Huldeblyke stroom in ná bekroonde digter sterf

Prof. Keorapetse William Kgositsile, meer bekend as Bra Willie. Foto: ANA

Huldeblyke het Woensdag ingestroom ná die afsterwe van die bekende digter en politieke aktivis, prof. Keorapetse William Kgositsile, meer bekend as Bra Willie.

Kgositsile het Woensdag in die ouderdom van 79 gesterf.

Die parlement het in ʼn verklaring hulde gebring aan Kgositsile en gesê hy het homself dwarsdeur sy lewe onderskei as ʼn akademikus, uitstekende digter en aktivis vir vryheid en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika. Kgositsile is in 1938 in Johannesburg gebore, maar het baie jare in ballingskap in verskeie lande in die wêreld deurgebring.

“Deur sy skerp en progressiewe pen het hy bygedra om die onderdrukkende kombers van die apartheidstelsel oop te sny en om die gees van bevryding te laat brand in hierdie land en in die buiteland,” lui die verklaring.

“Die wêreld, die Afrika-kontinent en ons nasie het hom vir sy bydraes vereer met talle literêre toekennings, insluitend die nasionale Ikhamanga-toekenning wat hy in 2008 ontvang het vir sy uitstekende prestasie in die veld van literatuur, en dat hy sy uitsonderlike talente gebruik het om die euwels van die apartheidstelsel aan die res van die wêreld te ontbloot.”

Die parlement het verder gesê Kgositsile se nalatenskap sal voortleef om ander te inspireer om kultuur aan te wend vir die ontwikkeling van die mense van Suid-Afrika.

Die ANC het op sy beurt in ʼn verklaring gesê die huldeblyke wat van reg oor die wêreld instroom ná Kgositsile se dood, is aanduidend van die ingrypende invloed wat sy werk op jonk en oud gehad het. “Comrade Kgositsile het ʼn onuitwisbare merk gelaat op die kulturele en artistieke lewe nie net van sy geboorteland nie, maar ook in Tanzanië, Kenia, Botswana, Zambië en Harlem in New York,” het die party gesê.

Kgositsile was een van die stigterslede van die ANC se departement van onderwys in 1977 en die departement van kuns en kultuur in 1983. “Die tapisserie van die Suid-Afrikaanse kultuurlewe is armer ná sy afsterwe en die ANC sluit by alle Suid-Afrikaners aan wat rou oor die verlies van hierdie groot man.”

Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSALB) het in ʼn verklaring gesê Kgositsile se dood is nie net ʼn verlies vir die kunste en tale nie, maar vir die land as ʼn geheel. “Bra Willie was nie net bekend as ʼn politieke aktivis nie, maar was ook ʼn kader van die taalbeweging wat grootliks en positief bygedra het tot die bevordering, bewaring en beskerming van tale deur kuns,” het die taalraad gesê.

Pres. Jacob Zuma het Woensdag ook in ʼn verklaring aan Kgositsile hulde gebring en gesê hy was baie hartseer om van die “bekroonde en hoogs gerespekteerde outeur, digter en reus van die vryheidstryd” se afsterwe te hoor.

“Ons land treur oor die heengaan van een van die reuse van ons vryheidstryd, wat bekend was vir sy prestasies in die onderwys-, kunste- en kultuursektore. Ons betuig ons innige medelye met sy familie. Mag sy siel in vrede rus,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HELP 'n BIETJIE daar ·

AG ASB TOG —- steeds die ONDERDRUKKENDE KOMBERS VAN APARTHEID, die hemele weet wanneer gaan hierdie verwysings na apartheid nou einde kry? Wanneer gaan apartheid ophou om as verskoning gebruik te word vir wangedrag en as aanhitsing vir geweld teen blankes? Ek sien gister ‘n video van die WREEDSTE slawerny in LIBIE, waar is AMERIKA en CHARLIZE Theron en Engeland en alle Europese lande nou wat al die jare teen apartheid geveg het? Morgan Freeman en diegene wat Trump so haat? Nee apartheid was nie reg nie MAAR DIS VERBY, get over it. Gaan skenk nou aandag aan menseregtevergrype in Arabiese lande, in Noord Afrika en die SLAWERNY kwessie in LIBIE .. SA gaan nooit heel word solank elke ou op TV die woord APARTHEID voorgooi en steeds daarna verwys om VERDEELDHEID te saai nie!! En los maar die ou ‘previously disadvangaged” storie ook, ek sien almal rek dit uit tot hulle voordeel, na 24 jaar moes al hierdie woorde al gelos is waar dit hoort . IN DIE VERLEDE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.