Hulde gebring aan brandbestryders by emosionele gedenkdiens

ʼn Emosionele gedenkdiens is Woensdag by Ellispark in Johannesburg gehou vir die drie gevalle brandbestryders wat hul lewens verloor het tydens die verwoestende brand verlede week in die Johannesburgse middestad. (Foto: ANA)

ʼn Emosionele gedenkdiens is Woensdag by Ellispark in Johannesburg gehou vir die drie gevalle brandbestryders wat hul lewens verloor het tydens die verwoestende brand verlede week in die Johannesburgse middestad.

Mzukayise Zwane, ʼn brandbestryder wat oor die drie kollegas gepraat het, het gesê die toestande by die Bank of Lisbon-gebou was nie ideaal nie en dat hulle nie water gehad het nie, wat dit vir hulle moeilik gemaak het om hul werk te doen.

Zwane het gesê die gebou was oud en “niks het gewerk nie”, maar om te wys hoe toegewyd hulle is, het sy kollegas na die 23ste vloer geloop om die brand te bestry.

“My broers verdien om hier te wees vandag. Toe hulle daar gekom het, was daar nie water nie en dit het dit vir hulle moeilik gemaak om hul werk te doen.”

Zwane het gesê dat hy teleurgesteld is in die regering wat in stede daarvan om op ernstige probleme te fokus hul geld op hulself spandeer.

Simphiwe Moropane (28), Khathutshelo Muedi (37) en Mduduzi Ndlovu (40) is tydens die brand op 5 September dood.

Moropane is glo eerste oorlede toe hy gegly het en uit ʼn venster van die 23ste vloer geval het. Hy het glo nie meer suurstof oorgehad nie en het na die lysie gegaan om vars lug te probeer kry. Muedi en Ndlovu het gesterf as gevolg van rookinaseming.

Honderde brandbestryders, metropolisiebeamptes en polisiebeamptes het hulle by die familielede van die brandbestryders aangesluit om die mans se lewens te vier.

Die Bank of Lisbon-gebou huisves ook die departemente van gesondheid, menslike nedersettings, en samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede.

ʼn Emosionele gedenkdiens is Woensdag by Ellispark in Johannesburg gehou vir die drie gevalle brandbestryders. (Foto: ANA)

Dit het sedertdien aan die lig gekom dat die gebou aan net 21% van die gesondheid- en veiligheidstandaarde voldoen het teenoor die wenslike 85% of hoër.

Volgens Simphiwe Sibiya, ʼn ander brandbestryder wat tydens die gedenkdiens gepraat het, sou die brand nie “so erg” gewees het as daar aan dié standaarde voldoen is nie.

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die South African Federation of Trade Unions (Saftu) het gesê hy het nog nooit ʼn plek gesien waar die regering toelaat dat mense sonder ʼn brandblusser en water werk nie.

Sommige brandbestryders het baniere opgehou en R4 000 se gevaartoelae geëis. Die oorledenes sal onderskeidelik Vrydag, Saterdag en Sondag begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KG ·

Hierdie is regtig baie hartseer, ongelukkig weereens die bewys van ‘n onbevoegde regering….

leser ·

sterkte aan gevalle brandweermanne se families
maak ‘n masiewe ophef van die werk wat julle doen met die regering
hulle is inderdaat verantwoordelik vir die dood van jul kollegas
stel eise in teen “stir-all” en sy “comrades”

Chanel ·

So lewe ek elke dag met vrees dat my man nie huis toe gaan kom nie (hy werk vir die SAAF Brandweer), MAAR, dis ons roeping, dis ons lewe om te help waar en wanneer ons kan. Sterte aan ieder en elke persoon wat n geliefde so moet verloor. God sal julle weer sterk maak, God sal julle nooit alleen laat nie, glo net in God Hy’s jou antwoord.

Ander Annie ·

Ek huil saam met julle as kollegas en die bedroefde families. Wanneer julle hierdie 3 brawe helde te ruste gelê het, hoop ek daar is ‘n senior regsman wat die families pro bono gaan help met ‘n regsaksie. Geen geld kan hulle terugbring nie maar dit kan hulle geliefdes help. Rus In Vrede brawe helde. Julle onbaatsugtige diens sal nie vergeet word nie. Weereens my innige simpatie aan die bedroefde families en kollegas.

Liz ·

Ek stem 100% saam, Ander Annie. En dit terwyl ek lees v Zuma vir wie so goed gesorg word en ook v al sy vrouens. Soveel onreg in hierdie land. Ek hoop iemand veg vir hierdie 3 helde se weduwees/naasbestaandes. Hulle moet sommer d eienaars vd gebou ook hof toe neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.