Huishulp steel glo R60 000: ‘Ek het daarvoor gewerk’

Die huishulp se identiteit word in die stadium weerhou.  (Foto: Verskaf)

“Daar is niks in jou huis waarvan ek nie weet nie. Ek weet van alles in jou huis, selfs dit wat jy in ’n geheime plek wegsteek. Ek het in jou huis gewerk. Hoe dink jy jy kan geld wegsteek waar ek dit nie gaan kry nie?”

Só sê ʼn huishulp aan haar voormalige werkgewers in eMalahleni (Witbank) nadat sy glo duisende rande se kontant uit hul huis gesteel het. Sy dreig ook die gesin dat sy “’n daad van afgryse” aan hulle sal doen as hulle haar moeilikheid gee oor die gesteelde geld.

Bianca Bezuidenhout het nou ’n saak van intimidasie en diefstal teen haar huishulp (37) van die afgelope sewe jaar aanhangig gemaak nadat dié na bewering R60 000 se kontant uit hul huis gesteel en hulle in stemboodskappe gedreig het. Sy en haar gesin leef in vrees ná die dreigende stemboodskappe.

Bezuidenhout vertel aan Maroela Media dat sy en haar man kontant in ’n kluis in hul huis aanhou aangesien hulle twee besighede bedryf waar hulle met kontant moet werk. Die sleutel van die kluis het egter twee maande gelede verdwyn van waar dit aan een van hul motorsleutels aangeheg was. Bianca het toe die kontant in ’n toiletsakkie in ’n kas wat selde oopgemaak word, weggesteek.

Die geld was sowat ’n maand in die sakkie weggesteek en Bianca sou die kontant wat na elke werksdag oorbly in dié sakkie bêre. Op 27 November het sy oudergewoonte die versteekte sakkie uitgehaal om die dag se oorblywende kontant in te sit. Die sakkie was egter dié keer leeg.

“Jy wil flou word van skok,” sê Bezuidenhout.

Sy verduidelik dat sy aanvanklik gedink het dat haar man die geld op ’n ander plek gaan wegsteek het of haar ’n poets wou bak. Toe hy ook niks van die vermiste geld weet nie, het die egpaar onraad vermoed.

“Ek het die volgende oggend vir haar [die huishulp] ’n WhatsApp gestuur en vir haar gesê om die geld terug te bring. Ek het vir haar gesê ek sal haar help as sy hulp nodig het.”

Die huishulp se selfoon is egter kort daarna afgeskakel en die egpaar het saam met die polisie na haar huis gery. Sy was nie tuis nie.

Later sou Bezuidenhout stemboodskappe ontvang waarin die huishulp erken dat sy die geld gesteel het. “Ek het ses jaar lank vir daardie geld gewerk. Hoekom sê jy vir my ek het nie vir daardie geld gewerk nie?” sê sy in een van drie stemboodskappe wat Bezuidenhout aan Maroela Media verskaf het.

Die huishulp kom oorspronklik van Swaziland en beskuldig in een van die stemboodskappe Bezuidenhout daarvan dat sy haar nooit vir werkloosheidsversekering registreer het nie en haar misbruik het omdat sy ’n buitelander is.

Bezuidenhout ontken dit. “Ek het herhaaldelik vir haar gesê sy moet haar werkspermit in orde kry sodat ek haar kan registreer. Sy het gereeld ’n verskoning gehad. Ek het haar nie elke dag gevra nie, want dit is tog ook haar verantwoordelikheid.”

Die huishulp voer ook aan dat Bezuidenhout haar nooit gehelp of betaal het ná haar man se dood vier jaar gelede soos sy belowe het nie en slegs ’n doodskis gekoop het. Haar man het voor sy dood ook vir die egpaar gewerk.

“Jy het nooit eers vir my ’n sent gegee nie. Jy het nooit eers doeke gekoop nie. Jy het niks vir my gedoen om te wys dat my man vir jou gewerk het nie. Vir hoeveel huil jy? Jy speel groot in ’n klein plek, baby,” sê sy in ’n stemboodskap.

Later beskuldig sy ook die egpaar dat hulle haar nie goed betaal het nie. Volgens Bezuidenhout het sy haar R4 800 per maand betaal. Dié bedrag is bo die minimumloon van R20 per uur.

Sy voer aan dat hulle ook die huishulp se man se voertuig, wat hulle vir hom gekoop het ten tyde van sy indiensneming, ná sy dood vir sy vrou gegee het. Hulle het haar ook drie maande van haar man se salaris gegee, sy werkloosheidvergoeding aan haar uitbetaal en gereeld benodighede, waaronder doeke, vir haar kinders gekoop.

“Ek is in die stadium teleurgesteld en ook kwaad vir myself. Ek sal nooit so iets aan iemand doen nie. Ek is goed vir mense en hier vat iemand dit waarvoor ek hard gewerk het. Ek het haar juis bo die minimumloon betaal sodat sy nié voel dat ek haar indoen nie,” sê Bezuidenhout.

Die egpaar het nou die veiligheid by hul huis opgeskerp nadat die huishulp ook dreigemente in haar laaste stemboodskap gemaak het.

“As jy my moeilikheid gee, gaan jy sien wat ek gaan doen as ’n beloning vir jou. Jy sal wens dat jy nooit gebore is nie. Jy sal jou ouers vervloek omdat hulle jou verwek het om so ’n daad van afgryse te aanskou,” lui die boodskap.

Bezuidenhout sê haar gesin leef in vrees. “Ons weet nie waartoe sy in staat is nie. Sy weet alles van my. Sy ken my, my man en ons kinders se roetine. Ons lewens is baie meer werd as daardie geld.”

Die huishulp se identiteit word in die stadium beskerm aangesien die polisie na herhaalde pogings nog nie die aanklagte teen haar kon bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.