Huldeblyke stroom in ná 4 duikers saam sterf

Colwin Setzkorn. Foto: Facebook

Huldeblyke stroom in op sosiale media nadat vier duikers van ʼn Johannesburgse skubaduikklub die afgelope naweek in ʼn trompop botsing gesterf het.

Die ongeluk het Sondag naby Pongola in KwaZulu-Natal plaasgevind toe die vier oorledenes se voertuig reg van voor met ʼn vragmotor gebots het. Colwin Setzkorn, Melani Cilliers, Marie Snyman en Matthew Baartman het in die ongeluk gesterf.

Setzkorn was die eienaar van Scubaversity in Roodepoort wat hy saam met sy lewensmaat, Mandy Zietsman, bedryf het. Cilliers was ʼn bestuurder by die klub. Sy was verloof aan Snyman, wat ook ʼn lid van die skubaduikklub was. Baartman was ʼn professionele duikinstrukteur.

Die groep was op pad terug van Mosambiek toe die ongeluk gebeur het. Cilliers het nog Donderdag op haar Facebook-profiel aangekondig dat hulle in Mosambiek gearriveer het en dat hulle “tonne walvisse” gesien het.

Zietsman het Dinsdag in ʼn plasing op Scubaversity se Facebook-blad gesê sy probeer nog tot haar sinne kom ná die tragiese voorval. “Sjoe, wat sê mens? Die verlies is te vernietigend om te begryp. Dankie vir elke liewe boodskap, oproep, WhatsApp en besoek – ek probeer nog asem skep en sal probeer om te antwoord. Weet net dat dit nie ongesiens verbygaan nie en die wêreld beteken vir my en al die ander families betrokke. Ons voel so geliefd en dit help om ons gebreekte harte te genees,” het sy geskryf.

Melani Cilliers. Foto: Facebook

Intussen het huldeblyke ingestroom en talle mense het medelye, herinneringe en boodskappe van ondersteuning gedeel. “Vir al die lag, geluk en vreugde wat julle met ons gedeel het, die nimmereindigende herinneringe wat ons saam gemaak het – ons sal glimlag elke keer wanneer ons julle name hoor, want julle het ons lewens verander en ons die mense gemaak wat ons vandag is,” het Kgomotso Motlhako KingNdori geskryf.

“Colin, jy was ʼn ware inspirasie en ʼn rolmodel vir so baie. Jy het talle lewens aangeraak en die passie van hierdie pragtige sport van ons in ander aangewakker. Jy sal diep gemis word,” het Gideon Malan geskryf.

ʼn Gedenkgeleentheid vir Setzkorn, Cilliers, Snyman en Baartman sal Vrydag by Scubaversity gehou word. Volgens Zietsman sal die geleentheid gebruik word om “te praat, te lag en spesiale oomblikke te deel”.

“Ons sal hulle onthou en die geleentheid hanteer asof hulle nog tussen ons is en so hulle ʼn kans gee om die onvergeetlikste afskeid ooit te hê.”

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Amanda ·

Verskriklike verlies, so baie jammer. Het ook in 2000 byna gesterf in trompop botsing vanaf Mosambiek…dodelike pad daardie!

SA is a gevaarlike plek ·

Hierdie afsterwes is baie tragies. Innige meegevoel aan die naasbestaandes.

Dit is ‘n groot risiko om ‘n padgebruiker in Suid-Afrika te wees. Padreëls word grotendeels en die meeste van die tye verontagsaam en nie nagekom nie. As dit nie die ongelukke is wat so baie lewens eis nie is dit al die koelbloedige moorde.

In ieder geval baie sterkte en voospoed aan almal wat nog lewendig is in SA.

Jan Seerot ·

Ek het saam met Scubaversity se studente gekwalifiseer. Later het hierdie mense my gehelp met my eie studente. Hierdie is ‘n groot verlies vir die duikgemeenskap.
Leef elke dag voluit. Leef jou droom.

Koos de Meyer. ·

Ons is Sondag daar verby op pad na Richardsbaai. Dit was afgryslik, die mense was nog in die voertuig vasgekeer. Die groot acid vragmotor het aan die regterkant van die pad gestaan heeltemal aan die verkeerde kant van die pad. Onskuldige mense word deur roekelose bestuurders dood gemaak. So hartseer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.