Huismark: Kenners voorspel vir 2018

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

Dit lyk of goeie nuus op pad is vir Suid-Afrika se eiendomsmark.

John Loos, eiendomsekonoom van FNB, sê ofskoon verskeie verkoopsagentskap-steekproewe nog geen oplewing in die huismark tydens die vierde kwartaal toon nie, is hy optimisties oor wat vanjaar vir die eiendomsmark voorlê.

Loos sê wyl eiendomsagente ietwat negatief was in die vierde kwartaal, is daar verskeie tekens wat op ʼn oplewing in die huismark dui. Boonop het voornemende kopers huisskougeleenthede meer as wat verwag is in die vierde kwartaal besoek.

Hy sê die uitkoms van die ANC se nasionale verkiesingskongres het sentiment ʼn hupstoot gegee. Verskeie ekonomiese aanwysers dui ook op sterker groei in die eiendomsmark vanjaar.

Volgens Loos het sentiment teenoor die eiendomsmark veral verbeter. Dit sluit positiewe leidende aanwysers van die Reserwebank in. Die Reserwebank se aanwysers dui op ekonomiese vertroue wat vanaf ses maande van die vrystelling in werking kan tree.

Loos sê optimisme sal ook toeneem weens die stabiele rentekoers-omgewing en stewiger rand. Dit kan net ʼn oplewing in die huismark ondersteun. Gegewe die negatiewe toestande in die vierde kwartaal, verwag hy dat die sektor meer positief sal wees vanjaar.

Juis hierom sê hy dat FNB se huismark-steekproef vir die eerste kwartaal van vanjaar ʼn aks stewiger sal wees teenoor die negatiewe toon van die vierde kwartaal van verlede jaar.

Boonop sê Loos die huidige toestand in die huismark het tot ʼn wanbalans tussen kopers en verkopers gelei. Dit het verkopers genoodsaak om hul pryse af te bring. Hy sê egter ʼn sterker eiendomsmark kan pryse ondersteun.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group, voorspel dat ʼn skuif van ʼn verkopers- na ʼn kopersmark in 2018 gaan plaasvind. “Die middelmark onder R2 miljoen bly die aktiefste, maar baie vatbaar vir finansiële druk. Die toppunt, wat die ekonomiese skommelinge beter kan absorbeer, het ʼn merkbare afname gesien. Die vakansie- en beleggingsmark het ook verlangsaam as ʼn onvermydelike uitval van die swak vertroue.”

Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van die Pam Golding Property Group, sê daar word verwag dat Suid-Afrika se residensiële eiendomsmark sal voortgaan om sy veerkragtigheid te handhaaf, wat ʼn deurlopend gesonde aptyt vir eiendomsbelegging weerspieël – veral in belangrike metro’s en sleutelmiddelpunte.

Intussen sê nog ʼn markkenner dat huispryse vanjaar groei kan beteken. Sy wys egter daarop dat huiskopers kieskeurig sal wees en na waarde sal kyk.

Volgens die kenner sal kwessies soos die begroting, die wisselkoers en rentekoerse ook ʼn rol speel in die eiendomsmark.

“Indien toestande bestendig in die tweede helfte van vanjaar, kan ons ʼn goeie eiendomsjaar verwag. Daar kan dan ʼn sterk oplewing in die mark wees,” sê sy.

Die eiendomsmark sal waarskynlik vanjaar ook deur eerste huiskopers ondersteun word. ‘’Staatsamptenare wat goeie subsidies kry, sal ook kopers wees,” sê sy.

Die prima uitleenkoers staan nou op 10,25%. Ekonome meen as die Reserwebank die repokoers dalk later vanjaar sny, kan dit nie net die huismark nie maar ook ekonomiese groei ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Regtig? Met praatjies van grondonteiening asook die hele Kaap en nou ook ooskaap wat sonder water gaan sit!

Johann Marx ·

Die A&C regering het die volgende reggekry met Suid Afrika: In 2000 is my buurman en sy gesin na Australië. Hulle het ALLES hier verkoop, en met ‘n sak vol geld anderkant geland, en kon ‘n huis koop wat net effens kleiner was as die een waarin hulle in Suid Afrika gebly het. Ek het gekies om te bly. Vandag moet ek SES huise soos myne teen top-prys verkoop om EEN huis soos myne in Australië te kan bekostig!! So wat beteken “oplewing in die eiendomsmark in 2018”?

Cherokee ·

Indien die eiendomsmark styg en ‘n eiendomseienaar verkoop teen ‘n hoër prys, word dit tog net verkoop om vervang te word met ander eiendom wat ook duurder gaan wees. Al wanneer om wins beding kan word, is as ‘n duurder eiendom verkoop word terwille van kleiner skaal. So, korttermyn spekulering gaan nie noodwendig profyt oplewer nie.

Die wins wat gemaak gaan word deur iemand wat verkoop om nie weet te koop nie, gaan baie vinnig tot niet wees in die verblyfmark, tensy dit miskien ouers is wat by kinders gaan inwoon.

Vir nuwe eienaars is dit ook nie voordelig nie want hulle gaan 100’e1000’e meer betaal wat groot verbande tot gevolg gaan hê. Miskien is spekulasie dus die enigste weg tot voordeel, maar op korttermyn gaan dit moeilik wees.

Cecilia ·

Die eiendomsmark kan slegs groei indien daar ‘n groei in ekonomie is wat beteken dat daar meer geld beskikbaar is vir nuwe kopers om eiendom te kan koop. Met die ekonomiese stand in ons land is dit nie moontlik nie.

Lolla ·

Hy bedoel seker eiendomme wat onteien gaan word, en die bank sien n geldjie na sy kant toe kom op n manier. Speak for yourself FNB.

Marinus ·

Dankie tog vir my 1.9% rente hier in europa. Ek sou nie weet hoe ons ooit n huis sou kon koop het in Kaapstad nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.