Hulde gebring aan Piet Botha: ‘Goeienag, Generaal’

piet bothaTalle Suid-Afrikaanse skrywers en musikante het huldeblyke aan die ontslape blues- en rockmusikant, Piet Botha, op sosiale media gelewer.

Dié sanger het Sondag in die ouderdom van 63 sy stryd teen pankreaskanker verloor.

Erns Grundling, joernalis en skrywer van die onlangse Afrikaanse topverkoper, Elders, het op sosiale media geskryf hy het meer as 20 jaar gelede die Piet Botha-album, Suitcase vol winter, in sy matriekjaar gekoop.

“Dit was ’n hengse voorreg om jou ʼn bietjie te kon ken deur die jare, Piet. Die keer toe ek jou roadie was tussen Jeffreysbaai en Mosselbaai, en jy vir my gevra het: “Ken jy die road?” bly een van my mees kosbare herinneringe in hierdie lewe.

“Maar nou het jy gegroet, in die winter, en dit is hartseer maar miskien is Gertjie reg, ‘miskien is die dood ʼn blye ding, miskien is dit soos slaap, miskien is dit soos ʼn trein wat aankom in die Kaap’. Jou middernagtrein het vertrek. Ek was nooit in die army nie, maar jy was my enigste Generaal en ek sal altyd aan jou dink op die road. Rus sag,” het Grundling geskryf.

Piet Botha. Foto: Facebook

Die rocksangeres en aanbieder van die kykNET-geselsprogram Die Republiek van Zoid Afrika, Karen Zoid, het ook ʼn roerende huldeblyk aan dié rocker op haar Facebook-blad geskryf.

“Daar is net een Piet. Nog altyd. Die verlore seun wat aanhou loop het, het homself gevind het op ʼn plank in die see of met ʼn stukkie hout en ses snare op die verhoog of sitkamer. Salig tussen sy kinders en sy vriende. Salig voor ʼn klavier. ‘n Woordenaar in murg en been,” het Zoid gesê.

“Jy was maar altyd net jouself en dit was ʼn voorreg om te kon aanskou. Die einde van jou lewe is so ʼn groot verlies wat rippel deur ons harte van oral oor die plek. Die Here vat altyd die niceste mense vir Homself. No fair. Goeienag Generaal. Ek sal jou kindness nooit ooit vergeet nie.”

Johrné van Huyssteen, radio-omroeper en voorsanger van die groep Ddisselblom, sou op 14 Julie saam met Botha en talle ander Afrikaanse musiekgroepe en kunstenaars die verhoog inneem tydens die Bands for Bricks-konsert by die Sun Arena in Menlyn, Pretoria.

“Koebaai julle konings, koebaai,” het Van Huyssteen op Facebook geskryf. “Rus soos ʼn rocker, Piet. Ek stuur nuwe snare.”

Piet Botha en Riku Lätti. (Foto: Facebook via Riku Lätti)

Piet Botha en Riku Lätti. (Foto: Facebook via Riku Lätti)

Riku Lätti, musikant en aanbieder van die musiekprogram Die Wasgoedlyn, het geskryf: “Rus in vrede, Piet. Vir jou net liefde. Ek sou verkies om net nog ʼn jaar saam met jou musikaal te kon reis.”

“Ons harte gaan uit aan die familie en vriende van Piet Botha wat in die ouderdom van 63 oorlede is. Rus sag, Piet,” het kykNET op sy amptelike Facebook-blad geskryf.

Botha, ʼn legende in die rockwêreld wat naam gemaak het as voorsanger vir die rockgroep Jack Hammer, het verlede jaar in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê op sy ouderdom was hy nie bang om te toer nie.

“Noudat ek ouer word, kyk ek na wat mense soos Willie Nelson doen. Hy is vir my ʼn groot rolmodel. Ons toer aanhoudend, dan is ons in die Kaap dan is ons hier. ʼn Mens kan omtrent twee jaar op die pad bly met ʼn album, maar jy moet nuwe musiek skryf in die tussentyd.

“Ons wou nog altyd weer ʼn Afrikaanse album maak, maar die tyd gaan so vinnig verby. Dis vreemd hoe vinnig die tyd verby gaan as jy ouer word.”

Botha is op 18 Julie 1955 gebore. Hy laat onder andere sy drie dogters, Robynne, Jessica en Piya, en sy sibbes, Roelof Botha, Anna Hertzog en Lien Botha, agter. Sy pa, die politikus Pik Botha, is op 12 Oktober verlede jaar in die ouderdom van 86 jaar in Pretoria oorlede.

Luister bo-aan die berig na Piet Botha se onderhoud met Maroela Media in Maart 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Griet ·

MOOÍLOOP… Piet…daar waar geen pyn meer is,geen grense,net Vrede…

Eunice ·

Jou musiek sal altyd bly rondswerf oor die aarde heen,Piet…rus in Vrede

Valerie ·

Het hom en Jack Hammer in Margate se straat mardi gras gesien speel toe hy maar 33 jaar oud was. Hulle het lewe in die plek gebring. Thank you for the music, Piet.

Daleen ·

Baie hartseer, van my aangenaamste tye by hulle huis in pta in die 1970’s, ons altyd saam met Piet wat vir ons musiek maak, plat op die aarde mens, RIV, jy is op ‘n beter plek sonder al die pyn, sterkte aan sy familie

Rus sag Piet ·

Sarajevo was een van die beste liedjies ooit deur plaaslike musikante
. Rus sag Piet .

Piet ·

Rus jy nou waar jy is, jou lied Sal ons altyd luster, dankie vir daai vele kere, toe jy was Wie jy is. Sal jou mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.