Hulde gebring aan ‘kosbare taalvriend’

Prof. Christo van Rensburg. Foto: Afrikaans.com

Afrikaans.com het Dinsdag, op Afrikaanse Taaldag, met hartseer hulde gebring aan prof. Christo van Rensburg. Van Rensburg is Maandag onverwags op 80 oorlede.

Volgens Afrikaans.com het Van Rensburg oor wye kennis beskik en sy belangstelling in die geskiedenis van Afrikaans het in die tagtigerjare begin toe hy ʼn projekleier was vir ʼn navorsingsprojek wat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing aangepak het. Die projek het gehandel oor die Afrikaans van die Griekwas.

Van Rensburg was met sy dood ʼn navorsingsgenoot verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Die mense wat deur die jare met hom saamgewerk het, getuig almal van sy geweldige entoesiasme vir die Afrikaanse taal en sy passie vir die geskiedenis daarvan.

“Hy het ook met ʼn ruim hart inligting gedeel en dit het nie saak gemaak of hy iewers op ʼn lughawe gesit het, of in sy kantoor by die universiteit was nie, hy het altyd geesdriftig enige navraag beantwoord.”

Van Rensburg is vroeër vanjaar met die Jan H Marais-prys vereer. Hierdie prys word sedert 2015 jaarliks toegeken om erkenning te gee aan ʼn “uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans”.

Vir sy uitnemende studies oor Afrikaans het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom onlangs met die CJ Langenhoven-prys bekroon.

Die Akademie het by monde van prof. Jacques van der Elst gesê met Van Rensburg se dood het Afrikaans een van sy belangrikste navorsers oor die herkoms van Afrikaans verloor.

Hy het gesê Van Rensburg was sedert 1979 lid van die Akademie en het gedien as lid van die Taalkommissie. Hy was ook ʼn medewerker aan die Afrikaanse woordelys en spelreëls.

Ten tyde van sy dood was Van Rensburg hard aan die werk met navorsing oor verskeie aspekte van Afrikaans se geskiedenis. Hy sou op Saterdag 20 Oktober een van die sprekers wees by die Afrikaanse Taalkommissie se Herkomsseminaar in Pretoria.

In opdrag van die Afrikaanse Taalraad het hy die publikasie So kry ons Afrikaans geskryf het hy. ʼn Engelse vertaling van dié baanbrekerswerk oor die herkoms van Afrikaans word beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.