Huispryse styg weer weens groter aanvraag

(Foto: pixabay)

Die groei in Suid-Afrikaanse huispryse het in Julie tot 1,4% jaar op jaar gestyg van 0,7% die vorige maand. Dit is ʼn reaksie op die onverwagse vinnige herstel in markaktiwiteit sedert afsonderingsregulasies effens opgehef is, het First National Bank Dinsdag gesê.

In sy jongste “Residensiële Eiendomsbarometer”-verslag het die bank gesê aanvanklike verwagtinge dat die pandemie ʼn groter en langer impak sou hê op aktiwiteit, met aanvraag wat na verwagting eers later vanjaar sou plaasvind, het nie gerealiseer nie.

Die volume van aansoeke vir nuwe verbande het gestyg tot bo vlakke voor Suid-Afrika op 27 Maart met die afsonderingsperiode begin het in die stryd teen Covid-19. Dit word ook ondersteun deur die volume navrae van kopers – soos bepaal uit verkeer op eiendomswebwerwe wat bo verwagtinge gestyg het, het Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom by FNB, gesê.

Hy het gesê die oplewing in aktiwiteit reflekteer gedeeltelik die aanvraag van kopers wat ʼn besluit geneem het voor die afsonderingsperiode ingestel is, insluitend aankope weens die beduidend laer oordragkostes wat in die nasionale begroting in Februarie aangekondig is en in April in werking getree het.

Die Reserwebank se verlaging van die rentekoers bied ook ʼn voordeel om eiendom te koop – insluitend persone wat vir die eerste keer huis koop.

“Met ander woorde, transaksies wat eers in die toekoms sou plaasvind, gebeur nou reeds, en sommige kopers probeer om hul rentekoerse vas te maak terwyl dit op rekordlaagtepunte is, uit vrees dat dit in die nabye toekoms weer kan verhoog,” het Mkhwanazi bygevoeg.

“Daar is ook tekens van gedragsverandering, omdat huiseienaars hul behuisingsbehoeftes en voorkeure hersien het tydens ʼn lewe in afsondering.”

FNB het gesê historiese lae rentekoerse en lae oordragkoste, veral in die middel van die mark, sal steeds aktiwiteit bly ondersteun, en gevolglik sal huispryse ook hierdeur geraak word.

Daar is egter steeds onsekerheid oor die langtermyn impak van die Covid-19-pandemie, met ʼn beduidende afname in die arbeidsmark wat groter druk op huispryse kan plaas in die medium termyn. “Terwyl ʼn V-vormige herstel dus tans in die data gesien word, sal gevolge uit die arbeidsmark waarskynlik ʼn groter impak hê op die toekoms wat weer tot ʼn daling in aktiwiteit kan lei en dus waarskynlik ʼn W-vormige herstel beteken,” het Mkhwanazi bygevoeg. “Na ons mening sal die huidige aanvraag nie volhoubaar wees nie en dit is onwaarskynlik dat dit die aanvraag sal vervang wat verlore gegaan het weens baie swak arbeidsmarkgevolge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LANA is ELANè ·

Net jammer as jou eiendom verkoop is, moet jy maande wag op die munsipale syfers van TSHWANE omdat niemand daar wil werk nie! Daarsonder kan die verkoop van eiendom nie gefinaliseer word nie en verloor die verkoper duisende rande agv dit. Derduisende verkoopstransaksie hang tussen die hemel en die diepblou see omdat munsipale werkers nie vreeslik versot op werk is nie, ongeag in hierdie tye waar werkloosheid so te sê ‘n gegewe is vir menigte mense. So siek vir hierdie onproduktiwiteit van munsipaliteite oa TSHWANE, waar niemand werk nie want politiekelary vier hoogty!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.