Huiswerker verjaag boef wat deur venster klouter

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: James Fitzgerald/Unsplash)

ʼn Dapper huiswerker in Stormsrivier in die Oos-Kaap het die planne van ʼn vermeende inbreker gefnuik toe dié by haar bejaarde eienaar probeer steel het.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die huiswerker was Dinsdag om 05:45 doenig in die huis waar sy werk toe ʼn jong man haar genader het vir ʼn glas water.

“Nadat die man die water gedrink en by die huis weg is, het die huiswerker voortgegaan met haar werk.

“Oomblikke later het sy die einste man in die huis se badkamer betrap, nadat hy vermoedelik deur die venster geklim het.”

Die beweerde inbreker het glo ʼn skootrekenaar probeer gryp toe die huiswerker hom onderskep het.

“Terwyl die twee in ʼn stoeiery betrokke was, kon die huiswerker daarin slaag om ʼn paniekknoppie te druk wat ʼn private veiligheidsdiens na die huis ontbied.”

Volgens Nkohli is die 19-jarige verdagte buite die huis aangekeer en in hegtenis geneem terwyl hy probeer ontsnap het.

Die huiswerker, asook die 90-jarige eienaar van die huis, het ongedeerd van die voorval afgekom.

Die man sal na verwagting binnekort in die Stormsrivier-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot huisroof.

In ʼn onverwante saak is ʼn 33-jarige man vroeër vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy ʼn bejaarde man in sy huis aangeval en beroof het.

Die verdagte het na bewering om 13:30 die 82-jarige man se huis in Kenton-on-Sea betree en hom aangerand.

“Die verdagte het glo ʼn skootrekenaar, selfoon en kontant gebuit en op die vlug geslaan,” sê Nkohli.

Enkele minute ná die voorval het die polisie die verdagte in hegtenis geneem en die gesteelde goedere aan die slagoffer terugbesorg.

Die bejaarde man is op die toneel vir matige beserings behandel.

Die verdagte het reeds in die Kenton-on-Sea-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Di ·

Dis so hartseer dat die skuim van die aarde altyd ou mense beroof, aanrand en vermoor. Lafaards! So bly daar is nog steeds goeie werkers wat sal opstaan vir hulle

Misky ·

Met ons land se vrot regstelsel en oorvol tronke is die twee skurke volgende week terug op hul ‘pos’

Hannelize ·

Het die huis eienaar die huis werker gekoop? Ek twyfel. Dit beter om te se werkgewer…

Tanniepetoors ·

Die dapper vrou is die ou dame se heeltydse versorger en het haar lewe gewaag vir haar werkgewer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.