Huiswerker vas ná moord op priesterskind

Die polisie Woensdag by die slagoffer se huis in Midrand. Foto: Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line / Twitter

Die polisie Woensdag by die slagoffer se huis in Midrand. Foto: Yusuf Abramjee, hoof van die teenmisdaadveldtog Crime Line / Twitter

ʼn Huiswerker is in hegtenis geneem nadat Tahira Mitha (28) Woensdag in haar huis in ʼn veiligheidskompleks in Midrand, noord van Johannesbrug, vermoor is.

Ao. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die 27-jarige huiswerker sal binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn.

Maroela Media het Donderdag berig dat Mitha, die dogter van ʼn priester van Laudium in Pretoria, omstreeks 11:00 saam met haar huiswerker tuis was toe drie gewapende mans hulle oorval het. Die mans het aan die deur geklop en ʼn vuurwapen op Mitha gerig toe sy die deur oopgemaak het. Daar is aanvanklik vermoed dat die huishulp die deur oopgemaak het, maar Maphakela het Vrydag gesê Mitha het die deur oopgesluit.

“Die huiswerker is in ʼn kamer ingedwing, terwyl die slagoffer met ʼn geweer aangehou is en die mans twee skootrekenaars, ʼn iPhone en ʼn kluis met ʼn vuurwapen in gebuit het,” het Maphakela gesê. Die mans het Mitha vermoedelik verwurg voor hulle gevlug het.

“Die verdagte is in hegtenis geneem ná verdere ondersoek. Die twee gesteelde skootrekenaars is in ʼn huis in ʼn informele nedersetting in Tembisa opgespoor.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en roof. Die polisie is steeds op soek na die huiswerker se drie vermeende medepligtiges, tussen 20 en 25 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Ons het 10 jaar terug laas ‘n bediende gehad, nog nooit weer ‘n inbraak gehad nie, en ons bly in die voorstad met die hoogste misdaadsyfer. Die huis is nie altyd eksieperfeksie nie, maar dis leefbaar en elkeen dra sy deel by. Kan net noem dat die boerboel ook sy deel bydra om die misdaadstatistiek op my eiendom laag tehou !

lorayne ·

Sê ek ook Jan!
Daar is niemand wat ‘inside information” uitgee oor my of die inhoud van my huis nie . . Veral ouer mense moet asseblief kennis neem veral as jy soos ek, alleen woon buite die dorp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.