Huldeblyk aan die omroeper Francois van Heyningen


Francois-van-Heyningen

Die omroeper Francois van Heyningen is Woensdagaand oorlede. Foto: Pipstories.co.za

Die oud-omroeper van Springbok Radio, sanger, skrywer en akteur, Francois van Heyningen, is Woensdagaand in die ouderdom van 80 oorlede.

Hy is op 23 Mei 1935 in Theunissen in die Vrystaat gebore en het in Bultfontein, ook in die Vrystaat, op ʼn plaas grootgeword, waarna hy by die SAUK in Bloemfontein begin werk het.

Hy het bekendheid op verskeie gebiede verwerf en onder meer rolle in die rolprente Die Banneling, Zebra, Sien jou môre, Dr. Kalie en Hoor my lied in die 1960’s en 1970’s vertolk. Verder het hy ook die hoofrol in die oorgeklankte televisiedrama Die meisie van Avignon vertolk.

Francois was ook meer as 40 jaar betrokke by radio as omroeper-regisseur en het Springbok Radio se drama-departement bestuur. Hy het meer as 12 radioverhale met meer as 1 800 episodes geskryf, waaronder Agent nul-dubbel-nul-ag, Huis Vergeet my nie en Kringloop van die lewe. Die geestelike boek, Hoe om suksesvol te lewe, het ook uit sy pen verskyn.

Meer onlangs was hy betrokke by Radio Pretoria sedert 1999 waar hy en sy vrou, Lucille, vir ongeveer tien jaar ʼn program aangebied het waarin musiek van weleer gespeel is.

Francois was getroud met die bekende sopraan, Lucille Ackerman, en het sedert 2005 in Somerset-Wes gewoon. Die egpaar het sewe kinders en 11 kleinkinders.

Sy seun, Charl van Heyningen, ʼn musiekpromotor en die direkteur van die sentrum van musiek aan die Universiteit van Stellenbosch, het vir Marelize Maré van Pretoria FM vertel wat tot sy pa se afsterwe gelei het. Luister ook na die klankgreep bo aan die berig waar Charl vertel watter soort mens sy pa was.

  • Die begrafnisreëlings sal later bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JPN ·

As kind het ek vasgenaal voor die radio gesit om na Steenberg in ongewenste vreemdeling te luister. Nog ‘n hoogtepunt was “My liedjie van verlange”. My dag was gemaak toe hy en Lucille by ons Laerskool kom optree het. Sterkte aan sy familie.

Suzette ·

Ai JPN ons sit mt dieselfde gedagtes die betrokke radio verhale het ek nooit gemis nie. Was ook bevoorreg om hom en Lucille se optrede by Laerskool President in Primrose te kon sien. Waar tog is daardie tyd heen ne. RIP Francois en baie sterkte aan sy familie

Peet Schabort ·

Ook ek en my vrou het die voorreg gehad om Francois te ontmoet. Opvallend was sy rustige en innemende persoonlikheid wat jou dadelik laat tuis voel het in sy geselskap. Hy laat voorwaar ‘n onuitwisbare stempel agter op verskeie vlakke van ons kultuur.
Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.