Hulde aan Pam Golding gebring

Pam Golding (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Eiendomsagente, oftewel die Estate Agency Affairs Board (EAAB), het Woensdag gesê die eiendomsikoon Pam Golding wat Dinsdag oorlede is, sal onthou word vir haar sin vir besigheid.

Golding is Dinsdag oorlede by haar Wittebomen-huis in Constantia, Kaapstad, in die ouderdom van 90.

“Ons betuig ons diepste medelye aan haar kinders, die hele familie, Pam Golding Properties en die hele sektor waar sy bitterlik gemis sal word en onthou sal word vir die reuserol wat sy in die professionalisering van die industrie gespeel het,” het die EAAB in ʼn verklaring gesê.

Golding het in 1976 die maatskappy gestig en dit tot ʼn leier in die industrie uitgebrei ten spyte daarvan dat die bedryf deur mans gedomineer word.

“Haar sukses moet alle vroue in Suid-Afrika aanmoedig dat enigiets moontlik is met harde werk en deursettingsvermoë.”

Golding het in 1986 ʼn kantoor in Londen oopgemaak en saam met haar seun en uitvoerende hoof, Andrew, is die onderneming in die buiteland verder uitgebrei tot meer as 300 kantore oor Suider-Afrika, Afrika, Europa en eilande in die Indiese Oseaan.

Die EAAB het gesê Golding het ʼn sleutelrol gespeel om te verseker dat eiendomsagente gehaltedienste lewer en het hoë standaarde gestel, nie net vir haar maatskappy nie, maar vir die hele sektor.

“Ons gaan haar passie vir die sektor, haar mentorskap en haar bereidwilligheid om altyd iets vir die samelewing te doen mis,” het hulle gesê.

Die raad het ook gesê dat Golding en Winnie Madikizela-Mandela, wat ook vandeesweek oorlede is, beide hul lewens daaraan gewy het om vir die bevryding van vroue en gelyke behandeling in die samelewing te veg.

“Hul afsterwes laat ʼn groot leemte in ons nasie en ons wens vir beide families krag in dié moeilike tyd.”

Golding word oorleef deur haar twee seuns, Peter en Andrew, dogter, Jilly, hul eggenotes en tien kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

So lees ek die artikel, en is nogal bewus van die werklike omvang van en invloed as vrou en SA ner… totdat ek by die deel kom wat die necklase moord aanstoker se naam saam. met Pam Golding genoem. word… en dan die rede vir haar naam wat genoem word? SKOKKEND en SO onvanpas… SHAME ON YOU!

Oom Kalahari ·

Stem saam jou Wurmpie, sy was nou waatlik ‘n vrou en kan gerus ‘n grade toekenning kry soos ander. Dalk ‘n standbeeld ook van haar, blanke plakkerskampe/ nedersettings na haar vernoem, straat en dorp name, ook ‘n Pam Golding fonds ens. RIV Pam, jy was ‘n merkwaardige vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.