Hulde stroom in vir David Dukas

David Dukas (Foto: Facebook)

Aanhangers en vriende in die vermaaklikheidsbedryf het vandag hulde gebring aan die akteur David Dukas wat Dinsdagaand aan ʼn hartaanval gesterf het.

Dukas (51) het in 1994 sy televisiedebuut in Egoli – Plek van Goud gemaak. Dit is die Suid-Afrikaanse sepie wat tot dusver die langste op die klein kassie te sien was.

Hy was ook te sien op talle plaaslike en internasionale produksiestelle, waaronder Invictus, District 9 en die televisiereeks Black Sails asook die kortreeks Trackers, wat op Deon Meyer se spanningsverhaal Spoor gegrond is.

Sy onlangse werk was in die TV-reekse Warrior, Black Beauty en The Cars That Made The World.

Talle Suid-Afrikaners sal Dukas ook sekerlik goed onthou vir sy rol in die sepie 7de Laan as die skurk Matt Atkins, Connie (Quinne Brown Huffman) se eksman, wat haar aangehou het nadat hy Connie maande lank gemanipuleer het. Die rol het hom natuurlik baie kritiek van aanhangers op die hals gehaal.

Die mense wat saam met Dukas gewerk het, onthou hom egter as ʼn ware heer en talentvolle akteur.

“Ek het David baie lanklaas gesien; hy het onlangs na die Kaap verhuis, maar ons was goeie vriende toe hy nog in Johannesburg was. Jy het altyd goed gevoel wanneer jy saam met hom was. Hy was altyd baie professioneel,” het die akteur en regisseur André Stoltz aan Maroela Media gesê.

Stoltz het gesê Dukas het die soort glimlag gehad waar elkeen van sy gesigspiere saamgewerk het om in ʼn soort vreugde van sonlig te ontpop. ʼn Beskrywing wat baie mense op Facebook oor Dukas beaam het.

Keeno L Hector, akteur en stemkunstenaar, het op sy beurt op Facebook geskryf dat hy nog sukkel om die nuus van Dukas se dood te verwerk. “Sy sin vir humor was altyd gepas, dit was wonderlik om saam met hom te werk en hy het ʼn lig in elke spasie gebring waar hy was. Rus in vrede, jy gaan beslis gemis word.”

Thomene Dilley het gesê haar hart is stukkend oor die nuus van Dukas se afsterwe. “Jy het die vriendelikste hart gehad, altyd tyd vir almal gemaak en jy kon berge met jou warm glimlag versit.”

Dukas is op 30 Mei 1970 in Virginia in die Vrystaat gebore. Hy het in 1988 gematrikuleer en ʼn hoër nasionale diploma in drama aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, toe nog die Pretoria Technikon se skool vir die uitvoerende kunste voltooi. Dukas het op die verhoog begin werk as ʼn vryskut-akteur vir die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Truk) voor hy by die Egoli-span aangesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karina ·

Nog ‘n talentvolle Suid Afrikaanse akteur afgestaan aan die dood. Sterkte en simpatie aan familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.