Hulde gebring aan vermoorde treindrywer

Die blomme op die moordtoneel. Foto: Versaf.

Die blomme op die moordtoneel. Foto: Versaf.

Talle passasiers en personeellede van die Premium Express-treindiens het hulde gebring aan die vermoorde treindrywer Piet Botha (46) deur gister en vandag blomme te bring en op die trein te sit wat Botha gereeld bestuur het.

ʼn Passasier wat elke dag met dié trein ry, het dit beskryf as “sy laaste rit saam met ons”. Die blomme sal vanmiddag aan Botha se vrou oorhandig word. Blomme is ook op die moordtoneel geplaas.

Volgens die vakbond Untu het William Steenkamp, ‘n direkteur van die raad van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), intussen Donderdagoggend op Botha se roudiens beloof dat die Netreg-stasie, waar Botha doodgeskiet is, beveilig sal word vir personeel en passasiers om te gebruik.

Steenkamp het glo die belofte aan Botha se weduwee, Tania (42), gemaak. Twee treine met Botha se kollegas en familielede aan boord het vanoggend om 10:00 vanaf die Kaapstad stasie na Netreg vertrek om die roudiens te hou.

Volgens Steenkamp sal die gemeenskap reeds volgende week verwikkelings by dié stasie sien. Binne drie maande sal hy Tania en haar kinders, Nadia (16) en Brendon (19), na Netreg nooi om te kom kyk na die verbeterings wat in herinnering van hulle pa en eggenoot gedoen is.

Maroela Media het vroeër berig Botha is Maandag by die Netreg-stasie beroof en vermoor. Steve Harris, hoofsekretaris van die vakbond Untu, het gesê Botha is twee keer in die kop geskiet. “Botha was besig met ʼn verfrissingskursus op die sentrale lyn en het vir ʼn trein gewag nadat hy van ʼn ander trein afgeklim het, toe hy oorval is.”

Die polisie is in die Wes-Kaap het twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op Botha. Die verdagtes sal later vandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

Blomme op die trein wat Piet Botha bestuur het. Foto: Melanie Rautenbach

Blomme op die trein wat Piet Botha bestuur het. Foto: Melanie Rautenbach

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adeline ·

So bitter onnodig, dis n siek land waarin ons bly! Sterkte vir Piet Botha se familie.

Annemarie ·

Jammer dat daar iemand met sy lewe betaal het voor daar verbeterings op ‘n stasie aangebring sal word. Paragraaf 5

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.