Hulde stroom steeds in vir Chester Williams

Chester Williams. Foto: ANA/Michael Sherman

Huldeblyke stroom steeds in vir die Springboklegende Chester Williams wat Vrydag in die ouderdom van 49 dood is.

Talle huidige en voormalige rugbyspelers, die regering en lede van die publiek het hulde aan Williams gebring.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het gesê die land het ʼn ware pionier van Suid-Afrikaanse rugby verloor.

“Sy heldhaftige optredes as Springbokspeler sal vir altyd in ons gedagtes en harte vasgevang bly. Dit het die drome van ʼn generasie spelers versterk wat later in sy voetspore sou volg.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Williams geloof vir die buitengewone prestasies wat hy behaal het voordat sy lewe kortgeknip is.

“Sy dood op hierdie vroeë ouderdom het alle Suid-Afrikaners beroof van ʼn rugbyheld en ʼn nasionale rolmodel wat nog baie gehad het om te bied vir sy sport en sy land,” het Ramaphosa gesê.

Talle huidige en voormalige rugbyspelers was dit ook eens dat Williams ʼn legende was.

“Held van my kinderdae. Ek kan dit steeds nie glo nie,” het JP Pietersen gesê. Gio Aplon het gesê daar is nie woorde om sy hartseer te beskryf nie.

Toks van der Linde het gesê hy het ʼn spanmaat verloor. Volgens Kobus Wiese is Williams se dood ʼn verlies vir rugby én die land. “Talentvolle speler, gesinsman, geliefd in die gemeenskap. Ons harte bloei. Mooi loop my broer.”

Breyton Paulse het Williams as ʼn ikoon beskryf en sy medelye met Williams se vrou, Maria, en kinders uitgespreek.

“ʼn Inspirasie en groter as die lewe self op soveel maniere,”  het Bryan Habana laat hoor. “Ons ’95-broer en spanmaat. ʼn Ware heer en fantastiese speler wat te jonk heengegaan het,” het Joel Stransky gesê.

WP Rugby het aangekondig dat hy die naweek ʼn minuut van stilte sal hou voor alle rugbywedstryde in die Wes-Kaap om hulde te bring aan Williams wat tussen 1991 en 1998 63 wedstryde vir dié span gespeel het.

Zelt Marais, president van WP Rugby, het gesê Williams het so homself onbaatsugtig gegee en dat hy ʼn ikoon van rugby was.

Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het ook hulde aan Williams gebring. “’n Simbool van die reënboognasie. Chester se naam sal vir altyd ʼn merkwaardige en transformerende 1995-Wêreldbeker-rugbytoernooi in herinnering roep. Ons het ʼn wonderlike, innemende man heeltemal te gou verloor.”

Die All Blacks het gesê Williams was ʼn ikoon in die rugbywêreld. “Hy was ʼn fel teenstander van die All Blacks op die veld en ʼn vriend van die veld af. Hy sal gemis word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Rus sag Chester. Jy het ongelooflik baie gedoen vir ons land.

Kas ·

Behalwe rassisme geskreeu na 1995.Hy sou die regering help om rassisme uit te roeiWaar het die Universireit van Wes Kaap ge-eindig tydens die varsitycup.Hy was mos die afrigter of hoe..Hy het my negative gemaak met sy uitlatings oor rassisme.

Hendrik van George ·

Chester se suster het ook ‘n hartaanval gehad die week, maar sy het dit oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.