Hulde aan ‘grootse vlieëniers’ wat in vliegongeluk sterf

Rama Iyer en Des Barker by die Patchen Explorer. (Foto: Facebook)

“Grootse vlieëniers en mentors.”

Só het een van die talle huldeblyke gelui wat gebring is na die dood van twee vlieëniers Woensdag by die Swartkop-lugmagbasis in Pretoria. Die vliegongeluk het die lewe van die bekende voormalige lugmagvlieëniers Des Barker en Rama Iyer geëis.

Albei was lede van die lugmag se reserwemag en het vir die Lugmagmuseum gevlieg.

Die Patchen Explorer. (Foto: Facebook)

Die Patchen Explorer waarin hulle gevlieg het, het omstreeks 09:30 neergestort.

defenceWeb berig volgens ʼn ooggetuie het die vliegtuig laag oor sy huis gevlieg en die enjin het geweldig rof geloop, moontlik omdat dit gevries het. Dit het kort voor aanloopbaan 02 neergestort.

Des Barker. (Foto: Facebook)

Brig.genl. Mongezi Kweta, ʼn woordvoerder van die weermag, sê ʼn ondersoek na die noodlottige voorval word gedoen om die oorsaak en die gebeure wat daartoe gelei het, vas te stel.

Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, haar adjunk, asook die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, en verskeie ander senior offisiere het intussen hul medelye met die familie, vriende en kollegas van Barker en Iyer betuig.

“Mag hulle siele ewige vrede vind,” lui ʼn verklaring van die weermag.

Rama Iyer. (Foto: Facebook)

defenceWeb het vroeër ook berig Barker was maar die tweede Suid-Afrikaner om erelidmaatskap van die invloedryke Koninklike Lugvaartvereniging (RAeS) te ontvang. Die toekenning is gedoen vir onder meer die rol wat Barker gespeel het om ʼn formele toetsvlugkapasiteit in Suid-Afrika vir die verdedigingsbedryf te vestig.

Hy was voor sy aftrede onder meer die lugmag se hooftoetsvlieënier en bevelvoerder van die toetsvlug- en ontwikkelingsentrum. Die Patchen Explorer was die enigste vliegtuig van sy soort – net een daarvan is ooit gebou – en is ontwikkel vir onder meer lugfotografie en wetstoepassing. ʼn Prototipe is na Suid-Afrika gebring, maar het nie aan die verwagting voldoen nie en is nooit in gebruik geneem nie.

Dit het jare lank in onbruik in ʼn vliegtuigloods gestaan tot dit aan die Lugmagmuseum geskenk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Hartseer. Hoop onderhoud was nie ‘n faktor nie, alhoewel dit ‘n gemeenskaplike deler teenwoordig is.

Spook ·

Die vliegtuig moet ‘n vark wees om te vlieg met die enjin wat so hoog bo die vlerk sit.
Ek wonder watse invloed die skroef op die lugvloei oor die hoogteroer het? Met ‘n enjin wat nie krag verwek nie, sal dit wel ‘n invloed hê op die lugvloei.

Michelle ·

Ek was bevoorreg genoeg om een keer in haar te kon vlieg. Sy was ‘n droom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.