Huldeblyke stroom in ná matrikulant, gesin sterf

Cindy (50), Terrance (56) en Iziah Kagande (14) en Cindy se dogter, Jade Leonard (17) is Donderdag in Bloemfontein dood. (Foto: Facebook)

Huldeblyke stroom in ná die dood van vier gesinslede in Bloemfontein, onder wie twee tieners van onderskeidelik 17 en 14 jaar oud. Daar is egter nog geen duidelikheid oor wat presies tot die tragedie gelei het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die gesin, wat intussen as Cindy (50), Terrance (56) en Iziah Kagande (14) en Cindy se dogter, Jade Leonard (17), geïdentifiseer is, Donderdag vroegoggend dood in hul woonstel in Victoriaweg aangetref is nadat ’n brand daar ontstaan het.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het vroeër bevestig dat die liggame ontdek is nadat nooddienste die vlamme geblus het.

Volgens Mbambo het die man en vrou geen sigbare beserings gehad nie terwyl die twee tieners steekwonde aan hul liggame en snywonde aan die keel gehad het. ’n Voorlopige ondersoek dui ook daarop dat daar geen gedwonge toegang tot die woonstel was nie.

Jade was ’n gr. 12-leerder aan die Eunice High School in die stad. Die skool het dié foto en boodskap op hulle Facebook-blad gedeel. (Foto: Facebook)

Mbambo het ook gesê dat ’n saak van moord en brandstigting tans ondersoek word terwyl ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Luidens berigte het Jade, ’n matriekleerder aan die Eunice High School, glo voor haar dood uit die woonstel gekom, vermoedelik om hulp te gaan soek. Sy het egter inmekaargesak en gesterf.

Mbambo kon dit egter nie by navraag aan Maroela Media bevestig nie aangesien die polisie tans nog onderhoude met ooggetuies voer.

“Die ondersoek duur voort en geen verdere inligting kan in dié stadium bekendgemaak word nie.

“Ons wag tans ook nog op die uitslag van die nadoodse ondersoek en die verslag van die forensiese span,” sê Mbambo.

Die Eunice High School het Donderdag ’n foto van Jade op sy Facebook-blad gedeel en gesê dat haar “skielike en onverwagse dood” die skoolgemeenskap in rou gedompel het.

“Ons harte gaan uit aan haar familie gedurende hierdie moeilike tyd.”

Die woonstel in Bloemfontein waar die gesinslede dood aangetref is. (Foto: SAPD)

Verskeie ander mense het ook hulle medelye op dié blad betoon.

“Dis altyd hartseer om van die afsterwe van so ’n jong meisie te hoor,” lui een van die boodskappe.

Nog ’n vrou skryf dat sy Cindy en Terrance, glo kliënte van haar, altyd as vriendelik en beleefd ervaar het. “Hulle het altyd geglimlag, veral die pa. Altyd gereed om te groet en skoolgeselsies aan te knoop. Ek kan dit nie glo nie. Rus in vrede.”

Nog ’n gebruiker sê daar is niks so hartseer soos wanneer die lewe van twee leerders op so ’n jong ouderdom kortgeknip word nie.

“Die hele gesin is dood en ons bid dat die Here vertroosting aan hulle naasbestaandes sal bring,” lui nog ’n boodskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Naomi ·

Vreeslik dat mens so tot jou einde moet kom nog so jonk en jou lewe word kort geknip… Mag ons Hemelse Vader ook daar vertroosting bring vir die naas bestaandes….Rus in Vrede

Belinda ·

ai shame, rus in vrede familie. dis baie erg om so hele gesin uitgewis te sien…

Stoffeltjie ·

Dit is ongelooflik tragies. Hulle lyk na ‘n pragtige gesin.

Anoniem ·

Dit is en bly verskriklik. Indien iemand verantwoordelik is vir hierdie tragiese gebeurtenis, hoop ek hy gaan aan die pen ry.

LANA is ELANè ·

Net te hartseer, RIV en sterkte aan vriende en geliefdes.

Robert ·

Verskriklike tyding.
Maar ie is die siek persoon wat duime afgooi?

Cherokee ·

Hê hê Erik, jy is raak gesien! Ek sal direk hierna aan Maroela vra waaròm dit verdra word. As my kommentaar nie verskyn nie, weet maar dit is ‘gesensor’.

Ellie ·

Seker dieselfde persoon wat alewig by almal ‘n af duimpie gee!

Catantho ·

Heel moontlik n lafaard, n rassis en vroueslaner. Die tipe wat alles agteraf doen en staatmaak op anonimiteit.

isabelle ·

sulke mooi gesin wat so sag en liefdevol lyk……..Soms is daar nie woorde nie maar God slaap nie en dit gee my troos Mag jul rus in vrede :(

Cherokee ·

Maroela Media, die gereelde duim-affer by ieder en elke berig is bekend aan julle. Ons wil nie weet wiè dit is nie nie, maar slegs waarom julle dit verdra. Kyk na die Godsdienstige artikels, (ja hoofleter G, want ons praat Christelik) en sien die afduime dààr! Dit blyk ‘n ateïstiese leser te wees, wat om vreende redes deur julle verdra word. BLOK DIT ASSEBLIEF!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.