Hulde ná oud-rugbybaas sterf

Johan Prinsloo. Foto: Facebook

Johan Prinsloo, voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), is Sondag oorlede.

Prinsloo, wat in 1951 gebore is, het sy stryd teen kanker verloor.

“Johan was een van die mees ervare rugby-administrateurs in Suid-Afrika en het ʼn belangrike rol in die organisasie gespeel in die jare voor die Springbokke se 2007-Wêreldbekeroorwinning en die suksesvolle toer van die Britse en Ierse Leeus in 2009,” het Mark Alexander, president van Saru, gesê.

Prinsloo het van 2004 tot 2011 as Saru se uitvoerende hoof gedien voor hy in dieselfde posisie by die SWD Arende gedien en in 2016 afgetree het.

“Voor sy Saru-diensfase was Johan betrokke by die Goue Leeus-Rugbyunie waar hy ook sy stempel afgedruk het.

“Tydens sy Johannesburg-tydperk het hy ʼn groot rol gespeel in die suksesvolle aanbieding van die 1995-Wêreldbeker in Suid-Afrika.”

Volgens Alexander sal Prinsloo onthou word as iemand wat die sport nederig gedien het, asook met ʼn begeerte om altyd konsensus te vind en oplossings te soek.

“Hy het homself nooit voor die spel geplaas nie en het altyd beleefd en met ʼn glimlag gelei.”

Die Goue Leeus-Rugbyunie het gesê Prinsloo was ʼn groot deel van die geskiedenis van die Leeus in die Transvaal-jare.

“Ons salueer hom vir die man wat hy was en die waarde wat hy toegevoeg het tot die spel waarvoor ons almal so lief is.”

Die SWD Arende het ook hulde aan Prinsloo gebring. “Woorde ontbreek ons in dié tyd. Rus in vrede, oom Joe. Die rugbywêreld sal nooit weer dieselfde sonder jou wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.