Huismoles in Wes-Kaapse hooggeregshof

Regter John Hlophe. (Foto: The SA Judiciary)

Daar is letterlik en figuurlik huismoles in die Wes-Kaapse hooggeregshof nadat die adjunk‑regter-president, die hoog aangeskrewe regter Patricia Goliath, ’n omvattende en ernstige klagstaat van veertien bladsye oor beweerde growwe wangedrag by die regterlike dienskommissie ingedien het teen die omstrede regter-president, regter John Hlophe, in ’n saak wat ook Hlophe se vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, betrek.

Die regterlike dienskommissie is heel gewoond daaraan om ernstige klagtes oor Hlophe te ontvang – hy is die regter-president wat die meeste kere aangekla is in die land se geskiedenis. Hy is nog nooit skuldig bevind nie, met verskeie van die klagtes teen hom wat al jare sloer.

Goliath is in 2016 as adjunk‑regter-president van die Wes-Kaap aangestel na die uittrede van die legendariese regter Jeanette Traverso.

Luidens Goliath se klagte aan die regterlike dienskommissie was Hlophe van die begin af hoogs beledigend teenoor en oor haar. In ’n lieflike Kaapse kinkel aan hierdie geskil staan dit in die amptelike hofstukke dat Hlophe,  ’n Xhosasprekende persoon, voor en teenoor ander regters in pront Kaapse Afrikaans na haar verwys het as ’n “klein k**”.

Volgens Goliath het Hlophe al haar grondwetlike regte en verpligtinge weggeneem en vir haar gesê hy het nie ’n adjunk‑regter‑president nodig nie – hy kan die werk alles self doen.

Hy het ook vir haar gesê sy is nie regter‑president-materiaal nie.

Luidens die klagte is die Wes-Kaapse hooggeregshof se regters tans baie verdeeld en is dit ’n slegte en ongesonde werkomgewing. Hiervoor blameer sy onder meer Hlophe se besluit om die weeklikse informele Vrydag-byeenkoms om werk op ’n meer informeel sosiale vlak te bespreek, af te stel – glo omdat hy bang was dit kon tot kritiek op hom lei.

Goliath wys uit dat Hlophe uiters ontevrede en krities teenoor haar was omdat sy in die rigtinggewende 2015-saak wat Suid-Afrika se potensieel rampspoedige planne om ’n peperduur kernkragooreenkoms met Rusland aan te gaan gekelder het, dit gewaag het om kritiek op die gedrag van die Zuma-regering uit te spreek.

Dit herinner sterk aan die ernstigste klagte teen Hlophe wat nou al jare voor die regterlike dienskommissie sloer: die beëdigde verklarings deur verskeie regters van die Konstitusionele Hof dat Hlophe hulle probeer oortuig het om Zuma in ’n uitspraak te bevoordeel.

Goliath beweer ook dat Hlophe rassistiese uitsprake oor wit mense en wit regters gemaak het wat volgens hom “die Nasionale Party goedgesind is”. Die NP het in 2005 al ophou bestaan. Hierdie rasse-vooroordeel van Hlophe het volgens haar daartoe gelei dat hy die nuwe hofgebou uit die kern van George na Thembalethu laat skuif het. Thembalethu is deel van George.

Voorts beweer Goliath dat Hlophe toelaat dat sy vrou, wederregtelik, inspraak op allerlei bestuursbesluite van die hooggeregshof kry.

Hlophe se regsverteenwoordiger het al die bewerings as skinderstories sonder substansie verwerp. ’n Datum vir die regterlike dienskommissie se sitting oor die kwessie is nog nie vasgestel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lewis ·

Uit wie, bestaan die regterlike dienskommissie? Name. en vanne asb. wat oor hierdie baie ernstige aanklagte n besluit moet neem? Kom hy uit die Zuma-era. Dit klink vir my so. Waarom het die wit regters nog nie klagtes teen hom geregistreer nie?

Hans ·

Kan iemand vir ons uitklaar wat die redes is dat ernstige aantuigings teen hierdie omstrede agbare regter al etlike jare sloer, is hy nie deel van ons regstelse se kern probleem nie?

FM ·

Al hierdie “hoë” regters is deur mense aangestel. Die hele lot is maar net mense. Kom ons bou op die enigste Regter. Jesus Christus. HY IS DIE ENIGSTE REGTER

Johan ·

As hierdie aantygings waar sou wees, kan ‘n mens werklik bekommerd wees oor die regter (wat ‘n baie belangrike pos beklee) se onpartydigheid en insig.

Matt ·

@ John, hulle kry bevordering en hoër salarisse en word deur die hoogste gesag in die land beskerm.

Blikas ·

Is dit dieselfde ou wat dronk deur n tuinmuur met sy Jaguar gery het…….

lolla ·

nee dis nie dieselfde regter wat die ongeluk gemaak het nie….daai een het meer as 10jr by die huisgesit met volle regter salaris…hy is nou blykbaar geskors en kry nog al sy voordele as regter….. vir niks doen nie

Heksie ·

Vaderland, vir iemand wat beweer dat hy ‘n regsgeleerde is en boon-op die Regter President, gedra hy hom maar net so swak sy kaders in die parlement. Hulle is nou maar almal uit die dieselfde hout gesny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.