Huishulp se seun kan nou in Afrikaans studeer

Thabo en Liesbet Thamae (Foto: Verskaf)

’n Verdienstelike student van Olievenhoutbosch in Pretoria gaan vanjaar deur middel van ’n beurs studeer nadat sy ma vasbeslote was dat haar kinders in Afrikaans onderrig móét word, al het dit broekskeur gegaan om kos op die tafel te sit.

Thabo Thamae (19) het vandeesweek met sy studie aan SolTech begin om ’n meulmaker van beroep te word – dít met behulp van verskeie beurse wat onder meer sy studiegeld en verblyf sal dek.

Liesbet Thamae, Thabo se ma, het jaar na jaar daarop aangedring dat haar kinders in ’n Afrikaanse skool onderrig moet word. “Sy is Afrikaans en het op ’n plaas grootgeword. Sy identifiseer nog altyd met die taal,” vertel Hanlie Roets, Liesbet se werkgewer.

Roets ken die Thamae-gesin al die afgelope 12 jaar sedert Liesbet by haar as huishulp begin werk het. Thabo het dus voor haar oë grootgeword en met die jare soos haar eie familie geword, verduidelik sy. “Thabo is ’n goeie seun. Hy is ’n introvert, maar ook ’n regte grapjas op skool. Sy maats is mal oor hom. Hy is so ʼn maklike mens – een van daardie mense wat ander net dadelik van hou,” sê sy.

Liesbet is ʼn baie betrokke ma vir haar drie kinders waarvan Thabo die jongste spruit is.

“Liesbet het Thabo aanvanklik in gr. 1 by Laerskool Bakenkop in Pretoria ingeskryf omdat sy daarop aangedring het dat hy in Afrikaans onderrig moet word. In die daaropvolgende jaar het sy egter haar werk as huishulp verloor en hom uit die skool gehaal omdat daar geen manier was waarop sy Thabo se vervoer skool toe kon bekostig nie,” vertel Roets.

Liesbet woon in ’n informele nedersetting in Olievenhoutbosch en was nog nooit daartoe in staat om Thabo se onderrig te bekostig nie. “Geld vir studiehulpmiddels, boeke en kos is uit die aard van die saak altyd groot bekommernisse vir haar,” verduidelik Roets.

Sowat ’n jaar later het sy twee dae per week vir Roets begin werk en Thabo teruggestuur skool toe. Hy was egter as gevolg van die ontwrigting agter en moes sy gr. 2-jaar herhaal, verduidelik Roets.

Later het Liesbet daarop aangedring dat Thabo na Hoërskool Zwartkop moet gaan omdat dit ʼn Afrikaanse skool is en omdat sy maats soontoe sou gaan. Gedurende sy gr. 10-jaar het die skool haar egter ontbied omdat sy wiskunde- en- wetenskappunte laag was.

“Ek en my man het besef dat Liesbet niks daaraan kon doen nie en het besluit om self in te gryp. Aangesien my man ’n ingenieursagtergrond het, kon hy Thabo met wiskunde en wetenskap help. My man het vinnig agtergekom dat Thabo eintlik baie vlug van begrip is,” sê Roets.

Sy skryf Thabo se swak punte daaraan toe dat hy nie altyd individuele aandag van onderwysers gekry het nie. “Dit het sy selfvertroue geknou en hom laat glo hy is ‘dom’,” sê sy.

“As hy van kleintyd die regte aandag gekry het en sy potensiaal raakgesien is, sou hy hierdie jaar ingenieurswese aan ’n universiteit kon studeer. Dít is eintlik sy droom.”

Tog glo Roets dat meulmaker wel die regte studierigting vir Thabo is. “Hy hou daarvan om met sy hande te werk. Ek dink dit is die regte ding vir hom.”

Roets het deur die jare geweier dat finansiële uitdagings Thabo se toekoms van hom ontneem. Dis toe op ’n opedag verlede jaar dat Roets met Stefan Pieterse, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum, gesels het en die “res is geskiedenis”. Thabo was ’n geskikte kandidaat vir ’n beurs en kon deur die Virseker Studiefonds en die Ikhtus Studiefonds gehelp word.

Dié beurse was ’n groot verligting nadat Thabo selfs ’n ruk lank by sy beste maat op skool se ouers moes woon as gevolg van finansiële laste toe sy ma siek geword het. Thabo loseer gevolglik vanjaar danksy die beurse by “’n baie kwaai tannie se kommune. Hy sal sy kant moet bring,” lag Roets.

“Ek, my man, Thabo se familie en almal wat vir hom omgee, wil graag sien dat hy ’n behoorlike kwalifikasie behaal omdat hy die potensiaal het om ’n groot sukses van sy loopbaan te maak. Hy is slim, snaakse en ’n wonderlike pêl.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Why? ·

Nou kyk, wat weet die ma wat anders demokrate nie weet nie?
Vra maar net.

Petro ·

Mooi storie… Welgedaan Thabo en sy mamma en die Roets familie. Nice om vir n slag iets positiefs te lees.

Risa ·

Kan sulke goeie nuus en dae nie opskudding veroorsaak nie, baie mooi gebaar.

bravo ·

mooi so. Thabo as jy daarop aandring en soosrgelyk doen waarvan die nuus nou vol is, sal daar spesiaal n Afrikaanse skool gebou word. hou so aan.

Johanna Botha ·

Pragtig ! Die ma kan baie trots wees op haar kind !

Koos ·

Met Zwartkops se skool fooie, waarborg ek dat hy gesubsideer was deur die ander leerders se skoolgelde, want ons regering dring aan dat subsudies gegee moet word, maar laat die rekening daarvoor by die beheerliggame! So ook ‘ n dankie aan die skole en alle ouers. Julle het ook ‘n deel aan hierdie sukses verhaal.
Jong man, gebruik jou verhaal om verbetering te bring by Afrikaanse skole, asb, veral die regering se houding oor die skole.

Katerina ·

Dis lekker om so iets positief te sien gebeur, hy en sy ma lyk en klink soos baie ordentlike, sinvolle mense. Ek wens hom en sy gesin alles van die beste toe vir die toekoms, baie geluk Thabo!

Staak saam ·

Tog te kosbaar, ek sou graag wil weet hoeveel gekleurde lede solidariteit het, my red is.
Daar is so baie wit kinders in plakkerskampe wat graag n geleentheid soos hierdie soek en sal aangryp, maar hierdie beurt kom hulle nie toe nie, hulle is die huidige benadeeldes.
Kon hy nie deur NSFAS stuseer nie, met hierdie briljante gebaar ontneem hy n blanke kind die geleentheid.
As julle weer n vuil wit gesiggie ry met vlenters kleure aan, stop en dink, as ons organusasies nie n hand na hulle uitsteek wat smag nie, watter swart regering dit doen?
Ek is teleur gestel.

grys ·

(lees in kalm stem) Nou mos van die punt af, n Afrikaner is n Afrikaner deur vrye keuse, nie vel kleur nie, almal sukkel en al kan ons nie almal help nie kan ons almal iemand help. Dis n goeie gebaar en moet daar bly, onthou net nie almal wit is Afrikaans nie.

Ekke ·

Sjoe @Staak saam…
Kan ons nie kleur uit die storie hou nie. Die artikel gaan oor ‘n kind wat in Afrikaans wil studeer. Punt.
Waaroor is jy teleur gestel?
Stem 100% saam met jou Grys,

Kobus ·

Go Thabo go. Dit voel baie keer jy stoot die kar en ry nie binne nie. Al stoot jy opdraand, daar is iewers voor weer afdraand!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.