verskeur

*Waarskuwing: Hierdie berig bevat ontstellende besonderhede en is nie geskik vir sensitiewe lesers of kinders nie.

Die huiswerker is tans in ʼn bedenklike toestand in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal nadat sy deur haar werkgewer se honde verskeur is. (Foto: Google)

ʼn 46-jarige huiswerker is in ʼn bedenklike toestand in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg nadat sy Dinsdagoggend deur haar werkgewer se drie pitbulls verskeur is. Volgens die polisie was sy teen Woensdag steeds aan ʼn ventilator gekoppel.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê Dupuo Kokolosi was vermoedelik op pad om wasgoed op te hang toe die voorval tussen 09:00 en 10:00 plaasgevind het. Sy was ten tyde van die voorval alleen by dié huis in Potchefstroom, Noordwes.

Die honde is op die toneel deur ʼn buurman doodgeskiet wat die vrou te hulp gesnel het.

“Hy het eers waarskuwingskote afgevuur, maar moes die honde eindelik uit noodweer skiet.”

Dustin Wetdewich, redakteur van die Potchefstroom Herald, woon ook in dieselfde kompleks as die eienaar van die honde. Hy sê daar is vyf huise op dié pypsteelerf geleë.

Wetdewich en die betrokke buurman het saam ondersoek ingestel toe hulle die vrou se gille gehoor het.

“Ons het aanvanklik gedink dis dalk ʼn inbraak.

“Daar is ʼn elektriese hek, so ek het op die muur gespring om te kyk of ek iets kan sien. Van waar ek was, kon ek deur die skuifdeur in die huis sien. Daar het ʼn persoon gelê met drie honde op haar. Dit het gelyk asof hulle haar gaan opvreet.”

In dié stadium het Wetdewich na sy buurman uitgeroep dat dit nie rowers is nie, maar honde wat iemand aanval.

Twee van die drie pitbulls. Hul eienaar sê sy is hartgebroke oor die hele voorval. (Foto: Verskaf)

“Ek het probeer om die honde te roep, maar dit het nie gewerk nie. My buurman het die hek van die spoor afgelig en ingehardloop. Ek het die skote gehoor en kort daarna ook na die toneel gehardloop.”

Wetdewich sê die bebloede vrou het kop onderstebo in die kombuis gesit toe hy by haar kom.

“Die kombuis was vol bloed. Daar het ook stukke vleis gelê wat uit haar bene gehap is. Haar gesig was ʼn bloedmassa. Ek kon haar tande deur haar wang sien. Haar wang het gehang en haar lip was af. Haar neus was basies weg.”

Hy sê die vrou het geluidjies gemaak asof sy seer het, maar dat hy nie juis woorde kon uitmaak nie.

“Ek vermoed sy was in skok. Ek het gedink sy gaan net daar doodgaan.”

Wetdewich se vrou het die ambulans gebel en die foon vir hom gegee.

“Hulle het gesê ek moet solank ’n skoon lap soek om die bloeding te stop. Ek het nie geweet waar om te begin nie, want sy het oral gebloei. Ek het die lap teen haar gesig gedruk om haar lip en wang bymekaar te hou.”

Myburgh sê die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

“Ons is in dié stadium nog besig om verklarings van al die betrokke partye te neem en inligting in te samel.”

Die eienaar van die honde, wie se naam vir eers weerhou word, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is hartgebroke oor die hele voorval. Sy sê die huiswerker het lank by haar gewerk en dat sy nie verstaan wat aanleiding tot die insident gegee het nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.