‘Huisrowers’ ná skietgeveg vasgetrek

Die verdagtes se motor ná dit met ‘n ander stilstaande motor gebots het. (Foto: EMPD)

Vier vermeende huisrowers is Maandag in Brakpan in Gauteng in hegtenis geneem en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem nadat hulle gedurende ʼn skietery met lede van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) gewond is.

Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die EMPD, sê beamptes het omstreeks 13:00 ʼn vermoedelik gesteelde motor opgemerk wat glo betrokke was by ʼn vlaag huisrooftogte in die omgewing van Brakpan.

Die vier verdagtes in die blou Ford Focus het die polisiebeamptes in hul diensmotor sien aankom waarna hulle in Collinsweg weggejaag het.

Die beamptes het die hulp van nog metropolisiebeamptes oor die tweerigtingradio ingeroep waarna hulle die verdagtes agternagesit het.

Een van die televisies wat in die verdagtes se motor gevind is. (Foto: EMPD)

Die verdagtes het tydens die jaagtog beheer van hul motor verloor op die hoek van Voortrekker- en Endstraat en teen ʼn stilstaande motor gebots. Die verdagtes het toe uit hul motor geklim en op die beamptes losgebrand.

Die beamptes het teruggeskiet en al vier verdagtes is in die proses gewond. “Die verdagtes is vir mediese behandeling na die naaste hospitaal onder polisiebewaking vervoer weens ligte beserings wat hulle opgedoen het,” sê Mokheseng.

Die verdagtes se motor is later deursoek en daar is op twee vuurwapens, skerp ammunisie, vier televisiestelle, juwele en ander huishoudelike toestelle in die Ford Focus afgekom.

Die vier verdagtes staan nou tereg op aanklagte van poging tot moord, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die besit van ’n gesteelde motor asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Volgens Mokheseng sal die verdagtes, tussen 37 en 42 jaar oud, in die plaaslike landdroshof verskyn sodra hul uit die hospitaal ontslaan en medies geskik is.

Die ondersoek duur voort.

Een van die vuurwapens wat in die motor gevind is. (Foto: EMPD)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherry

WILD WILD WEST!

Harry

Neem gerus kennis. Hierdie tipe misdaad is ons almal se voorland. Een van die gevolge van korrupsie, wanbestuur en ‘n regering van vegrype. Armoede is nie die enigste oorsaak nie. Pas op julle families!

Jenny

Daar was ook ‘n gewapende rooftog in Benoni met dieselfde kleur (blou) kar.