Hulde stroom in vir SA se eie ‘Mama Country’

Sally Vaughn. (Foto: Verskaf.)

Huldeblyke het uit alle oorde ingestroom vir die countrylegende Sally Vaughn wat plaaslik as “Mama Country” bekendgestaan het.

Sally (77) is laat Dinsdagaand in Richmond, Virginia in die VSA, rustig in haar slaap dood nadat sy twee weke gelede skielik weer siek geword het en daar in ʼn hospitaal opgeneem is. Sy het die afgelope 18 maande in die VSA saam met haar oudste dogter Elizabeth Arnold gewoon.

Aanhangers sal Sally veral onthou vir haar treffers “Glory Glory Hallelujah” en “Somewhere Between” waarvoor sy telkens ʼn staande applous ontvang het as sy voor Amerikaanse gehore opgetree het.

Sally het ook in 1989 saam met Lance James, Clive Bruce, Billy Forrest en Joanna Field die gewilde groep Over the Hillbillies begin en het vyf albums uitgereik. Dit is ook James wat haar die bynaam “Mama Country” gegee het.

Pierre De Charmoy, Sally Vaughn, Lance James en Bobby Angel. (Foto: Verskaf.)

Lee Vaughn, haar susterskind wat self ook ʼn countrysanger is, het aan Maroela Media gesê hy sal sy tante altyd onthou vir haar uitstekende sin vir humor en haar manier om eerlik en reguit te wees.

“Sy het ʼn ding altyd gesê net soos sy hom sien. Ná ek my debuutalbum in 2009 uitgereik het, het sy gesê sy gaan nie saam met my ʼn duet opneem nie want ek moet eers my eie naam in eie reg in dié bedryf vestig. My loopbaan moenie gebou wees op die feit dat ons twee familie is nie.”

Lee het wel later twee duette saam met Sally opgeneem wat ook toekennings vir hulle verwerf het.

Mara van der Bergh, wat Sally se dagboek vir 25 jaar bestuur het, beaam ook dat die geliefde countrysangeres ʼn wonderlike vrou, grapjas en eerlike mens was. “Buiten haar ongelooflike stem was sy ook ʼn moeder vir baie mense. Sally was iemand op wie se skouer jy kon gaan huil en sy het altyd wyse raad met jonger sangers gedeel.

“Namens al die countrylegendes en vriende wil ek aan Sally se familie dankie sê dat sy vir soveel jare ook deel van ons kunstenaarfamilie kon wees.”

Sally het etlike jare met haar gesondheid gesukkel en het net sowat 20% van haar hartfunksie gehad. Van der Bergh sê die sangeres het egter weer die laaste twee jaar begin optree. “Sy het altyd gesê sy sou eerder op die verhoog wou sterf as om net stil en alleen by die huis te sit.”

Volgens Lee sal daar ʼn plaaslike gedenkdiens vir Sally gehou word, maar besonderhede vir die diens is in die stadium nog nie bekend nie.

Sally Vaugh sal altyd “Mama Country” bly vir al die aanhangers van countrymusiek. (Foto: Verskaf.)

Meer oor Sally Vaughn:

  • Sally het in 1983 SARIE se prys as die beste vroulike sanger vir haar liedjies “The Teddy Bear Song” en “With You” van haar album Mama Country
  • Sy het in 1984 in Nashville, Tennessee in die VSA, by die jaarlikse country-musiektoekennings opgetree waar sy ʼn staande applous vir haar weergawe van die liedjies “Glory, Glory Hallelujah” en “Somewhere Between” ontvang het.
  • Sally het in 2016 ʼn prys ontvang vir haar lewenslange bydrae tot countrymusiek. Frans Swart, die uitvoerende hoof van Lefra-produksies, het die prys aan haar in die teenwoordigheid van Lance James oorhandig.
  • Van Sally se ander treffes sluit “Cryin’ My Heart Out Over You”, “Your Old Love Letters”, “Special Angel”, “A Simple Goodbye” en “Piece Of My Heart”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Sjoe kry ek nou die Blues van onthou. Sally was ongelooflik en jip sy sal die Mama bly. Sterkte aan haar familie.

FM

En so raak die gewildes weg en die onthou meer en goed

Janine

Ons het groot geword met o.a. hierdie fantastiese Country sangeres se musiek. My innige simpatie aan haar familie en vriende! RIV!

Einstein

O aarde! Nog ‘n goue stem stil geword… ai