Huiswerkers steier onder uitwerking van pandemie – verslag

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Een uit elke vyf huishoudelike werkers in Suid-Afrika het hul werk weens die Covid-19-pandemie verloor terwyl twee uit elke vyf huiswerkers in Kenia en Nigerië tans sonder werk sit weens die voortslepende koronaviruskrisis.

Huishulpe word nou genoop om al meer skuld aan te gaan en offer selfs kos op om hul maandelikse inkomste te probeer rek.

Dié gegewens blyk uit die jongste verslag van die Suid-Afrikaanse aanlyn skoonmaakplatform SweepSouth wat huiswerkers en voornemende klante verbind. Die platform se jaarlikse verslag handel oor huiswerkers in Afrika se betaling en werksomstandighede.

“Soos ons nadink oor die impak van die pandemie, sou baie van ons voorspel het dat die ergste ʼn jaar later agter die rug sou wees. Tog sien ons steeds werkverliese en ekonomiese lyding onder huiswerkers,” sê Aisha Pandor, medestigter en uitvoerende hoof van SweepSouth.

Vanjaar se verslag is egter die eerste om data van drie Afrikalande in te win. Meer 7 000 mense in Suid-Afrika, Kenia en Nigerië het aan die opname deelgeneem.

Daar word in die verslag genoem dat die ekonomiese uitwerking van die pandemie “rampspoedig” is vir huiswerkers wat hul basiese lewenskoste betref.

Huishulpe verdien gemiddeld R2 536 per maand terwyl hulle maandelikse lewenskoste R2 890 is.

Argieffoto

“Dit beteken dat hulle gedwing word om skuld aan te gaan of hul besteding aan lewensbelangrike items te verlaag om net elke maand te oorleef,” lui die verslag.

Uit die opname blyk dit dat 42% van huiswerkers in Suid-Afrika se inkomste aan verblyf bestee word, terwyl 38% aan kos en 19% aan vervoer bestee word.

Altesame 67% van Suid-Afrikaanse huiswerkers is in die skuld en 56% skuld geld by ’n winkel.

Slegs 2% van huiswerkers in Suid-Afrika behoort tans aan ’n mediese fonds en maar 8% het spaargeld of ’n pensioen. Altesame 17% van Suid-Afrikaanse huiswerkers is deel van ’n stokvel.

SweepSouth sê op ʼn meer positiewe noot is daar ʼn duidelike verband tussen beter beskerming vir huiswerkers en die omstandighede waaronder hulle werk.

“Suid-Afrika se uitgebreide beskerming, spesifiek vir huiswerkers, bevat basiese regte en beginsels om ordentlike werk te bewerkstellig. Hoewel Kenia op sommige gebiede dieselfde voorbeeld gevolg het, is die regulasies van Nigerië nie so uitgebreid soos dié in Suid-Afrika of Kenia nie.”

Huiswerkers in Suid-Afrika werk gemiddeld vier dae per week. Dié in Kenia werk gemiddeld vyf dae per week en huiswerkers in Nigerië ses dae per week.

Sowat 4% van Suid-Afrikaanse en 7% van Keniaanse huiswerkers werk sewe dae per week. In Nigerië werk een uit elke drie (33%) huishulpe sewe dae per week.

Sowat 3% van huishulpe in Suid-Afrika werk langer as tien uur per dag gevolg deur Kenia (13%) en Nigerië (33%).

Die verslag dui voorts aan dat huiswerkers op tuisbodem die minste geneig is om mishandeling in die werkplek te ervaar juis omdat hulle deur beter wetgewing beskerm word.

Soveel huishulpe beleef verbale mishandelingSoveel huishulpe beleef fisieke mishandelingSoveel huishulpe beleef seksuele mishandeling
Suid-Afrika23%4%2%
Kenia42%15%16%
Nigerië55%19%19%

Sowat een uit vyf van die respondente sê die afgelope jaar het ’n negatiewe invloed op hul geestesgesondheid gehad. Net 2,2% van hulle het met iemand daaroor gaan gesels. Depressie was onder dié werkers die algemeenste diagnose (72%) gevolg deur angs (25%).

Ander kwessies wat hulle kwel is werkloosheid (52%), skuld (25%) en gesinsprobleme (15%).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Met die lone wat huis werkers moet kry kan n mens dit nie meer bekostig nie.

Johan ·

Wat van al die mense wat in restaurante en bottelstore werk

melaney ·

Die verhoogde salarisskaal vir huiswerkers vir 2022 is blykbaar onlangs aangekondig. Tog word daar daagliks werkers weens die pandemie afbetaal. Mense kan nie meer huiswerkers bekostig nie.

Realis Thailand ·

Dit is die regering waarvoor die meeste van hulle gestem het
My dogter het een gehad groot anc bondgenoot en toe sy haar wil afdank moes sy deur die hele proses gaan.
Het nou n bruin dame wie vir haar werk meer verdien weens die goeie werk en haar vriendin geword en die werk nou by haar suster ook en daar word vir die kind gesorg by die skool

Tanniepetoors ·

Ek betaal my huiswerker steeds, maar sy kom nie werk nie. Die risiko vir haar en haar kleinding in ‘n taxi en daarna vir my is net te groot. Hoop daar is ander wat ook so redeneer.

Theuns ·

Die feit is dat thuiswerkers in oorvol taxis na hul werk gaan. Dit skep ‘n Covid gevaar vir werkgewers wat bo en behalwe die salrisse, dit \n risiko maak om huis en tuinwerkers in jou huis te he. Met die hard lockdown is daar ook besef dat die werk wat sommiges van 8 tot 3 vat, in net 3 ure gedoen kan word. Daar is ook alternatiewe soos om wasgoed by laundromat te laat stryk en selfs was wat goedkoper uitwerk as salaris en die frustrasie . Nee wat, baie sal nog hul werk verloor of dae verkort tot slegs die uiters noodsaaklike. Die regering se kommunistiese benadering tot salarisse help ook nie on mense in werk te hou nie.

Elize ·

Ek het oor die naweek ‘n kwotasie aangevra by Sweep South vir ‘n eenmalige skoonmaak. Die bedrag was R1900 vir ‘n 3 slaapkamer huis. Besluit self of jy dit kan bekostig want ek kan nie.

Realis Thailand ·

Ek moet se ek is uiters bevooreg hier
betaal my huiswerker net R120 per dag want dit is die regering vasgestelde loon.geen vervoer en geen ander koste nie
Klere laat ek was by die wassery ,was stryk kos my R70 vir tien hemde en tien broeke
As sy voltyds werk sewe dae n week 8 tot 5 is dit is dit ongeveer R3600 per maand met geen af dae nie .Dit is darem nie wat ek sou doen nie
Woon 50 meter van my geen vervoer koste nie
Gee haar ook n sak rys per maand 50 KG

Danie ·

Indien my huiswerker nie haarself binnekort laat inent nie sal sy nie toegelaat word om terug te kom werk toe nie.
Die wetgewing rondom huiswerkers is in elke geval van so n aard dat die gewone man maar kan leer om sonder hulle klaar te kom ten einde ongevraagde moeilikheid te vermy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.