Hulde gebring aan twee wat in heli-ongeluk sterf

Derek Fitzgerald.

Die twee mans wat Maandag in ’n helikopterongeluk in Durban dood is, sal onthou word vir hul passie en die verskil wat hulle in ander mense se lewens teweeg gebring het.

Richard Morgan, ʼn leerlingvlieënier, en sy vlieginstrukteur, Derek Fitzgerald, is dood toe die Robinson R22-helikopter waarin hulle was Maandag in die Umgenirivier naby die Inandaweg-afrit op die N2 in KwaZulu-Natal beland het.

Die twee mans was albei aan die Starlite Aviation Training Academy verbonde. Die opleidingskool het intussen hulde aan hulle gebring.

Fitzgerald is as ʼn ware heer beskryf wat ʼn passie gehad het vir alles wat hy aangepak het. Hy het “ʼn aansteeklike glimlag gehad en daar was nooit ʼn vervelige oomblik wanneer hy in die omtrek was nie. Derek sal vir altyd onthou word vir sy integriteit, sy sterk geloof in God, sy passie vir vlieg en sy liefde vir sy familie, vriende en kerkgemeenskap.”

Richard Morgan.

Morgan, ʼn pa van vier, was ʼn wellewende mens en het die vermoë gehad om die groot drome wat hy gedroom het waar te maak.

“Hy was een van die seldsame mans wat die vermoë gehad het om mense se lewens te verander.”

Morgan was die medestigter van ʼn tegnologie-onderneming. “Vlieg was sy uitlaatklep en dit is waar hy balans in die lewe gevind het.”

Dit is nog nie duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie. Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat ’n ondersoek na die ongeluk van stapel gestuur is.

“Daar is nie in dié stadium verdere besonderhede oor die ongeluk beskikbaar nie. Nietemin sal ’n voorlopige verslag binne 30 dae uitgereik word,” het Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Astrain ·

My hart is baie seer vir die 2 belowende jong lewens wat weg geraap is :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.