Hulde gebring aan ‘vreedsame, buitengewone mens’

Ludi Vink. Foto: Facebook

Ludi Vink. Foto: Facebook

ʼn Gedenkdiens word vandag in Alberton gehou vir Ludi Vink, die man wat gesterf het nadat hy in ʼn kroeg in Randhart met ʼn potspelstok in die oog gesteek is.

“Almal word genooi om hulde te bring aan hierdie liefdevolle, vreedsame en buitengewone mens,” het Vink se suster, Karla, op haar Facebook-profiel geskryf. Die diens word by die Newmarket Metodiste Kerk gehou.

Karla het Sondag geskryf hoe sy en Vink altyd gesels het oor omgewingsbesoedeling en saam aan idees gedink het om besoedeling hok te slaan. “Maar toe moes iemand jou wegvat. En nou is ek in my woonstel, met net die wete dat dit nooit weer werklik sal wees nie. En ek’s kwaad. En hartseer.”

Blomme in Alberton ter herinnering aan Ludi Vink. Foto: Facebook

Blomme in Alberton ter herinnering aan Ludi Vink. Foto: Facebook

Maroela Media het vroeër berig Vink was saam met sy ma in ʼn kroeg in Randhart toe hy aangeval is. Veiligheidskameras in die kroeg het die voorval vasgevang en die beeldmateriaal is sedertdien op sosiale media gedeel. Op die beeldmateriaal kan gesien word hoe Vink langs die potspeltafel staan en ʼn ander man die potspelstok gryp en Vink in die gesig steek. Vink sak inmekaar en die man draai om en beweeg uit die kameraskoot. Iemand hardloop dan nader en trek die stok uit Vink se gesig voordat hy hulp ontbied.

ʼn Skarefinansieringsinisiatief is intussen van stapel gestuur om Vink se familie met begrafniskoste en ander uitgawes te ondersteun terwyl hulle weg van die werk is om oor Ludi se afsterwe te treur. Volgens die beskrywing op die Go Fund Me-webtuiste het Ludi probeer om ʼn bakleiery tussen twee vreemdelinge in die kroeg stop te sit en sy ma te beskerm toe die voorval gebeur het.

Daniel Jacobus Olivier (52) het homself Vrydag aan die polisie oorgegee in verband met Vink se moord en het Vrydagmiddag in die rondgaande hof in Palm Ridge verskyn. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet weer op 20 April in die hof verskyn.

Lees alle vorige berigte oor Ludi Vink op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

belaglik ·

Ek wil net weet hoe het die beskuldigde borgtog gekry??? duidelik is hy ‘n gevaar vir die samelewing. Skiet iemand per ongeluk op ‘n plaas dood en jy sit maar met jou gat in die tronk, doen iemand opsetlik leed aan en veroorsaak daai persoon se dood dan kan jy maar borg kry, definitief nie ‘n gevaar vir publiek nie. Sterkte vir die familie en vriende… dit is hartseer

Magda ·

Ek wil net weet wat is nou die regte storie eers word gese hyt n fight probeer stop wnt hul wou di eienaar betrek nou is dt wee sy ma was da maar dit maak nie saak wie da was ni dt gee nog ni dai man di reg om hom mt di stok ini oog te steek ni en dan pleeg hy moord kom weg mt r5000 di 2 manne vd doodskis kry tronkstraf di man wat di swarte per ongeluk skiet ini land sit ini tronk en dt was ni mt opset gedoen ni dt was n ongeluk di doodskis man lewe en di 2 sit wnt dis n helse ding en vi n moord kry jy borg hoe de hel werk dt di man moes ni borg gekry ht ni hy moet sit tot hy wee voorkom hys n gevaar vi di samelewing komaan watse geld ht da gepraat dat hy ni tronkstraf kry ni aner pleeh ni moord sit in tronk hy pleeg moord kom uit ma dis hoe dt dees dae gan mt al di moordenaars jul kom weg da mee selfde mt ons plaas moorde hul word ni eers gevang

Skerp Spioen ·

Die belangrikste ding nou is om kalm te bly. Ek ken toevallig die persoon wat betrokke was by hierdie insident en ek kan julle verseker daar is meer hieragter as wat berig word of wat uit die video sigbaar is. Hierdie man is geen wreedaard of sadis nie. Hy is ‘n man, ‘n pa, ‘n broer en ‘n oupa van 3 kleinkinders. Hy het borg gekry omrede hy geen vlugrisiko inhou nie en weens mediese redes omdat hy tans onder behandeling vir kanker is. Die R5000 is nie ‘n straf nie, dit is borgtog. Om te verseker hy verskyn in die hof wanneer hy moet. Eers na afhandeling van die hofsaak sal daar besluit word oor sy skuld en gepaardgaande straf. Ons het mos nou al mooi gesien dat dinge baie selde presies is soos dit lyk. Kom ons wees rustig terwyl die reg sy gang gaan.

Wil net weet ·

As jy n man n pa en n oupa is… is jy veronderstel om n leier te wees. Wat word van ons mens. As dit anders om was hoe sou hy as n man n pa en n oupa reageer. Niks maar niks gee iemand die reg om n ander persoon se lewe te neem nie. Soveel hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.